Tennis fiks

By gebrek aan ‘n   strandtennisstel soos die bure se kinders had, het ek en my sus maar begin met planke wat ons verkerf het tot ‘n  tipe slaanding met ‘n  steel. Dit het ‘n  paar blase gekos om ons tot die besef te bring dat ‘n  lap van enige soort rondom die steel minder skade sou berokken. Iewers, eendag, moes Mamma ons jammer gekry het – dit was seker maar rondom Kersfees toe sy ‘n  bonussie gekry het – en vir ons die regte stel gekoop.

Toe ek op hoërskool beland en die geleentheid kry om regte tennis te speel, was die probleem ‘n  raket. Toe Oom Dokter eendag met drie van sy oues by die deur instap, moes ek ‘n  handpas een uitsoek. Dit was die beste raket in die wêreld. Katdermsnare soos die grootmense s‘n  en die steel was toegedraai met ‘n  growwerige wynrooi  leer. Koninklike wynrooi.

Die eerste keer toe ek die baan betree, was ek windgat met my raket. ‘n  Mens kon dadelik die verskil in snare sien teenoor die gegoede kinders se nuwe rakette. Myne was vaalgeel teenoor hulle blinknuwe, deurskynende  nylonsnare. Die bal het teen my raket ge-poing soos wanneer mens aan ‘n  kristalglas tik. Hulle s‘n  het so ‘n  dowwe pong-klank gemaak. Dit het vir my ‘n  sielkundige voordeel gegee. Met hierdie raket in my hand het ek ‘n  verpligting op myself gelê om beter as al die ander beginners te speel. En ek het. Sommer van meet af aan.

Alhoewel ek netbal gespeel het, het dit my nie aangestaan nie. As hulpdoelverdediger het ek die meeste van die tyd met toegedraaide, verstuite vingers rondgeloop.  Ek wou net tennis speel. Daar kon ek myself uitdaag om taktiese houe te speel en leer om my opponent se plasing te lees voordat hy of sy die bal geslaan het. Vakansietye wou ek tennisbaan toe terwyl ander skoliere laat slaap. Oom Dokter, wat ons van tyd tot tyd kom afrig het, het my genooi om op die dorpsbane saam met die dorpspan te gaan oefen. Hy het my al die fyner puntjies van afslane geleer. Oor en oor totdat ek die perfekte kishoue kon dien.

Kort voor lank het ek wedstryde vir die skool sowel as vir die dorp gespeel. Ek was nie so ‘n  uitblinker dat ek ooit die eerste span gehaal het nie, maar tweede span was goed genoeg vir my. Ek moes en kon alles uithaal op die tennisbaan. Ek het dit beskou as ‘n  tegniese spel wat voortdurende konsentrasie geverg het. Dit was‘n  ander wêreld wanneer ek tussen daardie wit lyne was.

Na  skool het ek sommer dadelik by Sanlam se tennisklub aangesluit en vir hulle gespeel totdat ‘n  motorongeluk my van die baan gedwing het. Dit was egter die tennisbaan wat my ortopeed se oë van verbasing laat rek het oor my verbasende herstel van ‘n  heup- en beenverplasing wat hy gereken het nooit sou verbeter nie. Ek het sy opdrag ignoreer om myself versigtig weer aan sport te begin blootstel deur rondom die krieketveld te stap totdat ek hom weer ses weke later moes gaan sien. Na ‘n  week se stap het ek besluit om weer te begin tennis oefen teen die oefenmuur. Stadigweg, sagkens, want ses maande op my rug was nie iets wat ek sommer weer wou herhaal nie.

Ons is getroud in dieselfde jaar toe televisie Suid-Afrika getref het. Die volgende jaar het ek op Wimbledon begin speel. Op die bank in Helderfontein se groot plaashuis. Hoogswanger in die wintersonnetjie.  Dit was die dae toe Jimmy Connors en Bjorn Borg mekaar jaar na jaar in die eindstryd gepak het. En Chris Evert en Martina Navratilova in die dames eindstryd. Bekers rooibos het Earl Grey geword en varsgebakte plaasbrood komkommertoebroodjies.

Vandag werk dit anders: nou raak ek fiks tussen die banke van die woonstel en die huis. Die kleinseuntjie kyk Cars of Lollos. Ek Wimbledon. As hy in die huis is, is ek in die woonstel. Wanneer hy my kom soek, druk ek die AV/TV vir sy dvd, los hom daar en snel huistoe en druk daar die AV/TV vir Wimbledon. So draai ons nes die spelers tussen stelle. En so word ek weer tennis fiks, banklangs.

Carine Badenhorst