Die Rooi Willis

Visvang was my pa se lewe, soos die van sy visboesemvriende: Dokter Van Zyl, oom Hannes en ant Sara Grootjan Fourie, oom Koos Dwerg Swart en oom Jurie Pypie Fourie. Langs die strande van die wit en rooi Strandveld kon hulle elke moontlike gaatjie en swellinkie uitwys en volgens elke kleurnuans, skuimbreke en strominge aas aansit volgens die vis wat daar wei. Bloedvisvangers.

Oom Hannes het ‘n brandweer-rooi Willis jeep aangeskaf vir die visvangery.  Die eerste keer toe die nuus kom dat die kinders die volgende dag kon saamgaan Walle toe, was daar groot opgewondenheid in ons huis. Moedertjie het ‘n groter rottangmandjie van die solder gaan afhaal  vir die kos en in die gewone een wat Pappa altyd gebruik het, ons ekstra klere en ‘n handdoek ingepak.

Die opklimmery was ‘n organisasie. Drie groot mans op die modderskermbankies agterop en ses kinders op ‘n manier ingepas tussen bene, kos- en aasmandjies en visstokke. Geen kinderstert mog op ‘n bankie gesit het nie, asook nie naby die klap aan die agterkant nie. Ons het darem komberse onder ons gehad om die ergste skok te breek.

Met laphoede teen die son en warm truie teen die wind van die oopte is ons vort. Dorp-uit en teerpad tot op Bredasdorp het dit nog goed gegaan en die aardigheid en opgewondenheid het hoogty gevier. Anderkant Bredasdorp het die kriewels begin. Met seer sitvlakke en geen spasie om te versit nie, het die magstryd begin soos kinders alleen dit maar kan doen sonder om te baklei. Jy druk ‘n elmboog in die een langs jou se ribbes, aanhoudend, tot jyself naderhand krampe het, in die goeie hoop dat daardie een sal skuif sodat jy versit-spasie kan kry. Wat hy ook nie kan doen nie, want hy is net so vasgepen teen die volgende een. Die een naaste aan  die pakkerasie  agter teen die klap  hang naderhand met sporadiese rukkings oor daardie mandjies soos ‘n halfdood vis. Kla kon jy nie, want dit sou jou lot verseël om nooit weer saam te ry op die Willis nie.

Die duineveld na die uitdraai was ‘n marteling en jy het maar gehoop vir ‘n Jona-walvis om jou in te sluk sodat jy nie die aand dieselfde pyn en lyding hoef deur te gaan nie. By die hek moes ons bossies toe gaan, die wat wou, want verderaan was dit sandpad en daar was nie kans vir stilhou sonder om in die los sand vas te sit nie. Ek het  sommer moedswillig ver weg geloop om langer op gestrekte bene te kon bly; daar was immers seuns teenwoordig.

“Nou moet julle vashou” is ons vermaan toe ons die sandpad bereik. Daar was nie veel om aan te anker nie en behoede die een wat na die bondel visstokke probeer gryp het. Die Willis was heel gewillig en bekwaam in die los sand en oor die skielike walle in die pad. Ons kinders nie. Jy wis eers daar was ‘n wal wanneer jy lug-in gevlieg en hard op jou sitvlak te lande gekom het, vashou of nie. Enetjie het sommer seesiek gekry, half oor die kant van die jeep, half nie. 

Die oop strand was ‘n welkome oase in die Strandveld duinewoestyn. Langs die jeep is ‘n skerm opgeslaan en komberse oor die sand oopgegooi. Die visvangers het sommer staan-staan  hul koffie en brood genuttig, angstig om lyne in die blou te kry. Terwyl die son nog besig was om te klim, het ons  eenkant in rotspoele en op die nat sand gespeel. Binne sig maar nie binne die hengel area nie. Op hoogmiddag was almal onder die skerm om te eet. Eenkant het twee witsteenbrasse onder nat sakke gelê.

Eers teen laatmiddag het nog ‘n paar eetvisse uitgekom voordat die oppakkery begin het. Rooi van die wind en son, soutlyf en seemoeg bestyg ons weer die rooi Willis, nou met al wat klere  bo-oor mekaar aangetrek teen die aandkoue.  Met die wip oor die walle was ons nog almal regop, maar toe ons anderkant die hek die egaal van  die grondpad  vat, het ses kinderlywe een na die ander geknak; in ‘n slaap wat in sy genadige vergetelheid  die rooi jeep se bak oorlopens gevul het met spasie.

Carine Badenhorst