Profiel Dickie Chivell

Charles Richard Chivell (20) (links), beter bekend as Dickie, is ‘n sprekende en energieke voorbeeld vir menige jongmens waar dit kom by letterlik “heel” onder met ‘n beroep begin en bereid is om stappie vir stappie ‘n toekomspad “oop te werk”. Dickie is op 12 Februarie 1993 gebore en is van geboorte af ‘n Gansbaaier en sy ouers is Wilfred en Linda Chivell. Hy het twee broers, Lukas en Jaco en twee susters, Tracey en Sanchia. Verlief, verloof, getroud? “Ek is net verlief en is baie opgewonde oor my pragtige meisie, Karli van Straaten, wat ook ‘n Gansbaaier is,” sê Dickie. “Na skool het ek bietjie ‘rondgeswerf’, maar in 2010 het ek voltyds by Dyer Island Conservation Trust, Dyer Island Cruises en Marine Dinamics begin werk.” Dit is hier waar Dickie se sprekende voorbeeld vir ander jongmense tot volle reg kom. Hy is nie skaam om te vertel dat sy eerste pligte was om brandstof vir die bote aan te dra en om duikpakke van toeriste te was en skoon te maak nie. Daarna kry hy ‘n pos by Marine Dinamics op die haaibesigtigingsboot….as “chum-handler”, die man wat die lokaas vir die grootwithaaie voorberei.

Die volgende “trappie” wat hy geklim het was om as gids op die boot vir algemene ondersteuning en hulpverlening aan toeriste op te tree. Daarna word hy die aas-hanteerder op die boot, dis nou die man wat die aas/voorwerpe aan ‘n tou in die see gooi om grootwithaaie te lok. Met al hierdie ondervinding agter die rug, begin Dickie toe as toergids op die walvisbesigtigings-boot, die Whale Whisperer. Dit was nie genoeg vir hom nie en teen die einde 2012 verwerf hy sy Skipperslisensie en met ingang van 2013 word hy die Whale Whisperer se Skipper….op 20-jarige ouderdom.

Terselfdertyd is hy ook beskikbaar vir afloswerk vir Marine Dynamics se haaibesigtigingsboot, Slashfin, of enige ander take wat hom opgelê word. Dickey het verskeie relevante kursusse deurloop en is ook ‘n gekwalifiseerde Klas 2 Kommersiële Duiker. Met hierdie kwalifikasie tree hy ook soms as duiker op tydens filmwerk, wanneer die filmspan sy hulp benodig. “My pa se beleid is dat ek eers vir myself moet sorg, dan sorg hy vir my,” vertel hy. “Daaroor is ek baie dankbaar, want omdat ek heel onder begin het, weet ek uit eie ondervinding wat is elkeen se verantwoordelikhede en pligte en kan ek op enige stadium hulp aan enige ander persoon in hierdie beroep verleen.”

Dickie se entoesiasme wanneer hy oor sy beroep en relevante mariene-sake praat, is aansteeklik…..met swaaiende arms soos hy beduie en half oor sy woorde struikel van opgewondenheid, ook tydens aanbiedinge in die Great White House. “Hierdie omgewing sal altyd my tuiste wees, maar my toekomsverwagtinge wat ek aan myself gestel het, is om eendag dokumentêre filmwerk aan te pak,” sê Dickie.

Hardus Botha