n Ander kar se leisels

Ons is almal karretjiemense, elkeen na sy eie aard en vermoë. As ‘n mens net vir ‘n paar oomblikke jou eie karretjie van die pad af swaai, afklim en op die naaste groen kolletjie of sitbare klip gaan plaasneem, sal jy die verskeidenheid van karretjies sien verbykom.

Die weduwee kom verby in haar kapkar.  Haar gesig is met swart kant bedek, kompleet asof sy haar skaam vir die dood. Sy groet  geen mens nie.  Moet sy so ‘n afstand plaas tussen haarself en mense wat kan help om haar leed te versag?

‘n Boer kom met sy skotskar verby, swaar gelaai met produkte van sy lappie grond af, wat hy na ‘n veraf mark neem om verkoop te word. Is dit regtig die tyd en onkoste werd om sy produkte ‘n dagreis verder te gaan verkoop terwyl die prys op die plaaslike mark glad nie so sleg is nie?

Dan kom  ‘n ossewa sal sien aan, vol gelaai met noodsaaklike lewensmiddele. ‘n Gesin is op pad om te verhuis na groener weivelde. Jy weet nie of jy hulle moet jammer kry en of jy dink hulle is sinneloos om die bekende vir die onbekende te verruil nie.

Wanneer jy die driftige klop van perdepote in die verte hoor, weet jy sommer daar is ‘n poskoets in aantog. Ses perde se hoewe dreun verby.  Waarom die vreeslike gejaag? Is een van die passassiers dalk ‘n voortvlugtige of ‘n skaker?

Die rooi en swart livrei van die koetsier voor op die vergulde koets, kondig reeds van ver af aan dat dit ‘n voertuig met insittendes is waarmee rekening gehou moet word.  Die hele kontrepsie is so ontwerp dat dit die passassiers ten toon stel. Mense wat gesien wil word. Mense wat te kenne wil gee dat hulle beter is as ander. Ook die tenue van die man en die flambojante hoed van die vrou agter die groot glasvensters van die koets getuig hiervan. Is dit net skyn? ‘n Front wat hulle vir die wêreld voorhou?

Uit die stofstert van die blink koets met sy blink perde en blink mense, kom ‘n donkiekarretjie te voorskyn. Die donkies se ore hang halfmas en hulle tred is vertraag, maar dit pla die vriendelike twee mensies op die sitplek glad nie. In die dodemars tempo van hulle verbygaan, groet hulle oorvriendelik en lag wyemond met openinge waar daar graag tande sou wou wees. Hulle gaan sommer net kuier en jy kan nie help om te wonder of hulle hele lewe nie maar net een lang kuier is nie.

Die twee boerperde wat die bont geverfde wa trek, is eweneens nie haastig nie. Sigeuners wat hulle inkomste met wulpse vermaak op dorpspleine verdien en onder die sterre slaap.  Dit laat jou diep dink. Is hulle nie tog maar die beste af van almal nie?

‘n Klein, wart stippeltjie kom nader.  Dit is ‘n man op ‘n spaaidertjie, getrek deur ‘n diamantblink, swart perd. ‘n Paar treë van waar jy sit, trek die koetsier die leisels skerp in. ‘n Pronkerige tabloe deur dier en sy beheerder speel voor jou af. Die man praat nie en jy kry die boodskap: dis net vir kyk. Het die man ooit sy kop in erkenning geknik toe hy die rosette op ‘n skou ontvang het?  Of moes  die perd dit dalk self doen?

So kom mense op die lewenspad voor jou verby; elkeen op sy eie karretjie. En daar waar jy langs die pad sit en hulle gadeslaan, wil jy almal se leisels oorneem en hulle in ‘n ander rigtings stuur as waarheen hulle op pad is. Ons het ‘n eiertjie te lê oor almal wat verbykom; ‘n oplossing vir almal se probleme;  ‘n plan van aksie wat ander se omstandighede ten goede sal verander – volgens ons eie norme.

Wat ons egter uit die oog verloor is dat ons maar net tydelik van ons eie karretjie afgeklim het om hier langs die pad te kom sit. Ons moet weer opklim en verder ry.  Iewers langs die pad gaan daar ook iemand uitspan en ons sien verbygaan.  Die lewenspad is vir almal om te ry.  En elkeen het die reg om sy leisels op sy eie manier vas te hou.

Carine Badenhorst