Briefskryf argadese kunsvorm

Hierdie tyd van die jaar is dit my tyd om skryfblok en pen op te neem om ‘n paar outydse briewe te skryf vir ‘n paar oues van dae. Sommer omdat dit aan hulle beter bekend is en hulle meer vreugde verskaf as die getikte weergawe. Eerstens soek ek my kaduks na die regte skryfblok wat ek iewers, met goeie bedoelings, veilig bewaar het. Net om weer eens te besef my veilige bewarings van ‘n week gelede eindig gewoonlik in ‘n malkop frustrasie; dus, om ‘n jaar gelede se bewaringsartikel te probeer opspoor, is ‘n nodelose taak. Dan gaan koop ek maar ‘n nuwe een. Neem my ‘n volle tien minute voor die skryfbehoefterak, waar ek op en neer stap terwyl my gedagtes knikker tussen “ gebruik mense regtig net eksamenblokke vir briewe skryf?” en “soek net, soek net, dit moet hier wees.” Ek vind dit uiteindelik. Een skrale hopie van vyf, wyslik op die punt van die tweede rak van onder af.

Terwyl ek by die kasregister in die ry wag met my kopie, bedink ek hierdie skryfding. Is ek onnodig jeukerig om nog te skryf soos van ouds?  Is die tegnologiese eweknie met groot, swart letters nie juis meer leesbaar vir ons seniors van tagtig en negentig jaar oud nie? Ek wil fotos insluit; is dit nie ‘n beter opsie om al die fotos in flouerige kleur op ‘n gewone blad te druk en saam met die getikte brief in die koevert te sit nie? Nee, besluit ek, juis uit respek vir die mensies, vir die invloed wat hulle op my menswees gehad het en die impak wat hulle gemaak het op my groei in wie ek vandag is, gaan ek hulle op hierdie eenvoudige manier trakteer. En ek weet hulle gaan dit opreg waardeer.

Waar het ons lui geraak vir briewe skryf?  Kan ons alles aan vooruitgang en die elektronika toeskryf?  Myns insiens het die luiheid ingetree die oomblik toe die gekleurde Croxley skryfblokke begin plek maak het vir die kleiner skryfblokke met prentjies en gesegdes op elke blad.  O ja, dit was mooi en afgesien van die hoër koste wou ons almal liewer ons boodskappe  en  geselsies hierop oordra.  Ek onthou my ma se woorde soos gister toe ek na maande se geneul, weer eendag met die blok met pienk rosies in die boonste, linkerhandse hoek om haar trippel: “Ek sal dit koop, maar jy gebruik net een velletjie op ‘n slag.”  Nou hoe, op hierdie ganse aarde, beperk mens iemand wie se pen gereeld vir haar weghardloop  tot ‘n eenvelletjiebrief? Aan planne het dit my nog nooit ontbreek nie. My sakgeld kon ‘n pienk Croxley bekostig en in die afsondering van die stoepkamer het ek al die blaaie geknip tot die grootte van die rosieblok se blaaie. Die ontvangers  kon minstens by aanskoue van die eerste blad na hul asems snak by die oopvou van my briewe.

Toe ons die tweedehandse klein Olivetti tikmasjientjie van een of ander goeie gewer ontvang om te help met skooltake, was die aardigheid van blommetjies skryfblokke gou iets van die verlede. Nie eens die deurvee van die tikblad met die puimsteenagtige tik uitveër, die weggooi en van voor af begin, was frustrerend genoeg om terug te draai na ‘n skryfblok en pen nie. Toe volg die elektriese tikmasjien, die rekenaar met woordverwerker, selfone waarop mens kan skryf en die hele kuns van briefskryf is in sy kanon in.

‘n Persoon se handskrif is deel van sy persoonlikheid. Sommige handskrif ontleders is by magte om ‘n persoonlikheid tot sestig persent korrek te “lees.” Dit is nie wiggelary of ‘n kulkuns nie; hulle is suiwer aangewese op dit wat jy in swart op wit vir hulle voorlê. ‘n Handskrif kom dus, soos enige kunsvorm wat die individu magtig is, uit die siel. Om dus iets van jouself te gee, aan iemand vir wie jy genoeg na waarde ag om dit voor te gee, gee ‘n handgeskrewe brief. 

Dit verg twee uitskeurblaaie en ‘n paar kopswetse voordat ek in die ou, vergete ritme van briefskryf kom. Die elkedagse skribbelskrif van vinnige notas is ver verwyder van hierdie romantica, maar soos fietsry, vind ek my balans. En raak verlore tussen woorde en om blaaie.

Carine Badenhorst