Daar is iets in die lug

My man het ‘n vreemde soort van geluk. As iemand ‘n muntstuk op die grond laat val het, sal hy die een wees om dit daar te sien lê en dit optel. Hy is erger as ‘n metaalverklikker. Ongelukkig sien hy nooit diamante raak nie. Of dalk verloor mense net nie diamante nie. Sy oë-op-die-grond houding het sekerlik oorgebly van die boerdery dae toe hy na saaityd daagliks gaan kyk het vir ontkiemende saadjies wat groen deur die aardkors beur; andersins het hy seker die grond gefynkam vir onkruid. Hy kan so kinderlik-ekstaties raak wanneer hy ‘n vyfsentstuk optel, al is die goed nie eens meer in gebruik nie. Seker omdat hy so ingestel is op geld dat daardie gelukkies sy kant toe kom.

Ek weer loop bo-oor die blieng en sal nog met die regte, verkeerde skoene daarop gly en op my agterent  beland, omdat ek met my kop in die lug loop. Figuurlik. Noem my ‘n wolkeliefhebber. Ook nie net die wolke nie; enigiets in die lug trek my aan. Van my stoep af, waar dit hoog en oop seekant en oostekant toe is, verlustig ek my in die mooiste lugprente.  Sekerlik die mees intense foto wat ek het, is geneem toe ‘n storm aangekom het. Die hele uitspansel voor my was steenkoolgrys terwyl die huise se mure skelwit afgesteek het van die son wat van Franskraal berg af daarop geskyn het.

Ander gereelde prentjies is die katoenbollige kumuluswolke oor die see, soms koraal pienk getooi deur die son wat oor Pearly Beach se kop opkom;  skakerings tussen swart en goud van die ondergaande son Danger Point se kant toe; ander aande is die skakerings ‘n sagter palet van pienk, oranje en pers of sommer net ‘n bloedrooi son wat agter die kim verdwyn. Verstommend is al die figure wat ‘n mens in wolke kan eien wanneer ‘n mens daarna soek. Ek het al voëls gesien: met wydgesperde vlerke, sowel as ‘n papegaai met ‘n lang stert. Menslike figure en gesigte kom dikwels voor: ‘n ou man met diepgesonke oë; en ‘n baba-gesiggie met bol wangetjies. Daar was ‘n Golgota-kruis in ‘n andersins wolklose oggendhemel en verskeie  hemelvensters: oop, blou kolle tussen gryserige wolke, terwyl die sonskyn van agter af ‘n raamwerk om die venster vorm.

Daar is soveel misterie in die natuur dat ‘n mens dit net in verwondering kan gadeslaan. Tog gaan dit by baie so ongesiens verby omdat dit net nie belangrik genoeg is nie. Nie so belangrik soos daardie hangende saketransaksie of die volgende sportuitsending oor die kassie nie.  Soms sien ons dit so terloops terwyl ons agter die stuur is, op pad na iewers waar belangriker dinge wag.

Terwyl ons nog so onbewus en onoplettend met die natuur omgaan, herinner die media ons aan die bloedmaan-fenomeen wat op 14 April tydens volmaan gaan plaasvind. Dit skok ons tot ‘n bewustheid. ‘n Rooi maan klink na ‘n slegte voorteken. Die Siener van Rensburgs en Nostradamusse van die wêreld sal waarsku dat dit hierdie keer die regte oordeelsdag gaan wees, juis omdat dit so naby Paasfees is. En weereens gaan derduisende mense hulle glo en beangs raak; dalk weer begin voedsel opberg en spelonke onder hul huise grawe. President Zuma het flink gedink, hy het voorsiening gemaak.

Hierdie spesifieke maansverduistering het sedert die eerste aantekening in 1492 gepaard gegaan met beduidende veranderinge in Israel en het ook byna sonder uitsondering plaasgevind op hul eerste dag van Paasfees. In my soeke in die Bybel het ek drie verwysings gekry van die bloedmaan. Die treffendste gedeelte is in Joël met die opskrif “Kom terug na My toe!”  Hier belowe die Skepper dat Hy sy Gees sal laat kom op alle mense wat na Hom toe terugkeer. Dit sal die begin van ‘n heel nuwe era wees en een van die tekens daarvan sal ‘n bloedrooi maan wees. Volgens NASA gaan ons vier bloedmane ervaar vanaf nou tot September volgende jaar.

Vir my is die bloedmaan net nog ‘n boodskap uit die volgende bedeling. ‘n Oproep tot verandering en ‘n nuwe lewe in Christus. En dit kan op geen beter tyd kom as ‘n week voor Paasfees nie.   

Carine Badenhorst