Met hierdie spesiale uitgawe van “Seestrome” herdenk ons die sewentigjarige bestaan van ons gemeente – die Nederduitse Gereformeerde Gemeente van Gansbaai, afgestig van die Stanford-gemeente in die jaar 1944.
Hoe kan ons anders as om al die dank en die eer en die lof van ons harte aan die Here te bring!
Oor die jare - en veral sedert die middel negentigs - het Gansbaai-gemeente groot veranderinge ondergaan. Oor die lengte en die breedte van ons land het nuwe lidmate by die gemeente aange-sluit. Die Here het die eens vissermansgemeente omskep in ‘n diverse gemeente. ‘n Groot persen-tasie van die gemeente bestaan tans uit afgetrede mense wat hier in Gansbaai, De Kelders, Perle-moenbaai, Kleinbaai, Franskraal, Uilkraalsmond, Pearly Beach en Baardskeerdersbos kom woon het.
Ons wil hulde bring aan die vissersgemeenskap wat hier op Gansbaai vir ons ‘n pragtige kerkge-bou opgerig het en wonderlike fasiliteite voorsien het en die grondslag van die plaaslike gemeente gelê het. Ons eer gemeenteleiers en gemeente-lede wat ons vooruitgegaan het, maar terwyl hulle hier was, gemeente gebou het.
Die gemeente het goeie tye en moeilike tye beleef. Deur alles was die Here getrou.
Bewus van ons eie swakheid, vertrou ons op die Here se liefde en genade, sy ontfermende sorg, raad, leiding en toerusting vir ons gemeente in die toekoms.
Dit is ons gebed dat ons gemeente in ons ge-meenskap ‘n draer van lewende hoop sal wees.
♦ Mag die NG Kerk in Gansbaai se gemeenskap - en veel wyer! - bekend wees as ‘n gemeente met oop deure, getuigend diensbaar aan die evangelie van die Gekruisigde Jesus as die Christus van die grootste sondaar.
♦ Mag die NG Kerk in Gansbaai se gemeenskap bekend wees as ‘n gemeente met ‘n hart van deernis vir gebroke mense.
♦ Mag die NG Kerk in Gansbaai bekend wees as ‘n gemeente wat blymoedig gee - ons beste vir ons God. Soli Deo Gloria.