Weerkaatsing in bergpoel

Die jaar 2013 verdwyn binne dae in die niet. Preteritus absentis. Ons sal dit nooit weer kan ervaar nie, nooit weer die  mooi oomblikke kan herleef nie, behalwe in die weerkaatsing van die geheuepoel. Dit is te sê as dit windstil in ons gemoed is.

Ek sit op ‘n rots en kyk neer op ‘n diep bergpoel, waar wit wolke teen asuurblou lug stadig verbysweef. Daar is ‘n magnetisme op die water opperlak wat my gevange hou. Niks verhoed my om op my rug te lê en net direk na die hemel te staar nie. Ek sou dit weliswaar gedoen het as ek op enige ander plek was, maar ek is nie; ek is ‘n meter bokant hierdie waterspieël. En dit hou ‘n magiese aantrekkingskrag in. Ook ‘n mate van nostalgie, want hier waar ek nou is, is ek alleen. Net ek en my gedagtes. Daar is geen ander geluide as die van die natuur nie: die skaars hoorbare roering van die varings ‘n entjie weg; die lustige gesels van paddatjies iewers langs die watersoom; die fyn murmel van ‘n stroompie wat die watergat vul om net iewers anders uit te sypel. Want uit moet dit weer, anders sou ek nie die vreugde van hierdie weerkaatsing kon geniet nie.

Die rustigheid en die vrede vou om my soos ‘n ragfyn systola. Dis asof ‘n sielsaligheid my van alle kante af bekruip en ek myself wil opkrul om net daarin te bly koester. Ek wil vir ewig net voel soos ek nou voel; sien wat ek nou sien; hoor wat ek nou hoor. Niks meer as dit is nodig nie.

Dan deurboor ‘n ontnugterende besef my heiligheid met ‘n witwarm spies. Die realiteit is dat die belangrikste element wat hierdie prentjie  tot volmaaktheid temper juis die agtergrond van die diep, donkerbruin poel is. Dit kussing die kombinasie van skerp sonlig, blouselblou en skitterwit, sou ek direk daarna kyk.

Opeens is al die betowering weg. Die naakte realiteit neem oor.  Die lewe gee of vra nie waarborge nie. Die grond onder my voete is nie wolke nie. Mense is nie almal engele nie. Die dag staan terug vir die nag; so ook die winter vir somer. Oral balanseer een ding ‘n ander uit.

Daar is nie een mens wat aan die einde van hierdie jaar in alle eerlikheid kan erken dat hy elke dag net geluk gesmaak het nie. Geen mens wat kan sê hy het elke dag gejuig van vreugde nie. Ook nie één wat kan aanspraak maak op drie honderd vyf en sestig probleemvrye dae nie.  Nie met die ekonomie en politiek in die toestand waarin dit verkeer nie. Nog minder met mense se onverdraagsaamheid, afguns en soeke na eie belang, soos wat man teenoor vrou, kind teenoor ouer  en sakeman teenoor kliënt met mekaar omgaan nie. 

Die tradisie van die viering van Oujaar en Nuwejaar het sy ontstaan te danke aan Julius Caeser, wat besluit het dat die jaar in Januarie moet begin. Hiermee het hy die Romeinse God Janus vereer. En Janus was ‘n man met twee gesigte – een het vorentoe gekyk en die ander het agtertoe gekyk. Elkeen van ons is met die jaarwending ‘n Janus, want ons besin oor dit wat ons verloor het of doelwitte wat ons nie bereik het nie in die  jaar wat verby is. In die binnekompartement van ons gewete – want ons uiter nie Nuwejaarsvoornemens nie, net vir ingeval – maak ons tog maar ‘n paar beloftes aan onsself, kyk vorentoe met opregte bedoelings. Dan is daar natuurlik die ander tipe Janus ook: die wat  so hard feesvier dat hy in elk geval oë reg rondom sy kop het.

Wat die afgelope jaar ons ook al toegedien het: ‘n lanferlap, bos geurige lelies, brood in die plek van beeshaas, ‘n bootreis of ‘n fiets wat nie brandstof nodig het nie, solank as wat ons die ou jaar met die nuwe jaar kan verwissel, laat ons ootmoedig “Dankie” sê. Vir die lewe.

Mag elke leser in 2014 die weerkaatsing in ‘n bergpoel vind. Mag die sagtheid van die prentjie soos sy op jou kom lê en mag jy onthou dat dit nie so sou gewees het sonder die donker dieptes om die skreiende glans daarvan te temper nie.

Carine Badenhorst