n Hoekie

Van tyd tot tyd kom daar oomblikke wanneer ek intens verlang na ‘n hoekie. ‘n Eieplekkie. ‘n Sel van afsondering. ‘n Nissie waar ek nie hoef te hoor, sien of praat as ek nie wil nie. Of dit in my nederige huis, my onwelgevallige tuin, ‘n restaurant of buite in die natuur is, maak geen verskil aan die behoefte nie.

Eintlik was ek nog maar altyd ‘n hoekie-mens, van kleintyd af. Groot, oop spasies vul my met ‘n verwesendheid van nie weet waar ek regtig inpas nie. Veral wanneer ek ‘n gesprek met iemand in daardie oopte begin en die toehoorder raak so besig met ander dinge dat ek uiteindelik met ‘n rugstring praat.

‘n Gebondel van mense wat in mekaar se persoonlike spasies indring en almal tegelyk probeer om te praat, vul my insgelyks met die gevoel van ‘n weeskind op ‘n bedrywige stasie waar almal rondom hom die potensiele vakansie-ouers mag wees op wie hy wag. Hy vra links, regs, vorentoe, agtertoe, maar niemand staan lank genoeg stil nie. Dan besluit hy om op die spoorwegbankie te gaan sit tot die roesemoes bedaar het en iemand hom nader. Dit, weet hy, sal die regte mense wees. Saluut! my kind.

‘n Kakafonie van deurmekaar stemme en woorde kon my nog nooit aanstaan nie; daarvoor is eerlike, openlike gesprek vir my te heilig. Die onderwerp is van minder belang. Of dit die deel van gemeenskaplike belangstellings behels, die uitpraat van, verskoning of vergifnis vra vir iets wat aan jou binneste knaag, die belydenis van ‘n diep emosie of sommer net ‘n lekker, ontspanne gesels oor dinge van die dag, dáárvoor het ‘n mens ‘n hoekie nodig.

As ek  wel  by ‘n tafeltjie in die middel van ‘n besige restaurantvloer beland, hou ek my by my eie protokol: geen name hardop  oor my lippe nie. ‘n Mens se mond praat vorentoe, maar jou ore luister na links en regs van jou kop ook tog. So het ek al ‘n paar stories gehoor van mense wat ek ken  - dat die wêreld klein is, is nie ‘n leë idoom nie - en dit klink nie mooi nie. Ek glo ook nie die gesprekke was bloot ter wille van skinder nie; dit was vriendinne wat hul hartsgeheime oor koffie en roomkoek met mekaar gedeel het. Dis daardie tyd dat ek wil omdraai na hulle toe en sê: “Kry eerder vir julle ‘n hoekie.”

‘n Hoekie skulp jou van twee kante af toe, drie as jy so gelukkig kan wees. Dit beskerm jou teen ‘n bekruiper van agter af. Hoekies bring jou nader aan die ander wat jy saamnooi om dit mee te deel. Nie net fisies nie, maar ook op sielsvlak. Dis in die afsondering van ‘n hoekie waar gedagtes makliker ontkiem. Die beligting bly lokaal sodat die donssagte verhitting jou gevoelens openbaar soos die nuwe wêreld van ‘n kuiken wat homself uit die dop bevry het. Hoekies skep ‘n vertroulike ambience vir empatiese of simpatieke aanraking sonder dat diegene rondom jou jou seksuele voorkeure agter bak hande  kan bevraagteken.

Hoekies laat my binnekant buite toe uitdop. ‘n Hoekie kan skuiling bied teen die verbygaande stroom van leë, gevoellose mede-reisigers op die lewenspad. Dit kan terselfdertyd al jou skanse afbreek en jou ‘n fontein maak van skoon, borrelende water diep uit die berg wat ander mense aansien as die ondeurdringbare vesting wat jy eintlik nie is nie.

Dit is nie asof my hoekies deesdae beperk is nie; hulle is skitterend in hul afwesigheid. Ek beloer een hoek in my leefvertrek en visualiseer die murmel van ‘n piepklein watervalletjie terwyl feëliggies tussen blinkgroen blare knipoog. In die teenoorgestelde hoek visualiseer ek ‘n ou, guitige, lekkersit-stoel onder ‘n leeslamp; een met Queen Anne vlerkies waarteen mens jou kop kan skuinsgooi en ‘n voetstoeltjie met ‘n blokkieskombers gemaak van polar fleece.

Almal is nie hoekiemense nie en by gebrek aan iemand om die behoefte te verstaan, klim ek op my tweehonderd jaar oue bed, trek die wit beddegoed tot onder my ken en nestel my teen die akkerhout katelstyl.  Dis my hoekie en hier verbeel ek my soos en wat ek wil. En ek gesels lang stories met Die Een met wie ek een in gees is, want Hy is my hoekie.  

Carine Badenhorst