Nagritte

Dit is die eindelose gejaag van motors op die N1 wat my gedagtes terugvoer na die nagritte van my lewe. Wat ‘n fyn bekoring lê daar tog in  ‘n nagrit en hoe gering word dit geskat.

Die eerste nagrit waarvan ek kan onthou het abrupt in helder daglig gekom toe die stoomtrein deur Du Toitskloof se tonnel klak .  Ek was kind-kind en dit was ons eerste vakansie na my jong pa se dood.  Die skielike donkerte  in ons huis was soos die tonnel se ingang: vreesaanjaend. Die onsekerheid oor wat vorentoe wag, benouend. Die donkerte het gevoel asof dit nooit gaan ophou nie.  Maar  dan, opeens, was die lig weer daar;  die wete dat daar steeds ‘n son skyn. En die hoop dat dit vir ‘n lang tyd vir ons gaan lig wees. 

Daar was tye wanneer die trein vir ons stilgehou het terwyl dit reeds nag was. My moedertjie se siekte ‘n jaar na my pa se dood was die dofverligte perron van De Aar se spoorwegstasie. Spookagtig, met die herinnering aan die swart  en wit fliek oor die oorlog wat ons in Napier se bioskoop gaan kyk het toe Pappa nog geleef het. Die koppeling van die trokke in die ranggeerwerf was  bomme van vrees wat neffens my ontplof het. Sê nou ons verloor haar ook?   Maar die oorlog het verbygegaan. Mamma was gespaar, al het sy die letsels gedra soos die “SAS” wat op die blou wolkomberse  van die trein gestempel was. Haar kombers van liefdevolle versorging het warm om my gevou ek  kon  salig wegdommel onder die ritmiese rakke-tak-rakke-tak van die wiele op die lewensspore  wat ons vroumense gesinnetjie die toekoms ingevat het. Tot vandag toe bly treinslaap een van my groot lekkertes.  Daar is ‘n eienaardige misterie aan die wakkerword en uitkyk op die perron van ‘n nagstop-stasie, sonder om regtig heeltemal wakker te word.

By geleentheid was daar ‘n nagrit van vergifnis en versoening oor ‘n kalwerliefde wat nie die toets van tyd en afstand kon weerstaan nie. In die intieme spasie van ‘n voertuig met die dowwe beligting van die paneelbord is dit net soveel makliker om te verwyt.  Die donker trek ‘n genadige gordyn dig teen emosies wat deur die vensters van die oë tot diep in die siel kyk. Die nag por jou aan tot eerlike verwoording; terselfdertyd  temper dit jou veglustigheid tot ‘n ontvanklike weerloosheid. Iewers tussen die boorde van Citrusdal kon ons hande-vat met die wedersydse besef  dat ons nooit die lewenspad sou saamloop nie, maar dat ons harte altyd vir mekaar oop sou bly.

Op ‘n keer was ek een van ‘n klein groepie wat op ‘n halfmaannag te perd deur Karooveld gery het na die hoogste – en desnoods die enigste- koppie binne die plaas se wydgespande grensdrade. Ons  wou vir ons sterre gaan pluk omdat hulle ‘n armlengte ver gelyk het.   Deeglik bewus van die gevare soos ongediertes wat op die jag mog uit wees en dat my perd mag skrik vir ‘n haas wat skielik opvlieg, was ek heeltemal bereid om die risiko te loop. Natuurlik het nie een van ons by die opstal aangekom met ‘n sak vol sterre nie, maar ons is beloon met die asemrowendste gesig wat ek al ooit aanskou het.  Daar, met my kop in die voorportaal van die hemel, het ek besef  dat  die mens wat bang is om te waag, bang is om te lewe.  En dat die een wat bang is om te waag en te faal,   reeds die lewe verloor het.         

‘n Mens onderneem ‘n nagrit omdat jy wil of omdat jy gedwing word om dit te doen. Soms laat die lewe jou geen ander keuse nie, maar ander kere maak jy dit ‘n doelbewuste ervaring.  Moenie onverskillig voortjaag in die nag nie. Nie op asfalt nie  en ook nie op die lewenspad nie.  Daar skuil oneindig meer in ‘n nagrit as wat die oog kan waarneem. Elke nagrit hou ‘n belofte in:  Lig.  Aan die einde van ‘n tonnel of met die aanbreek van ‘n nuwe dag.  Maak die meeste van jou nagritte.  Pluk vir jou ‘n ster. Al kry jy hom nie regtig in die hande nie, probeer ten minste net. Reik boontoe, na daar waar daar ‘n Lig is.

Carine Badenhorst