Die twee boekies dieet

Nog nooit, ooit in my lewe het ek in ‘n nommer ses en dertig gepas nie. Is dit nie tragies nie? Die rokke wat my ma gemaak het het nie nommers gehad nie en die eerste gekoopte rok wat sy uit haar skraal beursie gewurg het, was ‘n nommer veertig – wat dit ook al in vandag se mates mag beteken. In standerd agt.

Dis nie dat ek uitermatig uit wans uit van bou was nie; ek was eintlik netjies van lyf. Geen swaarbaleinde borsterokke om ‘n oorgewigtige paar mamas in toom te hou nie. Geen stywe step-in om ‘n paar geweersakkige dye teen die beendere vas te druk nie. Nee, tot vandag toe is ek geseën met ‘n goedgestruktuurde raamwerk, al is dit diep weggesteek onder hormonale en insulien weerstandige aanpaksels  wat deur die jare opgebou het.

Soos die gebruik onder meeste skoolverlater-jongdogters destyds, was die eerste moet-doen-ding om gewig te verloor. Bevind jy jou dan nog in ‘n hostel saam met honderd ander meisies waarvan driekwart ‘n derde van jou eie lyflikheid met hulle ronddra, terwyl hulle ewe hard saampraat oor hul oorgewig, dan rol jy - kop  eerste binnetoe - op soos ‘n ietermagog. Die sportontwikkelde vastus lateralis op my bobene wat eens my trots was, word opeens vetbondels wanneer ek in die spieël kyk. Ek maak ‘n afspraak by die simpatieke dokter wat, soos ek hoor, glad nie skaam is om eetlusdempers voor te skryf nie.

Ek huppel tussen die spreekkamer en die apteek om my Nobese No 1 te gaan koop en sluk sommer so in die terugstap een met ‘n Coke af. En  verpes my kamermaat met my bedliggie wat tot vroegoggend toe brand. Gedurende hierdie wakkertyd lees ek die ingeslote voubiljet deeglik deur, soos my verpleegster-ma ons geleer het. Mens moet weet wat by jou mond ingaan en veral op die kontra-indikasies let. Die volgende oggend weet ek om die Nobese te drink na my dompelaar-koffie en huisbeskuit; vroeg genoeg om op ‘n medemenslike tyd aan die slaap te raak in die aande. Maar ek werk ook uit dat dit voordelig is om dit  eers laat-oggend te drink wanneer ek weet daar gaan die nag tot twaalfuur toe gedans word.

Met die hulp van my dokter wat rande sien  elke keer wanneer ‘n “oorgewig” jong dametjie oor sy drumpel trap, kom ek na maande se voorskrif hernuwings tot die besef van my afhanklikheid van die pille. Ek staak dit summier en slaan in sweet en bewing uit, loop in lamppale vas en kry bevliegings wat wissel tussen die behoefte om voor ‘n kar in te loop en die rondgooi van my kantoorstoel.

“Kry Slimming Dragees” sê die Samaritane.  Dis glo ‘n kwessie van een gif met ‘n ander gif teenwerk. Inderdaad. Die nuwe gif is ‘n ratelslang. Sy stert tril my binneste deurmekaar terwyl die trr-geluid heeltyd in my kop sing. Hierdie binne-bewerasie is die mees magtelose van gevoelens, want daar is niks wat mens kan doen om dit weg te neem nie, behalwe om te bid terwyl jy wag dat dit verbygaan.

Die een mens wat ek op daardie stadium die nodigste had, was die laaste mens tot wie ek my kon wend: my ma. Sy het ons genoeg ingelig oor verslawing aan die hand van gevalle wat sy in haar Volkshospitaal-dae verpleeg het. Hoe kan ek vir haar gaan vertel ek dink ek het verslaaf geraak aan dieetpille, van alle dinge? Teruggaan dokter toe wou ek ook nie, want hy sou net nog ‘n ander gif voorskryf. Selfkastyding en selfmarteling was die enigste opsie vir my eie onnoselheid en onnodigheid.

By die afsweer van dieetpille klim ek op die dieet-trein: die Mayo kliniek, Atkins, hoë proteïen, lae koolhidraat, Weight Watchers, Weigh Less, noem op en ek sal “ja” sê. Die Leefstylveranderende dieet? Miskien Joan Collins en Sandra Bullock, maar nie in hierdie geweste nie. Die enigste bewese program wat vir my werk is die twee boekies: ‘n kalorie-teller-boekie en ‘n aantekeningboekie. Sien is glo en wanneer mens sien jy neem meer kalorieë in as wat jy verbrand, moet jy glo dat jou vastus lateralis nog steeds op dieselfde plek sit as jare gelede, al kan jy hom nie meer sien nie. 

Carine Badenhorst