Te veel Vanilla te min Asyn

Vele talente is my toegedeel, maar bak, soos in fyngebak, is nie een daarvan nie. ‘n Oond tel nie onder my kulinêre vriende nie. En die redes is voor die hand liggend: ek hou nou maar eenmaal nie van warmkry nie en ek kan met die beste wil van die wêreld nie gedurig ‘n horlosie dophou nie. Selfs al stel ek die oond se wekker en skril hy sy waarskuwing, is ek lankal met iets anders besig wat belangriker is as sy blêr.

Van kleintyd af was dit egter vir my fassinerend om iemand wat ‘n bakkery optel dop te hou. Met my elmboë op die tafel kon gemesmeraais kyk hoe ‘n tannie die deeg knie, goudgeel botterblokkies oorstrooi, oorvou en weer knie. En weer en weer. Op ‘n marmerblad met die mooiste deurmekaar-vloeiende patrone.  Die reuk van uitgebraaide skaapvet wat die botter vervang het vir die maak van konfyttertjies het my egter so laat gril dat ek tot vandag toe nog nie een van daardie delikatessen verby my lippe kry nie, al het Holsum die vet vervang.

Ewe min is ek ‘n konfytkoker, met die rede weereens voor die hand liggend: dit vat te veel tyd. Tyd waarin ek iets anders kon gedoen het as oor die rand van ‘n kastrol loer vir goed wat nie wil styf word nie. Ek het nog nooit geduld gehad met goed wat nie wil styf word nie. Gelatien werk ook nie vir alles nie. Daarby gesê, is ek nie ‘n konfyt-eter nie, tensy dit marmelade met ‘n bitterbyt is.

Maar, overgeset synde, hou ek tog maar daarvan om myself uit te daag. Daar bestaan nie ‘n ding soos “kan nie” in my verklarende lewensboek nie. En so kook ek onlangs marmalade konfyt. Wat ‘n proses! Oornag in water, kook, weer oornag se staan, dan die finale kookproses. Dié gebeur op ‘n Sondag terwyl ek en Pa Sondagkos maak vir ‘n tafel wat ewe skielik te klein geraak het vir almal wat daarom moet sit. Konfyt staan op die gasbrandertjie in die klein kombuisie. Pa se kop is bymekaar as dit kom by inmaak en konfytkook en so af en toe vra hy: “Is jou konfyt nog nie reg nie?” Die aartappel trek die kant toe, die groenteskiller daai kant toe soos ek die draai omgaan om skuim af te skep. Met groot genoeë en trots bottel ek later my konfyt, soos ek daarvan hou:  bitter en net styf genoeg.

My ma kon ‘n asynpoeding maak dat ‘n mens die bak met oorblyfsels onder jou kombers wou gaan wegsteek om in die nag elke laaste morseltjie stadig met ‘n teelepel by ‘n flitslig uit te krap.  Ek kies die maklikste resep, kook die stroop, maak die deeg aan, voeg bymekaar en sit dit in die oond.  Dit lyk baie mooi en ons eet tog te lekker tot ek myself hoor sê: “Ek sal volgende keer net meer asyn bygooi.....o heng, ek het die asyn vergeet!”  Asynpoeding sonder asyn. Dis ek daai wanneer dit by oondgebak kom. Omdat ek so gou as moontlik wil wegkom van die warm gloed wat rondom ‘n stoof waarvan die oond aan is uitslaan.

Ant Sara het ‘n post toasties tert gebak soos geen ander mens voor of na haar ooit kon regkry nie. So ‘n skrophoender-eiergeelkleur. En sy het nooit net een gebak nie, want dit was ‘n bymekaarkom-geleentheid van familie, vriende en bure soos wat ons deesdae vleis braai. Toe ek onlangs by Hester die geheim uitvind, besluit ek dit is nou my geleentheid om dit te probeer. Met vinnige skandering van die resep besluit ek ek het alles. Halfpad besluit ek ek het toe nie alles nie. Ek het twee teelepels vanilla in my botteltjie oor en die geheim is reeds ‘n eetlepel vanilla per tert. Ant Sara se tert se unieke smaak het gebeur toe sy per ongeluk te veel vanilla ingegooi het. Met my maatlepels lankal weggegooi, was my geskatte Maizena meer as een tert sterk. Met die verdere na-gedagte-byvoegings van melk, weer melk en dan eiers en suiker, kry ek twee terte gemaak. Een wat ons, met imperfeksie, opsluit opeet en een om vir die klein seuntjie huis toe te gee.

My stryd met die oond is nog nie gewen of gewonne gegee nie.

Carine Badenhorst