Kinderspeletjies

Geen mens het lus om met ‘n grieperig-gekneusde lyf ringa-ringa-rosie te speel nie. Geen mens behalwe ‘n oupa en ‘n ouma nie. Met elke draai raak jou kop ligter, jou ore suis harder en jou bors brand ‘n bietjie erger. Jou kleinkind besef nie wat ‘n enorme guns hy jou doen om sommer al na die eerste rym neer te val nie. Natuurlik val jy nie saam nie, want jou swak lyf gaan nie sommer weer opkom nie; trouens, jy span jou allerlaaste reserwes in om net regop te kan bly. Uiteindelik voel jy nog ‘n kerf sieker net omdat jy die outjie se heerlike speletjie moet kortknip. Daar is tog niks lekker daaraan om  ‘n mensie wat op ‘n gegewe oomblik dink jy is die beste in die Weste, te oortuig dat jy eintlik so pas uit die Oostehemel geval het nie; dat dit wat hy as ‘n blink ster sien skyn, net jou komeetstert is wat besig is om uit te brand nie.

Tipies Ouma en Oupa, vind mens vinnig ‘n ander speletjie om die aandag te herlei. Dis seker waarom kleinkinders so lief is vir hul grootouers: ons het ‘n ander manier van doen. Wanneer hulle met “Nee, nee, nee!” teenoor hulle ouers rebelleer, is die kanse baie goed dat hulle met een of ander dreigende antwoord of handeling te doene gaan kry.  Grootouers verander hulle negatiewe houdings in positiewe plesierigheid sonder dat hulle dit hulle dit eers besef. Binne perke, natuurlik, want gesonde, geregverdigde dissipline kom ook makliker na vore by oupas en oumas as by mammas en pappas.

 Die algemene opvatting dat grootouers daar is om te bederf, het nog nooit lekker op my skoot kom sit nie. Dalk – en dit is ‘n groot moontlikheid – lê die fout by my, maar ek sal dit nooit oor my hart kan kry om my kleinkinders te “bederf” met iets wat nie vir hul ouers aanvaarbaar is nie. Dit skep tog net verwarring by die kleintjies en veroorsaak dat hulle geen duidelikheid het oor waar die streep nou eintlik getrek moet word nie. As hulle nie tuis op beddens mag spring nie, dan ook nie by Ouma nie. Aan die ander kant, as hulle op hul eie beddens mag spring, mag hulle ook nie op Ouma se bed spring nie, want ‘n bed is nie ‘n trampolien nie.

Kleinkinders is nie kinderspeletjies nie. Net soveel respek as wat ‘n mens van hulle af verwag, moet jy bereid wees om vir hulle te gee. Hulle is so bitterlik weerloos, so totaal afhanklik van die voorbeelde wat hulle ouers en grootouers stel; mens kan hulle eenvoudig nie soos poppe behandel nie, al lyk hulle so.

Die kleingoed leer hul vaardighede aan deur te speel. Hulle verwag dat  Oupa saam met hulle plat op die grond sit en karretjies ry; dat hy hande viervoet op die grond kruip sodat hulle op sy rumatiekrug kan perdry; dat hy op die werf rondhardloop om die bal wat hulle nooit reguit na hom toe skop nie, te moet keer. Van Oumas verwag hulle om voor die stoof, wasbak of naaimasjien pad te gee wanneer hulle haar aan die hand wegsleep om na een of ander onbenulligheid te gaan kyk; hulle wil help maak aan die poeding wat sy gou-gou aanmekaar wil slaan om in die oond te kry; hulle wil help wasgoed opvou en pluk dan die reeds opgevoude, gesorteerde bondels uit mekaar uit; hulle kom plak ‘n boekie wat jy vir die soveelste keer moet lees op jou gesig neer, die oomblik wanneer die middagslapie sy sluier oor jou trek. En ons laat hulle begaan met ‘n geduld wat ons vir die heel eerste keer in ons lewens besef ons wel het.

Die romantiek van kleinkinders is dat hulle jou al sluipenderwys terugvoer na jou eie kindwees. Jy onthou vrot-eier en wegkruipertjie, wolf-wolf-hoe-laat-is-dit en kennetjie. Jy geniet weer ‘n skoot koue water oor jou lyf wanneer hulle die tuinslang roekeloos rondswaai; jy geniet die reuk van grond wanneer ‘n modderkoekie teen die wang tref en in jou hare beland; jy trotseer die koue seewater wat jy vir die beste deel van ‘n halfeeu vermy het.

Kleinkinders is nie kinderspeletjies nie. Of is dit?

 Carine Badenhorst