Tabernakel in rooi fluweel

As iemand my sou vra om die rede vir ons Afrikaners se gesinsversplintering in een woord op te som, sal ek met die volle moed van my oortuiging sê: “Tafel!”

‘n Tafel is die mees basiese meubelstuk waarsonder mense maar nou eenmaal nie kon klaarkom nie. Selfs grotbewoners was gediend om op velle op die grond te slaap, maar ‘n plat stuk klip of rots, dié moes hulle hê.

Wanneer jong paartjies op trou gestaan het en begin praat het van huis  opsit, was ‘n tafel en stoele eerste op die lys van noodsaaklikhede. Snaaks genoeg, was ‘n bed tweede. Die eerste huisies tydens ons volksplanting het gewoonlik uit een vertrek bestaan, groot genoeg vir die meubeltjies wat op die kakebeenwa saamgery is: bulsak vir die slaap, wakis of twee vir pakplek en ‘n tafel met stoele. Behalwe dit waarvoor die bulsak uitsluitlik bedoel was, is die tafel vir al die ander daaglikse aktiwiteite gebruik. Dit was die trots van die beskeie woninkie, elke aand skoongeskrop vir die volgende dag se gebruik.

Die gesinnetjie se lewe het beslag gekry op en rondom daardie tafel. Soggens vroeg sou die vrou die koffie wat sy in die buite kookhuis vir haar man gebrou het, langs die tafel vir hom bedien. By die lig van die lamp sou hulle die dag saam om Die Woord begin.

Deur die loop van die dag sou die vrou haar kos op die tafel voorberei: die dag se brood knie en haar vleis en groente bewerk. Sy sou haar wasgoed daar opvou en die kisklere stryk met ‘n strykyster wat sy in die kookhuis met warm kole gaan vul het. Daar sou sy haar kinders leer, haar lap- en stopwerk doen terwyl  haar man die tuie by lamplig herstel.

Die gesin sou elke aand tydens huisgodsdiens rondom die tafel hande hou, om die eenheid van die gesin te bevestig terwyl hulle hulself in diepe dankbaarheid voor hul Skepper verootmoedig. Hul tafel sou die stille toehoorder wees van baie gesprekke.

Die tafel was die hart, die heilige plek van die huis, vir baie dekades lank. Soos wat huise groter geword het,  het die tafel sy ereplek as middelpunt van die huis en tabernakel van ‘n hegte gesinslewe verloor. Die kombuistafel het sy status verloor, want in die eetkamer staan ‘n blinkgepoleerde tafel en stoele wat net vir spesiale geleenthede gedek word. Om die kombuistafel is almal altyd haastig: brekfis word sommer so in die verbygaan gegryp; middagete is krummels op die toonbank; aandete word sit-lê voor die televisie genuttig. Was- en strykgoed word in die waskamer gedoen; lap-en stopwerk bestaan nie meer nie. Die kinders het elkeen ‘n lessenaar in hul kamers, vir wat dit werd is.

Die laaste strooi wat die pote gebreek het van die arme tafel wat so lank en swaar aan die behoud van gesinseenheid gedra het,  was die koms van die oopplan-uitleg vir eetkamer, kombuis en leefvertrek. Vir saamdoen bedoel, maar in teendeel, ‘n fiasko van elkeen doen wat hy wil in dieselfde spasie.

Die dag toe ons die tabernakel weggevat het uit dit wat veronderstel was om die gesin se allerheiligste te wees, het dinge drasties agteruitgegaan. Die hand-aan-hand ketting is gebreek. Die dissipline van vasgestelde etenstye waar almal teenwoordig moes wees,  het gedisintigreer. Oop gesprekke oor lewenskwessies waar ouers deur ondervinding kan lei, vind nie meer plaas nie. Die uitpraat van onderlinge geskille en verskoning vra is vervang met klappende kamerdeure en opgeblasenheid wat die hele huis se atmosfeer versuur totdat dit eendag maar net oorwaai.

Eintlik moet daar ‘n wet wees wat bepaal dat elke huis net een groot tafel mag hê. Verkieslik in die kombuis. Vir etenstye; vir kinders wat huiswerk doen terwyl Ma eenkant koekies bak of naaldwerk doen; vir Pa om ‘n niksseggende gesprek met Ma aan te knoop terwyl sy kosmaak; vir die gesin om saam speletjies te speel; vir saamgesels, saam redeneer, saam oplossings vind, saam bid.  Vir vriende om saam te kuier en verspotte stories uit te ruil, want geen storie lieg so lekker as een wat onder die elmboë op ‘n tafel uitkom nie. En vir spesiale geleenthede, gooi mens ‘n rooi fluweel tafeldoek oor en haal Ouma se silwer en kristal uit. Pure tabernakel!

Carine Badenhorst