Verkiesing

Eintlik is dit lagwekkend om die kunsmatigheid van die voor-verkiesing bedrywigheid waar te naam.  Nuwe infrastrukture word luisterryk geopen. Nuwe projekte word met groot fanfare aangekondig. Beloftes van werkskepping word gemaak. Prioriteite word verskuif.

En almal spring van die pappot af weg en hardloop agterna. Iewers moet daardie stoof en yskas tog nog wees wat twintig jaar gelede belowe is. Met die bou van die nuwe spoorlyne gaan miljoene werkloses ‘n inkomste huis toe kan stuur – totdat die manne aan die top van die bemagtigingsgroep al die fondse in hul sakke het en die projek gestaak word weens die opdroog van die finansiële fonteintjie. Dit is nog met die veronderstelling dat die Japannese nie hulle eie werkloses saambring om ook langs die pappot te kom sit nie.

Is dit dalk die groot motivering agter die sedeloosheid-inspuiting wat tans ons standerd twee dogtertjies op die arm prik?  Dis ‘n ernstige aantasting van kinderregte om hulle te besmet met ‘n virus van ‘n seksueel oordraagbare siekte – want dit is wat die MPV inenting doen.  Indien hierdie inenting ‘n lewendige entstof  is,  van wie se wat is dit gekweek?  Ek gril!   Is dit nie goedkoper om liewer maar net morele waardes in die kinders – seuns ingesluit – se koppe te dril nie?  Selfs diskriminasie teen die vroulike geslag kan hierin gedebatteer word, want dis altyd hulle wat geteiken word.  Dit is tog sekerlik ewe maklik om ‘n entstof te ontwikkel wat die manlike geslag se potensie ‘n hou op die kop kan gee.

Voorts kom dit voor asof  hierdie  nuwe foefie op sy beurt ‘n uitvloeisel was van die bevinding van die Konstitusionele Hof  dat seksuele konsent van sestien jaar af vervroeg  moes word  na twaalf jaar.  Watter boodskap stuur al hierdie  absurditeite uit aan  al die  rokers  wat  alreeds geen respek  vir die vroulike geslag het nie? 

Iemand het destyds met Die Oorname die uitlating gemaak dat enigiets wat beter as ‘n pappot is, gesien gaan word as ‘n verbetering in lewensomstandighede.  Hy was nie verkeerd nie. Sonder om  politieke ontleder of politieke verslaggewer te probeer speel, redeneer ek met suiwer logika.  Daardie logika sê vir my dat die Filistyne té veel en té groot is vir die kruisie wat ek gaan trek, om enige impak te maak.

Deur die verloop van my lewe was ek al aan baie verkiesings onderworpe, die meeste waarin politiek geen rol gespeel het nie. Tog was daar politiekery by almal betrokke.  Vanaf ‘n sekere vlak op skool moes ons self ons klaskapteine kies, wat dan by die uitslae van die onderwysers se eie stemme gevoeg is. Dit was nooit die voorbeeldige seun en dogter met leierseienskappe wat die balkies gekry het nie; dit was die kinders wie se ouers die meeste vir die skool gegee het en wie ook die eerste klasposisies ingeneem het. Die gevolg? Niemand in die klas het hulle gesteur aan hierdie akademiese wrakke nie. Wanneer ons moes gestem het vir rasie-leiers vir die kleure-byeenkoms, moes ons die beker probeer wen met ‘n vals, ritme-gestremde, energielose siel wat ‘n onderstebo stokkie swaai. Omdat haar ma al die uitrustings kon maak  en sy pa die sierwa waarop hulle na etenstyd die arena soos koninklikes sou inkom, sou bou en borg.

Heelwat later in my lewe, toe ek moes help stem vir besture en voorsitters van komitees, is die waarheid van hierdie ideologie – want dit is wat dit is – aan my bevestig. Nepotisme en burokrasie gee die deurslag. Op die ou einde sit jy met ‘n professionele persoon aan die kop van die tafel omdat hy is wie hy is in die gemeenskap. Hy of sy weet van vergadering prosedure niks en kan as gevolg daarvan nie by die agenda hou nie. Die byeenkoms klink na die bouery in Babel, want die voorsitter weet nie hoe om ‘n vergadering tot orde te roep nie of wil dit maar net nie doen nie, uit vrees dat sy professionele aansien in gedrang sal kom. Geen saak op die agenda word dus afgehandel nie.

As lojale landsburger – so word beweer – is dit ons almal se plig om te gaan stem en ons keuse op papier uit te oefen. Ek vat Dawid se slingervelletjie, ‘n klein klippie en groot geloof saam.

Carine Badenhorst