One More Kersete 2013

Dis warm - en dit nadat ek heelweek gebid het: “Asseblief Here, laat dit net koel wees asseblief!” Hierdie jaar is ons gereed, kratte vir die foamalite houers, die bakkie se agterkant leeg. Die mense kom vroeg al, ek het skaars kantoor oopgesluit of die eerste mense is daar, half onseker “is dit die plek waar mens die kos afgee ……?” “Ja asseblief ja, dis die plek”. Weer eens is ons verstom, oorweldig deur die moeite, die keurige, geurige, pragtige en duidelik, smaaklike OneMore Kersetes wat ons ontvang. Vrugteblokkies, slaaie, vleise - dis alles daar - etes geskik vir ‘n koning.

Toe die eerste twee kratte vol is, vra ek my man ‘waar sal ek eerste uitgee?’ Wat vat die  langste?’ is die teenvraag. Die dorp. Daar ry ek van huis tot huis, van adres tot adres. So ons begin in die dorp. Die mense is vrolik en opgeruimd om te ontvang. Teken graag op die lyntjie. Die een tannie sê “maar ek het dan niks bygedra nie, hoe kan ek ontvang?” Ai Here - roep my hart, ek het ook niks bygedra nie, maar ontvang U genade elke dag. ‘n Ander tannie is besig om haar middagete, ‘n bakkie opgekookte stampmielies, toe ek aanklop. Sy’s bietjie doof en sukkel om te verstaan waaroor dit gaan, maar toe ek maar net eenvoudig die foamalite bakkie uithaal uit die krat en vir haar bring, is sy woordeloos, oë verstom. En ek dink, ai mens, jy wat hierdie foamalite bakkie sorgvuldig ingeskep het, was jy maar hier om dit te beleef …

Terug by die kantoor, is die volgende krat al reg vir verspreiding. Maar iemand het met die leiding van die Heilige Gees, ‘n boks vol toebroodjies, sagte witbrood, vars, individueel verpak, lekker-vulsel-toebroodjies gebring. Vir ‘n oomblik is ek verboureerd. Wat moet ek maak met die toebroodjies? Dan die besef - dis ideal vir Beverley Hills se kindertjies. Ek neem die volgende sarsie na ons Blompark verspreidingspunt. Clara is ‘n voorslag. Sy is reg vir my, met haar helpers om aan te dra. Die straat se kinders ken tannie Clara, want sy bedryf ‘n sopkombuis uit haar huis. Hulle staan alreeds skugter en kyk, wag vir die nader-roep. Vanaand weet ek gaan slaap hulle met vleisie en slaaitjie in hulle magies. Nou’s dit ek en die boks toebroodjies en Beverley Hills. Ek hoef niks te sê nie - gee net. Vra wel ‘waar’s jou boeties en sussies?’ Twee strate - en die boks is leeg. Vuil handjies, skoon handjies, dankie-tannies en blink ogies, laggies en wonder-wat-kom-nog.

Nuus trek vinnig “ek het twee kleintjies by die huis” - “hier’s nog ‘n kleintjie hier!” Ek en Beverley Hills se sand is nie maats nie en ek spin die bakkie teen die opdraentjie. Laaste krat. Pragtige kinders vergesel Ouma’s om keurig versorgde foamalite bakkies af te gee - “dis deel van hulle dankbaar wees vir hul voorregte”. Nou Masakhane. Ons vrywilliger wag my geduldig in. Ek wys vir haar wat ons het, gee lysie vir “teken vir ontvangs”. “Die mens is honger – julle kantoor is toe”. Genadiglik het ek nog enkele Bags of Love. Ek weet sy sal dit reg uitdeel, want haar hart is groter as die hele Masakhane. Daar’s mense met kinders, sonder inkomste. Mense wat daagliks moet pille drink, en dan moet hulle eet, hulle mag nie op ‘n leë maag pille drink nie. “Here - die mens is honger - hoe skreiend die nood …!

Dankie Gansbaai vir 71 OneMore Kersetes. 

BADISA – Gansbaai

Hardus Botha