Koos en die Hoededoos

Bo in die spaarkamer staan ‘n   hoededoos. ‘n   Grys tweed een. Elke keer as ek in hom vaskyk, vertel ek hom hy moet eintlik nie daar weggesteek wees nie, want hy is vintage, amper antiek. Van baie gebruik – dit kan  niks anders wees nie – makeer hy ‘n   handvatsel en is dus nie meer so mooi nie. Tog dink ek telkens ek doen hom ‘n   onding aan om nie gesien te word nie. In my gedagtes is hy al met vintage pienk en rooi rosiepapier ge-decoupage;  hy het al ‘n   Victoriaanse rangskikking van droë blommetjies op sy deksel gekry; met sy deksel half-oop gestaan terwyl kant, satyn en pêrels guitig uit hom borrel.

Maar hy staan steeds waar hy staan, onaangeraak en handvatselloos. Graag soos ek hom meer in die oog wil hê, spaar ek hom eerder die vernedering om deur een van die katte verniel te word. Die katte het ‘n   manier om op en in alles wat hoog, hol en lap is, hul lê te kry. En hoe lekker sal hulle nie hulle naels teen die hoededoos se tweed rand slyp nie. Nee, dan liewer agter die toe spaarkamerdeur.

Sommige nagte hoor ek Hoededoos praat. Met Koos. Koos is die  roomkleurige kamerpot met die pienk appelbloeisels  wat net-net onder die een bed uitsteek. Hy is omtrent dieselfde ouderdom as Hoededoos, maar hy is ook maar sommer net. Geen inskripsie aan die onderkant nie en sy geskiedenis is nêrens op die internet te vinde nie. Hy’s sommer net mooi. Sy tandeborsel bekertjie en seepbakkie-familie is êrens in ‘n   kas in borreltjiespapier weggepak.

Hul gesprek begin altyd dieselfde en eindig tot my frustrasie altyd op dieselfde punt. Hoededoos is in 1946 aangekoop as deel van ‘n   stel reistasse. Duur! Omdat die laaghoutvorm  met tweed oorgetrek is. In die Kaap by Stuttafords gekoop om op wittebrood te gaan. Die wittebrood het nooit gebeur nie, want die ontnugterde plaasbruid moes volstaan met die koms van die reën wat saaityd aangekondig het. Instede van ‘n   reis in die kattebak van die Ford T-model het Hoededoos hom bo-op die kas in die slaapkamer bevind. Binne-in was die swart filt begrafnishoed met die fluweelband, die ligtebruin raffiahoed met die vrolike klossie blomme van allerlei kleure om by alles te pas en die vaalblou kopstuk met die lapblom en drie lang veertjies wat die bruid op haar troudag gedra het.

Koos en sy familie kom van Josie Newmark se winkel op Napier. Aangekoop as deel van die bruid se trou uitset. Dit was lank weggepak tussen die gehekelde lappies, laken-en-kussingsloopstelle wat sy as jongnooi pynlik sit en borduur het onder die wakende oog van haar moeder. Onder die handdoeke en ander stukke was die wit katoen doodskleed met die kant valletjies en rye opnaaisels. Alles met die hand gemaak, want Moeder het geglo alle kisgoed moet eiehandig met liefde en deernis vervaardig word. So behou mens die respek daarvoor.

Die opgewonde bruid het nie vooraf geleentheid gehad om al haar mooigoed in haar nuwe huis uit te pak nie. Dit was taboe om alleen onder dieselfde dak as jou aanstaande te verwyl sonder die troupand aan die vierde vinger van die linkerhand. Sy het uit haar ouerhuis getrou en sou eers na die wittebrood haar nessie volgens haar eie smaak kon inrig. Vir eers moes sy en haar nuwe man hulleself aan mekaar gewoond maak. Mekaar sy lywe verken en mekaar se siele aan elk ander ontbloot. Eers daarna kon die materiële dinge aandag kry.

By gebrek aan ‘n   wittebroodsreis  is Koos op die huweliksnag taamlik ru onder die wastafel ingeskuif en sy familie langs die spierwit lampetkom en –beker bo-op die wastafel geplaas, nadat die bruid die driekwart bed met die nuwe klapperhaarmatras in haar fyn, geborduurde linnegoed oorgetrek het. In die deur het die bruidegom, een skouer teen die kosyn,  elke beweging van sy nuwe vrou se lyf met angstige ongeduld dopgehou  terwyl sy buk om die lakens onder die matras in te vou terwyl die lamplig haar bewegings teen die kaal mure van die kamer mimiek.
Hoededoos en Koos se storie eindig telkens hier in ‘n   gegiggel. Eendag, miskien, sal ek hul lewensloop verder aan ook hoor.

Carine Badenhorst