Deksels

Wat is dit met deksels? My maandlange gesoek na dekseltjies vir spesifieke bakkies, loop uit op ‘n kwartier-lange redekawel met die verskaffers. Die deksels is in pakkies van vyf en twintig verpak terwyl die houertjies in pakkies van tien kom. Hoe nou gemaak as ek ‘n dekseltjie vir elke houertjie wil hê en die dekseltjies kan nie apart verkoop word nie? Ons hiernatoe en soontoe. Die kassiere, voorraadklerk, rakpakker, bestuurder en ek het elkeen ‘n eiertjie te lê. Ons maal en deel, tel op en trek af, maar die voorraadklerk hou voet by stuk: sy het net kodes op die rekenaar soos wat die verpakkings van hulle verskaffer af kom.  Hulle maak glad nie voorsiening vir die verkoop van enkele dekseltjies nie. En ek bly by my storie: wat moet ek dan maak met óf vyf orige dekseltjies, óf vyf orige bakkies

Dis reeds erg genoeg dat al die onder-toonbank-rakkies en kassies in my klein kombuisie gevul is met deksellose bakkies, terwyl die dekseltjies iewers elders los lê. Al wat margarienbakkie is, moet gehou word vir my man se groot potte sop wat hy uit pure plesierige verveeldheid op die buitevuur kook wanneer die winter begin byt. En alles moet heeljaar deur in die huis opgegaar word.  Dit neem my ‘n halfdag om alles te orden, maar ‘n week later lyk dit maar weer soos ‘n deurmekaar herwinningsaanleg.

In die pakkamer is winkelsakke met bakkies en winkelsakke met deksels, maar om te probeer om pasmaats daaruit op te diep is ‘n onbegonne taak. Niks pas by niks. Ek het al geleer om die houers wat ek die meeste gebruik, met hulle deksels bo-op, in een van die diep laaie in die kombuis te bêre, want vir ‘n deksel soekery is my geduld-tuintjie se paadjies nie uitgelê nie.

Daar is nog ‘n deksel-droefgeestigheid in my huis. Die glasdeksels van kastrolle verdwyn een na die ander. Net weg. Al die kastrolle en panne is gekoop met deksels waarvan net een met my wete gebreek het. Oënskynlik het hierdie gebreekte een vyf ander ook saamgesleep moppe toe; dit is logiese verklaring waarmee ek na vore kan kom, al is dit hoé belaglik.

Ook met die aankoop van los deksels vir inmaakflessies, bevind ek my in ‘n dilemma. Net klein dekseltjies, wat, soos die verkoopdame self erken, nie juis in aanvraag is nie, is in die mandjie op die rak. Nou waarvoor, vra ek haar, hou julle ‘n surplusvoorraad van goed wat nie in  aanvraag is nie, terwyl die immer-gewilde grootte vir die tweede keer dat ek daarna soek, nie beskikbaar is nie?  Nee, sy sal self nie kan sê nie. Sy doen nie bestellings nie, sy pak net die rakke met dit wat sy uit die stoor ontvang . Ek vra wie die bestellings plaas en halfhartig beduie sy na ‘n man. Ja, dink ek, dis omdat julle vroumensgoed aan mans oorlaat. Dis net so erg as destyds toe ‘n mannetjiesvroumens besluit het vrouens moet die manlike domein betree eerder as by die huis bly en net dit wees waarvoor hulle geskape is. Ek gee sommer vir hierdie man sy antwoord voordat ek hom die vraag gevra het: uit voorraad by die verskaffer. Hy kan niks anders doen as om sy skouers op te trek nie en die meewarigheid waarmee sy een mondhoek optrek, vertel vir my dat hy half versigtig is om ‘n vriendelike glimlag op te tower.

‘n Mens moet maar probeer vrede maak met die sukkelbestaan van deksels, want deksels is tog ‘n baie belangrike item. Dit leer die lewe ons. Sonder ‘n digpassende deksel word jou inmaaksels sleg. Dit gis, dit verloor sy smaak, dit kim. Só dat jy dit naderhand moet weggooi. Al jou moeite om met preservering te bewaar is daarmee heen.

Sommige potte kry nooit die regte deksels nie; hulle bly sommer net daar op die rak. Vergader stof en spnnerakke. Ander draai die deksel so styf op dat die draad strip en die deksel om en om en om kringloop, tot sattens toe. Sulke deksels moet mens maar liewer weggooi en jou energie gebruik om tog maar te soek vir ‘n deksel wat pas. Dalk, net miskien, is jy gelukkig.

Carine Badenhorst