Die mooigeit van roes

Daar is ‘n warmte aan roes wat ‘n mens laat dink aan die skurwe, uitgedroogde bas aan die voete van Knysna se bosreuse. Wanneer ek dit op ‘n skilderdoek weergee, gebruik ek Indian Red, Burnt Sienna en Burnt Umber. Telkens herinner die glansende bloppe verf op die palet my aan gesmelte sjokolade: ryk en romerig. Dit vra om stadig afgelek te word en vir so lank as moontlik op die tong gehou te word sodat die volronde soetheid al die lewe se bitter smaak uit jou mond kan verdoof. Al is dit net vir daardie paar vlugge oomblikke van sielsverleiding.

Maar roes is nie sjokolade nie. Ook nie my Winsor & Newton olieverf nie, wat na dekades steeds elasties en bruikbaar uit die buisie kom. Die rede is voor die hand liggend: roes het nie olie nie.

Dit is ‘n kombinasie van water, yster en suurstof wat ons met weersin laat kyk na die klein rooibruin kolletjie wat onder die voertuig se verflaag deurslaan.  Ons gryp na ‘n oorstokkie en Vaseline om die ou kolletjie mee te dep terwyl ons half-histeries die paneelklopper bel om ‘n afspraak te maak. Hier by die see is roes ons grootste vyand. Alles roes tot niet, spreekwoordelik tot die plastiek geute rondom ons huise ook.

Die droë, sandagtige verpoeiering wat ons met soveel veragting met ‘n draadborsel toetakel, is tog nie so totaal weersinwekkend en onbruikbaar as wat ons dit voor uitkryt nie.  Geroeste dekor items is vir ‘n aantal jare reeds uiters gewild, binne en buite die huis. En asof die natuur nie vinnig genoeg is nie, is verroesmiddels in die handel verkrygbaar om metaal items ‘n hupstoot na degenerasie te gee sodat dit ‘n ereplek iewers kan inneem.

My eerste kreatiewe eksperiment het op Helderfontein hier in die Strandveld plaasgevind in my spin-kleur-en-weef-fase. ‘n Boer se werkplek in daardie tye was ‘n goudpot vol geroeste items: pype, skroewe, spykers, blikke en kettings. Ek het een van die reeds gewaste stringe Merinowol in asyn laat lê totdat die wol goed deurweek was. Daarna het ek ‘n klomp geroeste goed bo-op geplaas binne in my groot emalje kastrol wat gereseerveer was vir die kleur van my wolle. Na die eerste etmaal verby was, het ek dit weer met asyn besprinkel en so ‘n bietjie herrangskik.  Die eindproduk was asemrowend mooi met vlekke wat gewissel het van dowwe geel tot ryk bruin.  As verdere eksperiment het ek dieselfde proses gevolg met melkdoek en daarna met ‘n ou, wit laken. Die gelyke van die uitrusting wat daaruit voortgekom het, was in geen boetiek op die ganse aardbol te vinde nie!

Dit was ‘n hele aantal seisoensveranderings gelede en vandag het ek te doene met ‘n ander soort verroesting: die van die liggaam met al sy lasplekke en bolgewrigte. Danksy die soms gedwonge, soms verkose beweeglikheid tydens my jong-en jeugdae, voel ek myself  nog geredelik ge-olie teenoor ander van my portuur.  Hierdie lyfroes wat saam met die jare kom, is vreemder; ‘n nagdief  in swart klere. Sonder die uiterlike teken van ‘n roeskolletjie as waarskuwing, voel ‘n mens net op ‘n dag daar is ‘n skreinerigheid in jou skarniere.  Jy voel ‘n binnepyntjie wat nie voorheen daar was nie.

Yster, suurstof en water, die komponente wat tot roes lei, is dan nou juis dit wat die ouer wordende liggaam nodig het. Hoe nou gemaak?  Ons drink omega- en aandblomolies en raak meer aktief. En ons kla! Oor elke pyntjie, oud of nuut, intens of net flouerig. As die roes jou het, los hy nie sommer nie; nie in die natuur nie en nie lyflik nie. Dis hoe ons dit behandel en hanteer wat saakmaak. 

Oorweeg die opsies en maak die keuse ten goede van jouself. Dryf jouself gereeld net ‘n klein bietjie bokant dit waartoe jy reken jy in staat is.  Voel hoe die roes afsplinter. Dans met ‘n seer toon en jy lag oor jou stramheid. Wend  ‘n lagie of twee vernis aan sodat jy in roesevreugde in die koelteboom van jou kinders se tuin kan gaan hang. Hulle dag kom nog.

Ek herdenk vandag die geboorte van my mooiste roes:  ons rooikop meisiekind. Soveel meer rede om te lag en bly te wees.   

Carine Badenhorst