Vat jou goed en trek

Van meet af aan het mense getrek. Sestig  duisend jaar terug het homo sapiens uit Etiopië weggetrek, vermoedelik as gevolg van die afkoeling van die vorige Ystydperk wat hewige lewensverlies tot gevolg gehad het. Met die klimaat veel warmer in Westelike en die meer suidelike deel van Afrika het die bevolking weer begin groei en het verdere migrasie plaasgevind na Suid-oos Asiê, Indië en Australasië. Uit hierdie migrasie het splintergroepe Sentraal- en Oos-Asië as blyplek verkies terwyl nog ander vanaf vyftig duisend jaar gelede die ruigtes, pleine, kus en gebergtes ingevaar het na Europa en die Meditereense gebied. Amerika is ongeveer twintigduisend jaar gelede bereik.

Die Israeliete het uit Egipte getrek; die Voortrekkers uit die Kaap. Almal het dieselfde vooruitsig gehad: beter omstandighede.

So ‘n trekkery, soos enige trekkery steeds, beteken die bymekaarmaak, oppak, inpak en vervoer van alles wat jy het. Vir die mense van Etiopië was dit in vandag se terme sekerlik die maklikste omdat hulle bitterlik eenvoudig geleef het. Die Israeliete het al meer gebruiksartikels gehad, asook ‘n meer mobiele, uitgebasterde pakdier ras. Die Voortrekkers was nog verder ontwikkel wat vervoer en lewensmiddele aan betref.

En hier sit ons vandag en ons kreun en kla oor ‘n trekkery. Die mooigoed en oordadige gebruikgoed, die elektroniese speelgoed en kaste vol klere wat jare laas gedra is, moet alles verpak word. Kartonhouers bly ‘n probleem en ons hardloop van winkel na winkel om betyds genoeg bokse bymekaar te maak. En koerante om die fynigheidjies te beskerm. Soggens is ons vol moed dat dit die gulde geleentheid is om van al die onnodige vasies en kastrolle ontslae te raak. Vanaand flop ons soos ‘n stuk jellie in die bed neer, nie soseer van moegheid nie, maar omdat ons die geestelike stryd van weggooi verloor het. Alles moet saam. Dit kan aan die anderkant uitsorteer word.

As die vervoerwa opdaag, hardloop ons heen en weer saam met elke meubelstuk. “Pasop tog” hier en “Wees net versigtig” daar.  Selfs wanneer ons gebruikmaak van die self-pak vervoerdiens met jare se ondervinding, kartondose wat Houdini sou laat skrik en versekering teen enige beskadiging van hulle kant af, is ons steeds tussenin met raad en daad.   

Die uitpak anderkant is eweneens ‘n opwindende riller. Uiteindelik in die nuwe tuiste met genoeg pakplek om die aanvanklike uitdun-idee met gemak oor die skouer te gooi soos ‘n knippie gemorste sout. Linkerskouer vir geluk.

Sommiges van ons werk dag en nag om alles gelyk uit te pak; ander kan leef met ‘n pakkerasie in die garage wat later, of dalk nooit uitgepak kan word. En so begin die nuwe era in ‘n nuwe tuiste tot met die volgende trek. In retrospeksie, met alles op hul plekke – of dalk nie- is ‘n trekkery tog ‘n goeie ding. Dit laat mens ‘n slag voorraad-opname doen van wat jy het.

Nou, met ‘n beker welverdiende koffie in die hand om die nuwe staan van ‘n geliefkoosde diepsitstoel te toets, so met die voete op ‘n voetstoeltjie wat juis uit die garage opgediep is omdat dit ‘n nuwe oortreksel kort, is dit tyd vir ‘n ander trek: die koptrek.

Ons gaar hopeloos te veel goed in ons psige op. Van tyd tot tyd moet ‘n mens skoonmaak, weggooi en trek na ‘n nuwe psigologiese tuiste. Maak jou wrokke wrakke en laat hulle wegsleep skrootwerf toe. Poleer die aangeslane silwer van teleurstelling en pak dit uit op die tafeltjie waar jy gereeld jou vaas met vars blomme neersit. Gaan deur jou medisynekassie, soek al die verby-vervaldatum medikasie uit en plak op elke houer ‘n briefie met een van jou seer-of pyngoed en gooi dit dan met ‘n passie in die vullisdrom. Nog beter: skryf op toiletpapier en gooi dit saam met die pille of medisyne in die toiletbak. Spoel dit weg, uit, drein toe. Of verbrand dit in die kaggelvuur. Solank jy die vernietigingsproses met sadisme geniet.

Trek is nodig. Stagnasie is vir niemand goed nie. Daar is vir ons almal ‘n Beloofde Land. Hoe lank en hoeveel trekke dit ons neem om daar uit te kom, is nie vir ons om te bepaal nie. Al wat ons moet doen is om die trek daarheen, padlangs of op die geestespad, met vreugde aan te pak en deur te voer. 

Carine Badenhorst