Om te wees moet jy wil

Om te wees moet jy wil

GansbaaiCourant WhatsApp Nuus / News

Daar is min dinge so irriterend as ‘n klein hondjie wat op ‘n mens se voertuig afpeil as jy in die straat ry. Ek weet nooit waar die dingetjie hom bevind nie. Kan hy so manhaftig wees om na die wiele te byt? Sien hy soos ‘n Dawid van ouds kans om met sy slingervel reg voor die voertuig stelling in te neem?  Is hy voor, langs, agter of onder die motor? Stilhou is nie ‘n opsie nie, want dan raak ek nooit van hom ontslae nie. Wat dan nou as ek wel van hom ontslae raak – met ‘n dowwe plof en ‘n onaardse getjank? Dit wil ek tog nie op my gewete hê nie.

Dan sien ek enetjie wat dieselfde maneuver uitvoer wanneer ‘n vragmotor in die straat verbykom en  dit spreek in ‘n ander taal tot my. Ek weet nie hoe ‘n hondjie se kop werk nie, maar hy vertel my sonder omhaal van woorde hoe mense se koppe werk. Nie alle mense is gebore met die moed en dryfkrag van ‘n klein hondjie nie, dis vir seker. Dan weer, bevlieg nie alle klein hondjies massiewe, bewegende vragmotors nie.

Elke mens moet ‘n droom, ‘n ideaal, ‘n koers hê, so sê “hulle”. Dit hoor mens gewoonlik die meeste tydens jou matriekjaar en dit is die hoofgedagte van elke skoolhoof se toespraak tydens die veertig-dae-afsluiting van matrieks se skoolloopbaan. Die waarheid is dat twee persent van ‘n matriekklas weet wat daardie ideaal is wat hulle gaan nastreef. Dit is gewoonlik hulle wie se ouers in die finansiele posisie is om  hulle te rugsteun in die proses. Ander is nog so opgewonde om uiteindelik die skooluniform te kan wegpak, dat die  toekoms nie verder strek as die matrieknaweek en die lang,  soms onbesonne vakansie wat wag nie.

Nog ‘n groepie móét eers ‘n oorbruggingsjaar in die buiteland gaan doen om te kan besluit wat hulle regtig wil doen, of om hul eie fondse te gaan opbou om hul ideaal, sou hulle dit anderkant die water vind, te kan finansier. Van hulle kom terug as gekwalifiseerde vakmanne en vroue terwyl ander leër as ‘n droë rivierloop terugkom: geen geld, geen opleiding, geen aspirasies. Net die songebakte klippe van herinneringe aan ‘n lekker tyd.

Dis egter die matrieks wie se lewensideaal niks meer as ‘n raaisel in ‘n spieël bly nie, met wie ek empatie het, want daarvan het ek eerstehandse ondervinding.

Gelukkig het tye so verander dat daar baie meer geleenthede vir diesulkes bestaan as in my tyd. Staatsdepartemente en banke is, danksy die nuwe bedeling, meer oophandig met finansiering en gesubsidieerde opleiding. Of dit vir almal ewe toeganklik is, is egter ‘n ander vraag.

Toe my eie kinders ‘n paar jaar gelede ‘n besigheid wou begin en met ‘n sakeplan, begroting, kontantvloeistate en hul albei se beleggingsportefeuljes – wat op daardie stadium nogal heel sterk was – na ‘n bank gaan, was dit ‘n fiasko. ‘n Konsultant kanselleer al hulle ses jaar oue  polisse en skryf nuwes met nuwe beloftes waarvan  niks realiseer het nie. Behalwe natuurlik die verswygde voordeel wat hyself daaruit getrek het. Na ‘n marathon klimtol speletjie, wou die bank eintlik net één vorm van sekuriteit hê: ‘n huis wat hulle kon terugneem, sou dit nodig raak.

In dieselfde tyd kom ‘n man my werkplek binnegestap en vra of ek groot asseblief en baie dringend vir hom ‘n dokument kan tik wat hy vir dieselfde bank benodig ten einde sy finansiering vir ‘n eie besigheid te  finaliseer. Hulle wag nog net vir daardie dokument voordat hulle die geld in sy nuwe rekening stort.

Tydens die tikkery, met my oë op die dokument, vra ek hom van A tot Z uit oor sy proses. Hy het geen sekuriteit van enige aard nie. Nie eens ‘n vaste inkomste nie, want hy het “niks” gedoen nie, maar daardie “niks” het nou te gevaarlik geword om te doen. Die staat gee vir hom die nodige sekuriteit om ‘n bakkie te koop, sowel as vir die duisende rande wat hy benodig om sy besigheid mee te begin.

Die hondjie se kop begin vir my sin maak. Hy weet daar is iets bo-op daardie vragmotor. Iets wat na sous ruik. En sy ideaal is om bo-op te kom.

Carine Badenhorst

Om te wees moet jy wil

Carine Badenhorst

Exciting news! GansbaaiCourant no longer publishes on paper, but distributes news and advertisements via the GansbaaiCourant WhatsApp news group to a readership of 2179 and growing! Join our group today to stay up to date with the latest happenings in Gansbaai and surrounds. Cost: R300 fo...

View Profile

What is Xplorio?

Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.

Watch the Gansbaai Video
Read More

Other Articles

Florilegium Developing Story

Florilegium Developing Story

These images tell a story that we plan to share using botanical art.

Grootbos Foundation
Overstrand Tourism Diary: 22 - 27 April 2026

Overstrand Tourism Diary: 22 - 27 April 2026

Here’s the latest Overstrand Tourism Diary!

Gansbaai Tourism
Gans-Berg News - 24 April 2026

Gans-Berg News - 24 April 2026

This week’s edition of Gans-Berg News brings you the stories shaping our community.

Gans-Berg Nuus / News
Rescue on the Move

Rescue on the Move

Every rescue begins with a journey.

BARC Animal Welfare
Grootbos Foundation Conservation Volunteer Experience

Grootbos Foundation Conservation Volunteer Experience

Volunteer Hamish Philipson has been with the Grootbos Foundation for the past two weeks to learn more about the work of the Grootbos Foundation.

Grootbos Foundation
When Inner Worth Meets Outer Reality

When Inner Worth Meets Outer Reality

It is about the gap between what we expect externally…

See All Articles