Om onverhoeds betrap te word

Die hengelsituasie is heel eenvoudig: Kabeljou, sporadies, veral by Haaiklip (indien jy die regte tyd daar is). Galjoen ook, maar nie in oorvloed nie, en hierdie tyd van die jaar, nie veronderstel om in die beste kondisie te wees nie. Gelukkig is daar nog baie hotties, en dié is vet en reg vir die rooster. Romanne ja, so tussen-in. Ook ander bankvis en hier kom ‘n boot tot sy reg.

Die see bly maar iets om oor te wonder. Net sodra jy dink die wind gaan ‘n kalm see tot gevolg hê, is daar iets wat die water omkrap en dis moeilik om jou vinger op die oorsaak daarvan te plaas. Dan weer, wanneer jy dit die minste verwag, en met die wind wat waai dat hy klap is dit die beste seedag van die jaar!

Die hardebaarde ken die see en hulle weet ook hoe onvoorspelbaar en gevaarlik dit soms kan wees. Ek weet dat hulle sal saamstem dat daar sekere plekke is wat ekstra aandag verg en met ‘n see wat nie altyd dieselfde eienskappe toon nie, jy altyd op jou pasoppens moet wees. Indien ek net ‘n paar kan uitsonder, sal dit wees, die Birkenhead en die onmiddellike omgewing daar. Kopsteen, by De Kelders, kan vir baie lank kalm lyk, en dan onverwags vreeslik onstuimig word. ‘n Leek kan lelik in die slaggat trap deur te gou aan te neem dat die omgewing veilig is om dan skielik in ‘n lelike situasie te beland.

Die ander plek waar baie versigtig te werk gegaan moet word is digby Gansbaai- hawe. Die gedeelte oorkant die perlemoenplaas. Daar is ‘n gebied waar jy selfs op ‘n kalm dag kan waarneem hoe die branders tussen die bamboes en op die riwwe breek. Maar die gevaar hier is dat wanneer die branders vir ‘n wyle nie breek nie, jy kan aanvaar dat dit so gaan bly. Wees asb. ekstra versigtig wanneer so-iets gebeur. Ek weet van hierdie situasie en is bedag daarop. Dit is veral wanneer jy dink dat jy voorbereid is op die onverwagte dat jy in die strik kan trap. Nou die dag is ek weer herinner hieraan. Ons het die breker-situasie vermy deur op ‘n veilige afstand anker te gooi en is beloon met ‘n paar mooi visse. Mettertyd het ons gee pad na ‘n ander plek en het toe weer teruggekeer. Die gety het verander en ek het ‘n heel ruk spandeer om te sien of die water stabiel is en of ons nader aan die verwagte breker kon lê. Dit het baie belowend gelyk en ek het dit oorweeg om ‘n kans te vat. Almal behoort te weet dat jy eenvoudig nie “’n kans vat” op see nie. Ek het ook nie en het gelukkig besluit om maar veiligheidshalwe verder anker te gooi. Ons het weer begin vis vang. Die oorverdowende geraas van onstuimige branders wat breek het my aandag getrek, en waar ek gedink het dit veilig sou wees, het branders die een op die ander gebreek en weer eens is ek bewus gemaak van die reël om altyd alles om jou waar te neem en nóóit ‘n kans op see te waag nie.

Daar is natuurlik nog baie ander plekke waar jy ekstra versigtig moet wees, maar oral geld die reël hierbo. Moet nooit laat slaplê nie.

Geniet die see, Seemeeu