Die blou vlag van koek eet

“Let them eat cake”  was nie, soos algemeen voorgehou, die woorde van Marie Antoinette nie. Dit was haar eweknie van nagenoeg ‘n eeu tevore, Marie-Therese,  wie hierdie opmerking  gemaak het tydens die Meel Oorlog in Frankryk.

Die Franse uitlating lui: Qu’lis mangent de la brioche. Al wat ek hiervan verstaan is brioche, wat volgens my kennis van Franse kookkunsterme ‘n ryk fyngebak van meel, gis, eiers en botter is. Dit word dan in klein bolletjies in ‘n muffin pannetjie opmekaar gestapel om te rys en te bak. Die eindproduk is ‘n verheerlikte broodjie met ‘n dun, glansende kors, inderdaad net geskik vir die tafels van die rykes in daardie tye. 

Of Marie-Therese dit bedien het as koek, dit weet ek ook nie, maar  volgens haar uitlating lei ek af dat daar so ‘n oordadigheid daarvan aan die Hof van Versailles was, dat daar genoeg was om weg te gooi vir die armsalige hongeriges. En ek sien haar agter die oordadige tafels, effens aangeklam,  gekelkte hand hoog in die lug terwyl sy teatraal en luid die opmerking maak sodat al haar geëerde gaste dit duidelik kan hoor. Vir geen oomblik sou sy toelaat dat haar man, Louis XIV in ‘n swak lig gestel word nie. Miskien wou sy net haar status as koningin bevestig ten aanhore van die gaste, wat toe alreeds bewus was van Louis se ontrouheid.

Sy was immers die dogter van die koning van Spanje: ‘n verdere status wat sy jaloers moes verdedig en behou.

Hoogheid, of dit in die bloed is, of self gefabriseer is, bly ‘n gewigtige saak. Dit moet onderhou word. Vir adellikes is daar protokol  en codes of conduct,  maar vir Jan Alleman wat uit eie reg die blou vlag voor huis of besigheid hys , is daar geen handleiding nie.  Al verwysingsraamwerk wat hulle het, is om diegene na te volg wat, volgens hul eie oordeel,  in dieselfde kategorie val.  Hierdie beoordeling geskied gewoonlik op sigwaarde alleenlik. 

Status neem die bestaansruimte van mense se lewens oor. Dit verander hulle uitkyk op die lewe, dit bepaal watter huise hulle bou, watter voertuie hulle bestuur en watter kringe hulle in beweeg. Wat die een het, moet die ander ook hê;  waar die een gaan, moet die ander volg. Goudbeslane vroue  streep Thailand toe agter moet-hê Oosterse dekor items  terwyl die mans hul sakevernuf sit en opblaas rondom ‘n bottel Skotse Hoogland whisky uit ‘n satyngevoerde kissie. 

Elke stad en dorp het van hulle, hierdie koek-eters wat nie meer brood ken nie. In Bellville trek hulle van Boston af Plattekloof toe, met net ‘n paar waardige meubelstukke, want voor die deur van die nuwe mansion staan reeds ‘n meubelwa en wag om die nuwe meubels af te laai. In die klein dorpies kom hulle soos cowboys ingestap: bakbeen en bakarms, gereed om na die skietgoed teen die dye te gryp ingeval iemand hulle vir minder durf aansien as wat hulle voorgee om te wees. Met sakke vol pakketgeld – wat hulle reken  voldoende  is – ‘n kop vol planne en banale selfversekerheid,  probeer hulle  almal wat wil en nie wil luister nie, oortuig dat hulle die dorp en sy sakesektor gaan regruk. Die vroutjies val met stywe broekies en platform-skoene uit  te  hoë voertuie  terwyl die sweet op hul skopgraaf-grimering pêrel.  Binne ‘n week is hulle ingeburger in die sirkel van die wie-is-wie.

Die instandhouding van status is duur en nie almal werk met hul eie fondse nie. Op ‘n dag verander hulle van tuiste en die besigheid se rakke raak leër. Die drievlakhuis het te groot geraak en hulle hou net voorraad aan volgens hul vaste klantebasis.  Maar hulle eet nog koek. Dan ruil hulle die groot voertuig in vir ‘n kleiner, meer ekonomiese een, maar hulle eet steeds koek.  Namibië, die Wildtuin en Mauritius  het met die laaste drie besoeke onveranderd gebly,  dis nie meer ‘n vakansie werd nie, maar nog steeds verruil hulle nie koek vir brood nie.   Die blou vlag voor die deur wapper steeds dapper in die wind. Dis nie sommer enigeen se werk om dit te kom stryk nie. Of is dit? 

Het Marie-Therese  ooit brood geëet? Sekerlik, want sy was ‘n nederige vrou en nederige mense eet brood.

Carine Badenhorst