Narsingsisme

Somtyds kom spring  ‘n  woord of begrip mos voor  ‘n  mens in en klou hardnekkig vas vir herhaalde kere voordat dit weer die wyk neem. Met die eerste narsingblomme in die agterste sonhoekie, dink ek aan die woord  “narcissisme.” Met die besef dat ek  ‘n  vae idee het wat dit beteken, maar nie eintlik regtig weet nie. Die sosiale netwerk sorg vir die tweede sprong toe “Wie is ek?” die stelling maak dat hierdie afwyking deesdae al hoe meer aan mans toegedig word en vra of ons al met hierdie term te doene gehad het en daardeur geaffekteer is. En weereens besef ek my onkunde. Toe ek dit weer – alles binne die bestek van tien dae- in  ‘n  tydskrif raaklees, besluit ek dit is  ‘n  vinger wat na my verstand toe wys. Dis tyd vir kennis opdoen.
Narcissisme is iets soos  ‘n  oordrewe grootheidswaan.Dit het niks met narsings te doen nie. Narsings ruik lekker. Narcissisme stink, want dit is  ‘n  lelike eienskap in  ‘n  mens. Dis iets wat verhoudings vertroebel en mense van jou af wegdryf. Die ergste van die stink is dat dit hoofsaaklik mans is wat daaraan ly. Narcissiste ag hulself so verhewe  dat dit hulle geensins pla dat en hoeveel hulle ander mense te na kom en seermaak nie.

Al weer die arme mans! Dit is nie my bevindinge nie en as ek dit kon verander sou ek. Mans is vinnig om onder mekaar te beaam dat hulle vroue nooit sal verstaan nie. Vroue, aan die ander kant, doen moeite om te verstaan waarom hul mans bedinges is. Dis hoe ons weet van al die geite waarvan hulle nie weet of wil weet nie. Een so  ‘n  ernstige geit is hierdie narsingding.

Baie van ons vroue meen ons mans het geen empatie nie. (Vir die mans: “empatie” beteken om te besef hoe iemand anders voel. Dis anders as die saam jammer voel van “simpatie”) Ons voel hulle is ongenaakbaar in besluite wat die gesin aangaan, sonder om almal se omstandighede in aanmerking te neem.

Hulle wil heeltyd in  ‘n  magsposisie wees, hetsy tuis, by die werk of in sosiale opset en is dikwels die mening toegedaan dat ander mense, veral mans, afgunstig is op hulle.

Aanvanklik kan dit heel komies wees wanneer jou man homself prys, homself in die spieël komplimenteer en daarop aandring dat hy op elke foto moet verskyn wat geneem word met die kamera wat sý geld vir jou gekoop het.

Selfvertroue in  ‘n  man is  ‘n  aantreklike eienskap. Wanneer dit die perke oorskry en hy homself gedurig ophemel en dominerend optree of van sy verantwoordelikhede as man op sy vrou afskuif, raak dit problematies. Dit kan sover gaan as dat die man sy vrou se kennis of vermoëns sal uitbuit tot eie voordeel en dan agterna spog oor dit wat hy vermag het.

‘n  Gesellige en joviale man is  ‘n  aanwins vir sy vriende. Indien grapjas sy jas uittrek wanneer hy sy eie domain betree en dit aan die hekpaal ophang, val alles wat snaaks is weg. Dan raak hy weer domineerder en outokraat.

Hy kyk eers die geselskap heel apaties deur voordat hy  ‘n  stuiwer in die armbeurs gooi. Baie mans doen dit. Hy sit en wag vir  ‘n  spreekbeurt, soms openlik afkeurend en ongeïnteresseerd in dit wat ander op die hart het. En wanneer hy praat, verwag hy dat almal aandagtig na hom sal luister. Hy is ook geneig om afbrekende persoonlike houdinkies van sy vrou of vriend in die gesprek te bring om hom beter te laat lyk. Wanneer iemand  ‘n  stelling wat hy gemaak het wil korrigeer of iets wil byvoeg, sal daardie persoon Die Kyk kry of stilgemaak word.

Tuis staan hy op, draai sy rug en stap weg terwyl sy vrou of kind met hom begin praat. Die boodskap: Wat jy wil sê is nie belangrik genoeg vir my nie, of dit pas nie in my kokon van eiebelang en selfsug nie. Sou jy hom tot stilstand en oogkontak dwing en jou storie vertel sal die antwoord – indien enige- amper sonder uitsondering wees: “Maak maar soos jy dit goed dink.”

Op sigself is elkeen van hierdie houdinkies dalk hanteer- en verteerbaar, maar tesame, aanhoudend en voortdurend, het jy te doen met  ‘n  Narcissis. En dit  verswelg selfs die soet reuk van narsings  op die voorkamertafel.

Carine Badenhorst