Vloeiende Wanorde

Ek vind ongekende plesier in Afrikaanse boeke wat geskryf is toe ons taal nog jonk was. Elke skrywer het sy of haar beste uitgehaal om te verseker dat een van die enkele uitgewers die manuskrip sou aanvaar. Die   allermooiste beskrywings, beeldspraak en uitdrukkings, wek by my ‘n hernieude liefde vir my taal. Ek wil daaraan vasklou “soos ‘n suinige smous” – een van die baie vergelykings wat ek al raakgelees het.

In ‘n 1947-boek uit my persoonlike biblioteek in die garage het ek  afgekom het op ‘n uitdrukking wat my genoop het om die boek eers neer te sit om dit te bepeins. Die heldin, ‘n boeremeisie, spreek haarself as volg uit: “...die natuur het selftevredenheid met sy vloeiende wanorde..” Sy sit op ‘n omgevalle stomp in ‘n eeue-oue Vrystaatse populierbos waardeur ‘n rustige stroompie vloei. Kan daar ‘n beter plek wees om waar te neem hoe die wanorde van die natuur ineen vloei om ‘n perfekte eenheid te vorm?

Tereg kan ons nie in huise met skewe mure en halwe dakke woon nie, maar het die mens nie maar sy eie populierlat gesny deur meeste dinge net té ordelik te wil hê nie? Voeg ons werklik ‘n el by ons lengte deur lewend in dood te verander ter wille van ordelikheid?

Daar is vir my niks moois of bewonderenswaardig aan die nuwerwetse maniere van tuinmaak nie. Nee, mens kan dit nie eens “tuin” noem nie, want ‘n barre, geplaveide werf met ‘n enkele boompie iewers teen ‘n hoekmuur vasgedruk, is nie tuin nie. Dat mense dit as netjies klassifiseer, daarvoor het ek begrip, maar ek verskil in stilte – of dalk nie – wanneer ‘n werf van inmekaar passende stene en gruis as mooi besing word.  Dit kan alleenlik lewende tuin raak wanneer dit gebalanseer word met groenigheid, verkieslik in ‘n ratio van een deel dooie materiaal teenoor nege dele lewende materiaal. Wanneer natuurlike grondbedekker tussen plaveisel en klippies deurgroei, juig my hart oor nuwe lewe en deursettingsvermoë. Dit grief my dat mense dit met spuitkanne vol gif aanval. Waarom sal mense tog rebelleer teen die eb en vloed van die lewensiklus van die natuur? 

Ek kan lewe in vloeiende wanorde. Ek móét so leef, want dit is wie ek is. My verstand is te nuuskierig van aard vir my liggaam om in ‘n apatiese bondel op ‘n stoel te sit en na buite te kyk na niks in besonder nie. My groot tafel is gedurig vol handwerk-goed: lappe, kraletjies, gom, plankies, verf en papier. Daar is altyd tekens van meer as een projek waarmee ek besig is. Dis nie eens asof ek effens daardeur geraak word as iemand by die voordeur inkom en daarin vaskyk nie. Dis my unieke wanordelike karma wat hier, in my eie tuiste vloei.

Geen mens kan staatmaak op ‘n leeftyd, hoe kort of lank ook al, van totale ordelikheid nie. Hetsy fisies of psigies, tref die wanorde ons almal een of ander tyd. ‘n Rondloperhond lig jou vullissakke oornag uit die draadmandjie en  die eerste koppie koffie staan en koud word terwyl jy agterkant bokant toe staan en noodgedwonge weer vergader dit waarvan jy ontslae wil raak. Vir die volgende paar weke is daar ‘n drastiese verandering in jou wakkerword op vullisdag. Jou goud in jou môrestond het in gal verander.

Of jou dogter in Gauteng bel al huilende dat daar by hul huis ingebreek is en alles, van die tweede voertuig tot die laaste liter melk in die yskas is gesteel. Jou brein se bedrading knoop in ‘n wanordelike bekommernis. Nie net vir een dag nie, want ouerlike kommer bly klou nog lank nadat die kinders weer orde gevind het. Dit is die tipes van wanorde wat ‘n mens nie in jou lewe verwelkom nie: dit wat deur buitefaktore na jou toe aangewaai kom soos ‘n shamaal in ‘n die Sahara. As jou skuiling onvoldoende is, kan dit jou in ‘n sandgraf verswelg.

Solank wanorde vloei soos in die natuur, waar seisoene sorg vir skoonmaak, weggooi en herrangskik, hoef dit niemand angsaanvalle of sewedag-klontjies te gee nie. As ons regtig goed daaroor besin, leef ons eintlik maar elke dag in wanorde.

Carine Badenhorst