Vakansie vir Wie

Hulle kom met volgepakte voertuie. Die kindertjies se koppies nouliks onderskeibaar van die poppe s’n, want dié moet ook saamkom. Twee fietse blom oor die agterste buffer.

Agter in die waentjie dop ‘n fietsie uit, hopeloos te groot vir die kleingoed en totaal te klein vir die grootmense, maar dit móét saamkom. Stootwaentjies, een vir elke kind. Popwaentjies, een vir elke kind. Kleinsus het so pas teen goete begin opstaan. In die loop van hierdie vakansie gáán sy begin loop. Só goed dat sy haar eie popwaentjie sal kan stoot. Wee tog dat daar nie ‘n gehuil ontstaan met net een beskikbare waentjie nie. Twee camping cots, alhoewel Ousus reeds aandring op haar eie bed, maar net ingeval sy nie gediend is met die matrassie op die vloer nie.

Die ventertjie dra vrug soos ‘n oordadige appelkoosboom. ‘n Eetstoeltjie wat aan die tafel vashaak; tien pakke doeke en boudelappies; ‘n boks vol melkformule blikke; drie reissakke vol klere vir elke kind; sterilisasie-eenhede vol bababottels; nog ‘n reissak met handdoeke; ‘n smuktassie met medisynes en neussproeie. Die sjampoes en aansmeersels is sommer in ‘n Woolworths-sak, want die koffers het opgeraak. Alles moet plek vind in Oupa en Ouma se seehuis. Wat, terloops, alreeds met amper dieselfe parafernalia van kindervakansie belas is.

Oupa help indra terwyl Ouma navigeer. Gelukkig vir die wendyhuis buite. Die kinders groetlag en stel nefietjies en niggietjies aan mekaar voor asof hulle mekaar nog nooit gesien het  nie. Die ken-mekaar skop goed af. Kleinste niggie stamp grootste nefie se blokkiestoring om. Jerigo se mure begin kantel en stort vinnig in duie onder die gebasuin van honderde trompette. Oupa gly met die boks melkformule op ‘n van-koers-af-trekker. Blikke  melk rol die ganse oopplan vloerspasie vol. Ouma paai in haar allerbeste ingehoue stem, maar dié  versmelt tussen Oupa se stortvloed van warm woorde.

Na ‘n paar ure van ordelike pandemonium, raak dit slaaptyd vir moeë lyfies in ‘n vreemde omgewing. Ounig wil van ‘n matrassie op die vloer niks weet nie; ook nie van ‘n camping cot nie. Nog minder wil sy ‘n dubbelbed met iemand deel. Sy soek haar eie bed. Gelukkig is Oupa en Ouma se groot dubbelbed eintlik twee bedjies en die word geskei om Ounig haar sin te gee. Kleinnig skreeu ten hemele omdat haar camping cot in haar suster se kamer staan. Sy wil haar ma by haar hê.  Al genade vir vrede is dat Pa op die ander bed by Ousus slaap en Ma en Kleinsus die ander kamer deel.

Oupa kyk vir Ouma met ‘n vraagteken. Sy kry hom aan die arm beet– buitentoe. Die reperkussies van die nuwe slaapreëlings het nog geen een van die kinders getref nie: Oupa en Ouma is kooiloos. So taktvol as wat sy kan, oortuig sy vir Oupa dat hulle maar die wendyhuis ontruim en daar intrek. Eers toe Ouma in haar eie kaste begin krap om nagklere, dagklere en toiletware bymekaar te maak, skop die realiteit by een van die Mammas in. “Ag shame. Julle moet nou buite slaap!”  Nee, dit is nie asof ons móét nie, dit is soos wat julle jul kind toelaat om namens ons te besluit waar ons ons hoofde vir die nag sal neerlê.

Die volgende dag kom Ouboet, sy vrou en sy twee tienderjariges, wat wyslik besluit het om nie ook nog op Oupa-hulle te kom toesak nie, soos Vader Krismisse aan: sakke oor die skouers. Wasgoed, want Ouma het gesê hulle kan haar wasmasjien gebruik. Met die eerste wasgoed in die masjien, kondig hulle aan dat hulle “gou” ingaan dorp toe. Dis hul derde dag in die karavaankamp, maar drie weke se wasgoed lê die waskamer se vloer vol. Hulle kom eers laatmiddag terug, vind hul wasgoed netjies opgevou en gesorteer op die eetkamertafel. Die rooigebrande tieners wil gou eers hier stort, want die tou is hierdie tyd ongenadig lank by die kamp se ablusieblokke soos wat almal regmaak vir die aand.

Ouma spin soos ‘n tol in die kombuis, weet nie meer waar sy moet vat of los nie. Te midde van wil-nie-gaan-bad-gille en afknou-huile hoor niemand as Oupa nog ‘n whiskybottel se prop oopkraak nie.

Teen slaaptyd, in die wendyhuis, is hy skeefgeslaan-ernstig: “Volgende week...pak jy die karavaan...dat ons kan gaan vakansie hou.”

Carine Badenhorst