My lyf raak tafel

“Nee, los uit, dis duiwelsgoed!” het my ma gesê toe ek een standerd sewe agtermiddag van die biblioteek af kom met ‘n halwe klaswerkboek vol aantekeninge oor sigeuners en Rooi Indiane. Dit was twee jaar voor die inval van die hippies, haar volgende stresfaktor oor haar jongste se beheptheid met die aweregses van die wêreld.

Ek is glad nie ‘n goetertjiesmens nie. Oumagrootjie se teepot wat op ‘n rak staan en stof vergaar, maak vir my net so min sin soos haar wie ek nooit geken het nie. Tog, in ‘n huis waar dit hoort, na die harte van die huismense, kan ek dit opreg waardeer, met ‘n diepe dankbaarheid dat ek dit nie hoef skoon te hou nie. Wat ek wel is, is ‘n lappiesgoedmens. Enige lap het vir my ‘n bekoring van sy eie en al is hy op die eerste oog skreeulelik, vind ek iewers op ‘n dag vir hom ‘n plekkie waar hy kan mooi lyk. My lapkas is weeshuis vir baie ander mense se weggooimateriale. ‘n Flentertjie moet sukkel om klein genoeg te wees om in my asblik te beland.

Juis op soek na flenters kom ek in een van die plat bokse af op twee ronde, pynappel-motief tafeldoeke wat ek as deel van my trousseau gehekel het. Vergete en vergeel. Beslis nie gehou sodat die dogters dit eendag kan tentoonstel en sê “Ma het dit nog gehekel” nie. Miskien wel gespaar ter wille van ure se liefdevolle arbeid wat tussen die steke ingehekel is. En omdat ek geweet het hulle gaan weer tot iets kom –een of ander tyd. Die motgevrete tafeldoeke se tweede lewe het aangebreek. In die wintersonnetjie sit ek en soek vir die begin van ‘n nuwe hekelry van dekades gelede sodat ek die doek in drie dele kan ontrafel.

Net daar raak ek toe in 1802 sigeunervrou. Terwyl die ander op die dorpsplein mense vermaak het met musiek, sing, dans, voordrag, toneelspel, skilder en toorkunsies – want onthou, ons was hoofsaaklik artieste, meesters van die Sewe Kunste – het ek van deur tot deur vir lapgoed gebedel. Iemand het selfs ergelik ‘n Bybel in my hand gestop net om van my ontslae te raak. Hy het sekerlik nie geweet dat ons juis voor die Heilige Romeinse Ryk uit Bohemië gevlug het nadat die Protestantse Morawies Kerk daar en in Morawië gestig is nie. Die vertaling wat hy teen my bors vasdruk, was juis die werk van my mense. Tog beoordeel, veroordeel en vermy mense ons oor ons leefstyl wat nie by hul hooghartigheid inpas nie.

Hierdie vergeelde tafeldoek staan uit tussen die bondels lappe en ou klere wat ek vanoggend gekry het. Die onderste deel sal ek onderaan die wit melkdoek  onderrok, wat ek besig is om te maak, vassit. Die middelste deel kan moue raak, of dalk ‘n skouerstuk vir ‘n bo-rok of bloes. Die gordyngoed met die pienk rose is net reg daarvoor. Die middelste sirkel sal mooi lyk as ‘n insetsel agter op die grys tweed baadjie, daar waar die winkelhaak uitgeskeur is; dit sal die geslag van die baadjie van manlik na vroulik verander, veral as ek dit met ekstra kant, krale en kettinkies versier.

Terug in die hede kry ek opnuut weer respek vir hierdie nomadiese vroue. Uit ‘n kultuur wat reeds in 850 VC ontstaan het, het ‘n modeneiging ontstaan wat vandag sterker is as ooit. Soos wat die nomades uit sentraal Europa Amerika toe emigreer het en met Rooi Indiane kontak gemaak het, het ander lekkertes hulself by die mode gevoeg: vere, riempies en hout. Terselfdertyd kan dit deurgaan as ‘n hedendaagse “groen” herwinningsprojek omdat dit oorgevloei het van natuurlike stowwe na die toevoeging van sintetiese stowwe wat ‘n mens nie die lug in wil stuur nie. 

Dit verg die hart van ‘n sigeuner om Boheems met sukses te kan dra; iemand wat nie skrik vir ‘n bonte konglomerasie van teksture en kleure, ‘n romantiese streep van kante, valle en lap-of hekelblomme nie. In ons vry-dae het my nou-man gesê : ”Ek gaan nêrens as jy daai klere aanhet nie.”  Vandag gaan hy in elk geval nêrens nie; dus kan ek van my lyf ‘n tafel maak en my tafeldoek dra soos ek wil.

Carine Badenhorst