Hoe lank hou Lente

Hier en daar breek ‘n stukkie blousel deur die lae, grou wolke op Lentedag. Deur my kamervenster  kom skuur die son skaamweg wang met die opgestopte deken oor my bed. Met die beskeidenheid van ‘n jongnooi voor die blik van ‘n voorbarige vryer, draai dit kop weg agter die volgende wolk in. Ek skuif die versteller van die elektriese kombers een nommertjie hoër toe die volgende reënbui uitsak. Met al die ongerief van elektrisiteit besparing op ligte, stoof, oond en warmwatersilinders is dit die een stukkie weelde wat ek myself gun. 

In die agtertuintjie hink die vliesagtige blaartjies van die paar Yslandse papawers om oop te vou en die son op hul kouvoetige meeldrade te ontvang, maar geluk is hulle nog nie beskore nie en hulle fletter maar geduldig voort in die ysige windjie. Die res van die agtertuin is hierdie jaar kaal. Daar is geen kleurespel van ranonkels, pronkertjies en anemone soos die vorige jare nie. Al die “infrastruktuur” heffings op die munisipale rekening het dit net eenvoudig te duur gemaak om ‘n mooi tuin aan die gang te hou. Die water word eerder aangewend vir die groentetuintjie, dit wat die innerlike kan versterk. Die begroting vir ‘n sielstuin  bestaan nie meer nie.

Oorkant die straat  staan die strandsalies in volle blom. Skakerings van  vaalbruin. Nie ‘n kleur wat enige waarde toevoeg aan die begrip van lente wat veronderstel is om flambojant en speels te wees nie.

Teen die padsoom  skel darem ‘n paar helder oranje gousblomme  en aan die oorkant by die stopteken steek die wynrooi gousblomme wat my man daar aangeplant het, guitig af teen hul liggrys blaremat.  Selfs hulle kappies vou styf om die nekke terwyl hulle rug aangee teen die wind. Die wittes wat hy op die teenoorgestelde hoek ingelé het, dommel nog tussen slaap en wakker onder die winterkombers.  

Ek onthou die ou fototjie in een van my albums waar  my ma gehurk in ons lentetuintjie sit. Ek ruik die vilette wat saam met die leeubekkies hul knoetse blommetjies bo die ander uitgestoot het, asof hulle teen die swaardlelies kompeteer het om die langste te wees. Daar was goudgeel affodille  en ‘n kaleidoskoop van ranonkels en anemone, so geil en blomlustig dat mens naderhand moedeloos was in jou soeke na nog iemand vir wie jy ‘n bos blomme kon weggee. Elke vertrek in die huis was reeds geblom en daar was geen vaas meer oor onder in die buffet nie.     

Daardie tyd was die son, soos ek, nog tiener. Elke nuwe dag het gelok met nuwe ontdekkings en ervarings. Lus vir die lewe was oorvloedig en ons het dit mildelik rondgestrooi en uitgedeel vir mens, dier, plant en aarde. Niks was moeite nie en geen avontuur te groot om aangepak te word nie. In retrospeksie  voel dit asof die son se strale elke dag my brandstof was en hom nie laat intimideer het van winterwinde en stormwolke nie. Die koue was genadiger en minder pynlik. Lente was opeens en kordaat, met die wipspring van ‘n springbokkie  oor ‘n veld van seeroog-kleure. 

Nou voel alles traag; dinge gebeur in stadige aksie. Die natuur sleepvoet om by ‘n malse lente uit te kom. Die son homself kort Vitamien D aanvullings vir genoeg fut om die blomgeure en -kleure uit die verstadigde plante te kan lok. Die ekonomie-bult raak al hoe steiler en dwing die begrotingsvoertuig in ‘n steeds laer rat.

Die Hollandse digter Phil Bosmans skryf: “Blomme van geluk moet jy self plant.”  Met so ‘n waarheid kan ek mos heeljaar Lente vier, mits ek  my tuin deeglik voorberei.  Eerstens moet ek die grond omdolwe en diep grawe om die struktuur van my geluk te bepaal.  Die suur en alkalie inhoud moet getoets word  voordat ek my keuse van plantjies en bolle kan maak. Ek gaan immers net dit plant wat my gelukkig maak.  Terselfdertyd moet ek sodanig kies dat ek heeljaar blomme in my Tuin van Geluk het.  Dan moet ek natuurlik voorsiening maak vir kunsmis en swamdoders, want dit is onvermydelik dat peste en ellendes my gelukstuintjie sal aanval.

Lente kan vir altyd aanhou. Solank ek my blomme van geluk self plant.  En die beste Tuinier van alle tye aanstel om ‘n ogie te hou.
     
Carine Badenhorst