As hulp geskape

Met die wysheid van die grysheid kry ‘n mens sekerheid oor baie dinge en een daarvan is dat God alles wat Hy doen goed bedoel. In ‘n paradys waar die lewe eenvoudig, ongekompliseerd, gebalanseerd en harmonieus was, was dit Sy bedoeling dat die vrou haar man se hulp moes wees. Hy sou gaan jag en sy sou die vleis gaarmaak; hy sou die huis bou en sy sou dit ordelik en skoon hou; hy sou sy vinger met ‘n klip oopkap en sy sou dit met salwe wat sy uit die natuur aangemaak het en met blare verbind; hy sou die stamme van bome en rankers afkap en sy sou daarvan matte maak waarop hulle kon slaap.  Die vrou sou kinders in die paradys inbring en die man sou hulle bekendstel aan die natuur en hulle oplei hoe om dit te respekteer. Hy sou die seuns leer om te jag en te versamel terwyl die vrou die dogters sou leer om voor te berei en te bewaar. In sinchronisasie met mekaar; nie in kompetisie nie.

Maar toe kom die ongehoorsaamheid en alles verander. Man en Vrou word uit die paradys verjaag en moet hulle eie potjie krap. Natuurlik het hulle mekaar blameer: “Jy het mos gesê ek moet eet!” en van haar kant af: “Jy is die man, die hoof, jy moes van beter geweet het en my gestop het!”

Die vertroue in mekaar was skielik nie meer daar nie. Hoe kan sy ooit weer die man vertrou wat haar moes beskerm teen hierdie swerftog oor die aardse wildernis waar hulle gedurig moet vlug vir wilde diere en waar daar plante is wat hulle tot sterwens toe siek maak? Van sy kant af, loer hy soms na haar met suspisie en skeptisime, want sy is net nie meer die liefdevolle maat en versorger nie. Haar kos smaak nie meer so lekker nie en sy bed is ook nie meer so warm nie. Hulle albei het ‘n hardheid in hulle harte wat nie altyd daar was nie.

Selfs hulle kinders bring vir hulle hartseer en pyn as die oudste een sy eie broer doodmaak. Weer is daar verwyte: “Jy het hom so grootgemaak, want jy wil van hom die man maak wat jy nie meer is nie!” Dalk het hy haar verwyt dat sy die jongste nie goed genoeg opgepas het nie, daarom dat hy weggeraak het?

So vermenigvuldig die eens perfekte paartjie van die paradys en word ‘n nasie wat oor die aarde versprei. Die aarde wat die woonplek van satan is. Die mans maak afgode en voer oorlog terwyl die vroue op enige moontlike manier probeer om siel en liggaam aanmekaar te hou. ‘n Klein persentasie van die mans kies egter om die God van die paradys te aanbid terwyl ‘n ewe klein porsie vroue hul gesinne voed met die Ewige Voedsel.

Vir eeue lank gaan dit so aan terwyl die aarde al voller raak en die mens dit met allerlei nuwe uitvindings kommersialiseer. Tog bly die vrou steeds ontevrede. ‘n Amerikaanse mannetjiesvrou-mens – of was sy? - besluit om soos ‘n Filistynse aanvoerder teen die mansgeslag op te trek. Ter wille van vroueregte. Want sien, die man het al in die paradys gewys hy is nie by magte om alle verantwoordelikhede op sy skouers te neem nie. Vroue begin in strate betoog, hoedjies op die koppe, sykouse en hakskoentjies aan die voete en reuse-plakkate bokant hulle koppe. En op die ou einde wen hulle en juig uitbundig omdat hulle nou dieselfde regte as mans bekom het. Die vrou het haar paradys, wat die man met sy lafhartigheid van haar ontneem het, teruggevat.

Regtig?  Nee, Vrou! Jy het dit mis. Dit is nie waarvoor jy geskape is nie. Jou opdrag was om ‘n hulp te wees vir jou man. Dit is jou roeping. Dit het niks met geld te doen nie want in die paradys was geld nie nodig nie; dit is ‘n kommoditeit wat buite die paradys beslag gekry het toe die mensdom gulsiger en gieriger geraak het.

As vroue en moeders plaas God ons terug in die paradys. Al wat ons moet doen, is om aan Hom gehoorsaam te wees in hierdie opdrag, nie aan die wêreld nie. Gelukkige Moedersdag!

Carine Badenhorst