Ons verneuk onsself

Daar is ‘n spreekwoord wat lui: “Neuk maar op, dis opneuktyd.” Daardie tyd is nou. Dit is absurd hoe mense mekaar probeer verneuk om elke hoek en draai.

Ek maak ‘n blikkie “No name” uie- en tamatiesmoor oop en dop dit in my kastrol met pasta uit. Toe ek oudergewoonte, soos wat ek met blikkiesgoed maak, die laaste bietjie skud om al die onderste kossies los te kry, hoor ek ‘n geklingel. My eerste gedagte is dat dit fyn klippies is. Na die tongtippietoets, vind ek uit dit is die grofste van growwe sout wat ek in ‘n lang tyd gesien het.  Nodeloos om te sê, was my pastapot oneetbaar, want die res van die sout – seker nog ‘n eetlepel plus – is in die kastrol. My ma het my geleer dat ‘n mens nooit kos mors nie. Dit is in die vrieskas weggepak vir die volgende kooksel sop. 

Die volgende opsie is sommer roosterbrood. Glad nie ‘n voedselsoort wat naastenby my gewildheidslys haal nie, maar dit is in die huis omdat Manlief elke dag die helfte van hierdie sponserige meelblaadjies inpak werk toe. Presies hoe sponserig en nog behoeftig aan die laaste kwartier in ‘n oond, besef ek toe ek die snytjies uit die sakkie haal. Dit verg twee keer se rooster voordat al die vog verdamp het en ek kan my net voorstel hoe dit in ‘n mens se mond moet klontjie maak indien dit nie gerooster sou wees nie.

Tien kilogram hondekos word agt kilogram, teen dieselfde prys, natuurlik.

Spuitkannetjies met deodorant of insekdoder word al hoe ligter. Om alles te kroon, werk die spuitkop net vir die eerste tien spuite, so asof die vervaardiger heeltemal besef daar is eintlik nie meer as tien spuite in die kannetjie nie. Dieselfde gebeur met plastiese spuitbottels waarin huishoudelike reinigers kom. Alhoewel die vervaardiger ewe liefies hervulpakke beskikbaar stel, gee die bottels se spuitkoppe ‘n mens nie kans om die hervulle aan te koop nie; jy moet maar weer die volgende (duurder) spuitbottel koop.

Gaan koop jy ‘n elektriese of elektroniese toestel om jou huishouding te vergemaklik, of net aan die gang te hou, kan jy seker wees dat dit gaan ingee binne een week na die waarborg-datum. Die koste van herstelwerk maak dit ‘n beter opsie om maar liewer ‘n nuwe toestel te koop. Selfs op ‘n matras moet ‘n mens deesdae jou lê ken; stil lê en saggies omdraai as jy nie elke jaar ‘n nuwe wil koop nie.

In die media vind mens al hoe meer planne, resepte, gebruike en herwinningsidees wat daarop toegespits is om goedkoper alternatiewe te skep. Die jongste een wat  ek raakgelees het, was oor Epsom sout of Engelse sout, soos dit ook bekend staan.  Epsom sout is ‘n kombinasie van magnesium, suurstof en swawel. Magnesium is ‘n substans wat groot opslae op die gesondheidsmark maak. Ons kry badsoute,  sproeibottels, aanrollers en olies ten duurste te koop op winkel- en apteekrakke. Magnesium is ook bo-aan die lys van susesvolle, alternatiewe kankerbehandelings. Die bottom line is:  magnesium verander die ph van die liggaam van suur na alkalies. In die eenvoudigste van terme beteken ‘n oormatig suur liggaam ‘n siek liggaam, terwyl ‘n gesonde liggaam ‘n gebalanseerde ph het.

Ons voorsate was nooit sonder Epsom sout in die wakis nie. Hulle het geglo aan ‘n knippie daarvan in elke eerste koppie koffie van die dag. Dalk was dit vir hulle net ‘n purgeermiddel om al die ongans uit die maag en derms te haal en as dit so was, was dit steeds die beste geskenk wat hulle hul liggame kon gee. Vandag weet ons dat Epsom sout ‘n splinter uit die vel kan trek; dalk het hulle dit ook al geweet?

Daardie bitter kristalletjies word vandag in so baie preparate gebruik dat dit amper lagwekkend is om te dink hoeveel geld ons spandeer om by die goedkoop pakkie Epsom sout uit te kom. In skoonheid – en haarsalonne sal mens nouliks ‘n preparaat vind wat nie magnesium bevat nie. Lyf- en handwasmiddels, huishoudelike reinigers, insekdoders, medisinale produkte, almal bevat magnesium.

Só verneuk ons onsself ter wille van mooi verpakkings en ‘n klomp chemiese byvoegings terwyl ons neerkyk op die boksie met die Epsom sout koevertjies.

 Carine Badenhorst