Seestroom van die Liefde

Die maand van liefde: Februarie, ons warmste maand van die jaar. Dit lui alreeds by my, wintermens, ‘n vals klok. Nietemin, gooi ek my op my rug en dryf saam met die stroom van liefdesaanbidders. Dis tog net vir ‘n maand, voordat almal die kalm water bereik en uitspoel op ‘n wit strand - die wat gelukkig is. Want nie almal weet hoe om in die liefdesstroom te dryf nie.

Om in die stroom van liefde te beland kan soms gelykgestel word aan die sardynloop aan die Natalse kus. Die oomblik as die brandwag op die duin die naderende donker kol in die see gewaar, stroom mense in hul duisende water toe. Hulle kom met enige denkbare skepding om hulle deel op te eis. Bolrug  staan hulle en worstel in die water met sakke, bakke en tuisgemaakte handnette. Die gulsiges verdring mekaar om dieper in te gaan en eerste by die middelpunt van die skool uit te kom, sonder om te besef dat hulle die skool hierdeur net uitmekaar dryf.  

So jaag die mens agter liefde aan. Uitgehonger, selfsugtig en inhalig. Met die oë vasgenael op die blink, wriemelende lyfies, gryp hulle ‘n sardyn, stroop die vleis met walglike wellus af en gooi die kop en graat terug see-in terwyl die ander hand gulsig na die volgende objek van bewondering gryp. Dis die oomblik, die hier en nou wat tel. As jy nie nou skep nie, is die liefde jou verlore. Dit maak nie saak hoe swaar die las agterna op ons skouers - of gewete -  rus nie, solank as wat dit subiet verorber kan word, gryp mense daarna, wetende dat dit ‘n bederfbare ding is en binnekort vaal-oog-oud sal wees.

Dis in hierdie koorsige situasie waar mense hul rûe so baie kere see toe draai en nie die fratsgolf sien kom nie; of dit hopeloos te diep waag en nie met die sware skep terug by die strand kan kom nie. Die liefde dop hulle om en slaan hulle wind uit, hulle beland in ‘n  maalkolk of die vrag trek hulle onder die water in. So ‘n gulsige, intense liefde loop uiteindelik uit op leeghandige verdrinking. Vir net sommiges word die reddingsboei van genade uitgegooi sodat hulle daaraan kan vashou terwyl die stroom hulle na veilige waters van besinning lei. Ander, gedagtig aan die volgende skool sardyn wat gaan verbykom, spartel en veg ‘n verlore stryd teen die meesleurende vloei van die stroom. Te verslaaf aan die opwinding; te ver heen om te besef oorgawe bied ‘n kans op oorlewing.

Liefde is nie ‘n verbygaande skool sardyn wat, asof uit die niet, met hul blink flonkerende lyfies verbykom en die sinne begogel nie. Mens kan dit nie by die honderde skep en in ‘n hol ding gevange hou vir so lank as wat dit jou behaag nie. Liefde laat hom ook nie na willekeur van  ander sommer net weggooi nie.

Liefde, soos wat die Woord dit uitspel, is eerder ‘n hengelaar op ‘n rots. Mens moet die koue water teen jou bors kan trotseer om op daardie rots te kom vanwaar jy Liefde  die maklikste kan bereik. Ondanks die koue water moet jy die gewig van al jou toerusting kan saamdra, want om liefde te kan gee moet jy jou volle mondering aanhê. Die visstok-gordel om die heupe sal jou vrywaar teen leuens en sorg dat jou liefde altyd in die waarheid sal seëvier. Die oliebaadjie sal jou hart bewaar wanneer opslagbranders jou laat twyfel of jy op die regte plek met jou liefde is. Glyvaste skoene op die nat, ruwe rotse sal jou help om veilig vorentoe te stap op jou liefdespad. Die regte stok en katrol, hoeke, lote en aas sal jou skild van geloofsvertroue wees dat jou liefde suiwer sal bly. Wanneer die fel strale van die son jou verstand benewel en jy begin wegdink van die liefde, is dit tyd dat jy jou laphoedjie opsit. ‘n Skerp mes is noodsaaklik om die kraaineste wat in jou liefde mag vorm, mee uit te sny.

Liefde is die geduld van ‘n rotshengelaar om weer en weer te probeer, al word hy nie elke keer met ‘n vangs beloon nie. En sou jy in die see beland, dryf rustig voort saam met die liefdesstroom. Iewers vorentoe wag ‘n wit strand.

Carine Badenhorst