Gordon se skielike vertrek

Toe Gordon Ramsay se vliegtuig bokant die Kaapse Skiereiland sirkel om te gaan neerstryk kon hy dit nie help nie. “F..k, look at this place! It’s f..king spectacular! Pilot, get this f..king plane on the f..king ground!” Tussen sy kosmakery, besoeke aan spoghotelle en kosskole se kombuise, het die f-woord sekerlik nog duisende kere oor sy lippe gekom, hetsy van vervoering of ergenis. Met die skiet van die Checkers advertensies moes hy hom sediglik inhou, want Nataniël is skerp en dié het vinnig ‘n vinger na hom gewys wanneer dit lyk asof Gordon se botande op sy onderlip wil kom lê om ‘n “f” te vorm. Daarom dat hulle nie ‘n advertensie vir vis gemaak het nie, want Nataniël het nie vir Gordon vertrou met die “f” van “fish” nie.

Gordon was toe nie so lank in ons mooie land as wat hy aanvanklik beplan het nie, want hy het sy Moses teëgekom. Nie teen een van die Groot Sewe nie, maar wel teen ‘n nasie wat ‘n groter volume van vloektaal besig as waaraan hy gewoond is. En dit sê baie vir die man wat een van sy kookreekse op televisie die “F”-naam gegee het. Hy moes sekerlik diep gedink het tydens die terugvlug, want in die eerste reeks wat geskiet is na sy besoek aan Suid-Afrika, kook sy kinders saam met hom en hy beeld ‘n toegewyde, vloeklose pa uit.

Of dit net een van my ryke verbeeldingsvlugte is, al dan nie, moet Gordon maar self beaam of weerlê. Feit bly staan: vloek is so nasionaal soos rugby en vleisbraai regoor die land. Ek wil glad nie eens meer sosiaal verkeer waar ‘n klomp jongmanne, met of sonder hul kinders wat ten aanhore speel, om ‘n braaivleisvuur staan en gesels nie. Die strekking van hulle stories raak verlore tussen al die vloekwoorde. Ek het al gewonder of hulle daarmee probeer om die stories langer uit te rek sodat hulle meer kan drink, maar ai, hoe meer hulle drink, hoe meer vulgêr raak hulle. Dis erger as ‘n dronk vrou wat op ‘n tafel dans!

Wat het ons mense aan vloek en watter houvas het vloek op ons mense? Hoekom vind manne – jammer – dit nodig om die “f”-woord na elke vierde woord te gebruik, dit afgesien van die “b”- en “d”- woorde wat ook nog ingepas word? Dit kom my voor asof hulle eintlik nie hulle woorde agtermekaar kan kry nie en met die lelike woord tyd koop vir hulle verstand om by te kom. Dalk is dit die Klippies en Coke. Brandewyn wat nie vir die edelheid daarvan uit ‘n bolglas gedrink word nie, is daarvoor bekend dat dit aggressie aanwakker en vloek is ‘n openbaarmaking van ‘n aggressiewe gees.

Vloektaal maak niemand ‘n beter, sterker, meer aanvaarbare, meer gerespekteerde mens nie; inteendeel. Diegene wat eens troepies in die Mag was, sal onthou hoe hulle gevloek is om “georiënteerd” te raak vir die plig ophande. Hulle moes “afgebreek” word om van nuuts af as soldate opgelei te kon word. Dalk het die doel die middele geheilig, ek weet nie. Waarvoor ek wel dankbaar is, is dat diensplig vir dames nooit verpligtend was nie, want ek sou permanent in die detensiekaserne gewees het omdat ek nie sou toelaat dat iemand, hoe hoog in rang ook al, op my vloek nie.

Ek lees tans twee boeke tegelyk. Nie iets wat ek normaalweg doen nie, maar ek het André P Brink neergesit weens die kru taal en Corlia Fourie aangevat. Twintig keer erger! Albei is gevierde en herhaalde bekroonde skrywers. Sies! Maar ek gaan hulle deurwurg net om myself te kondisioneer om nooit in te gee tot die vervlakking en skurfmaking van my taal nie. Ons is vinnig om te kla oor Afrikaans wat as taal opsy gedruk word, maar as ons, die gebruikers, dit bemors, hoe kan ons verwag dat ander moet dit moet eer?

Haal asem tussen woorde, besoek ‘n spraakterapeut, steek die braaivuur onderstebo aan, drink whisky, maak jou kinders soldate teen jou vloekery – en kry skaam. Werk aan jou selfrespek, jou kinders se opvoeding en jou taal. Maak nuwe, welluidende woorde en lees meer, want Gordon Ramsay wil terugkom vir ‘n vis-advertensie.                                

 Carine Badenhorst