Blikke papiere en satynbande

Toe ek onlangs in die garage afkom op my eerste prysboekie vir Musiek genaamd Die Groot Komponiste, spoel die gedagte vlug deur my kop: is dit nie dalk tyd om al my toekennings bymekaar te kry en te liasseer nie? Maar dit is net ‘n vlugge gedagte, want eerstens sal ek nie weet wáár om te begin soek nie. Tweedens weet ek nie waarvóór om te soek nie. Omrede akkolades nog  nooit eintlik vir my saak gemaak het nie. As ‘n kind van kleins af die boodskap gekry het dat hy nie goed genoeg is nie en tot sy sewentiende jaar daaraan herinner is, het hy ‘n ingegraveerde weerstand teen papiere, satynbande en blikke wat sê hy is goed.

Ek het nog nooit geweet wat om met toekennings te maak nie. Mense hang dit agter glas teen hulle mure; hulle stal dit uit in spesiale kassies of  op rakkies wat spesiaal daarvoor gemonteer is. Vir my was dit nog altyd ydel. Geen predikant kan jou ‘n sleutel tot die hemel gee as hy die helfte van sy halfuur huisbesoek daaraan afstaan om jou prestasies te bekyk nie. En dalk besluit hy jy is al klaar so geseënd dat hy dit glad nie nodig vind om vir jou te bid nie. Vir my werk dit net andersom.

Die lof en eer vir dit wat ‘n mens bereik, kom jou nie toe nie, want dit is jou toegedeel as ‘n talent, ‘n gawe van die Gees, ‘n seëning deur ‘n Hoër Hand. En dit is jou plig om dit ten beste aan te wend.

Om op ‘n verhoog te stap, die skoolhoof se hand te skud, ‘n boek of beker te ontvang en daar te staan  totdat almal klaar handegeklap het, was nooit my forté nie. Ek het nooit geweet hoe om die ding vas te hou nie, ook nie waar om te kyk totdat die spektakel einde kry en ek agter die gordyn kon verdwyn nie. Veel eerder kon hulle my in ‘n kostuum druk en sê “Sing!” of “Onthou jou lyne.”

Oral in die huis, op onverwagte plekke, is bewysstukke van my persoonlike prestasietjies. Niks aardskuddends nie. Daar is die foto van ‘n winkeluitstalling wat destyds in ‘n landwye kompetisie die eerste prys behaal het, ‘n reuse vertoon-rangskikking gemerk “Best on Show,” my eerste pryswaardige skilderytjie, ‘n pak Eerste, Tweede en Derde pryskaartjies van die VLV en landbouskoue.  “Nee” sê my dogter “mens sit al die goed in ‘n album!” as ek dit in die herwinningsak gooi.  Ek byt my tong vas, want iewers in 'n kas is ‘n lêer met my ma se skool- en verpleegsertifikate. Hulle is hoogs dekoratief in hul vergeeldheid, maar met ‘n heiligheid wat nie vir ‘sommer net’ teen ‘n muur kan hang nie.

Daar is tog wel ‘n  paar bewyse wat ek graag sou wou uithang. Eerstens, my musieksertifikate wat by Edrichs op Stellenbosch weggeraak het, want dit sou ek graag bokant my klavier wou hang.  Vir myself en uit dankbaarheid vir die talent, want as’n visserman seewater  in sy are het, het ek sharps en flats in myne. Die ander papier wat ek graag sou wou raam, is die sertifikaat wat meld dat ek ‘n kursus in Joernalistieke en Kreatiewe Skryfwerk suksesvol voltooi het – in my standerd sewe jaar. Dit kon bo my lessenaar hang vir daardie tye wanneer ek deur ‘n skrywersblok worstel.

Toekennings en akkolades het net een doel: hulle blaas mense op. Die uiteindelike oorwinning kom wanneer jy suksesvol met jouself kompeteer het, jou talente ten beste benut het, jou brein maksimaal ingespan het of jou gees en liggaam tot die uiterste gedryf het. Dat jy die hoogste persentasie behaal het,  eerste oor die wenstreep was, of die kroon as die  mooiste op jou kop dra, was maar net geluk, want die ander saam met jou op die podium het net so hard soos jy gewerk.

Papiere, blikke en satynbande om persoonlike prestasies te vier, hoort in die kamer van die hart, die een waarvan die deur gemerk is “Dankbaarheid.” Dit is die wyse waarop jy te werk gaan met die kennis agter die akkolades wat van jou ‘n onthou-mens maak. 

Carine Badenhorst