Fyn tee onder n lekdak

Helderfontein se huis was groot. Vir ‘n pasgetroude paartjie in ‘n wittebroodwaas, was die meubels vir die noodsaaklikste vier vertrekke oorgenoeg, maar ‘n wittebrood gaan vinnig verby tussen ‘n donkerdag melkery en reënerige saaityd. ‘n Boer se kos moes stiptelik en vuurwarm op tafel kom en die reuk van Cobra politoer moes met die intrapslag vir hom vertel die lang gang streep skitterblink verby die drie ongebruikte slaapkamers se toe deure.

Die heel verste slaapkamer, neffens die deur wat op die sonnige toe stoep uitgegaan het, was my gemorskamer, so vernoem deur my nuwe man wat my bokse en bokse vol kuns-en handwerk-benodigdhede met ‘n ongenadigheid bejeen het. Alles wat van die groot ou huis ‘n tuiste gemaak het, het uit die gemorskamer gekom: skilderye, tapiserieë en appliekprente teen die mure; mandjies met gedroodge blomme op die vloere; geweefde plekmatjies en ‘n loper vir die twaalf sitplek tafel wat hy op ‘n vendusie gekoop het; gehekelde en laslap oorgooi-dekens vir die slaapkamers waarvan die deure een na die ander oopgegaan het. Soggens vieruur wanneer die Lister in die rondawel begin klop-klop het om aan die gang te kom vir die melkery, was ek agter die Frick naaimasjien besig om gordyne en bypassende beddekens te maak. 

Van meet af aan het die buurmanne opgedaag. Uit nuuskierigheid, natuurlik, maar ook om die nuwe boer in hul midde met raad te kom bedien oor die Strandveld se boerdery metodes. Almal het dieselfde rigiede skedule gehad: teetyd rondom elfuur en koffietyd om vieruur in die agtermiddag. Kuiertyd is daarvolgens ingepas. Rondom die kombuistafel het hulle oor koppies sakkoffie en karringmelkbeskuit planne gemaak met die kakiebos en boetebossie. Namate die ou huis begin fleur kry het, het die buurvroue versigtig begin naderstaan, skepties vir die soveelste huurders wat kans sien vir die groot, ou huis met die uitgepluisde rietdak.

Gelukkig was daar altyd iets lekkers in die koekblikke bo-op die kombuisrak, of in die paraffien yskas.  Met die streep van die son oor die groot eetkamertafel se kant tafeldoek, is Hertzoggies, melktert en grootkoek voorgesit. Die teestel met die donkerpienk rosies is uit die kas gehaal, asook die Apostel koekvurkies. Kort voor lank het dit so gesellig geraak dat dit ‘n instelling geraak het om op ‘n Dondermiddag op Helderfontein te kuier.

Helderfontein het egter een groot afskrik gehad. Dalk sy eie spook. ‘n Klein vertrekkie- in teenstelling met die res van die vertrekke- wat met ‘n bedieningsluik met die kombuis verbind was, was ook die deurloop na die toilet. Dit was te klein vir ‘n eetkamer, te groot vir ‘n spens en wat ook al die idee daarvan was, was dit totaal onversoenbaar met die toilet daarnaas. Asof die massiewe rietdak nie genoeg was nie, het die Strandveldvoëls daardie spesifieke vertrek se dakdeel verkies om boumateriaal vir hul neste te vergader. Selfs al was dit nie nesbou-tyd nie, was hulle  daar doenig, asof daar ‘n voorvader se gees was wat hulle gevange gehou het.  Die gevolg was ‘n gedurige lekkasie wat die plafon laat ingee het en die ou vloer laat vermuf het. Tydens somer was dit die suidoos stuif van die see af, winter die stormreën.

In die voorsomer wanneer die blomplukkers veld-in begin werk het, is riete gesny en na afloop van die voorbereidingstyd is die dak deur een van Elim se dakdekkers gelap. Tussen neus en ore het die riete maar weer verdwyn en teen alle hoop in, dieselfde skade as die vorige winter veroorsaak.

Die onuitwisbare damp van riet en muf  was geen afskrikmiddel vir bure wat mettertyd dierbare vriende geword het nie. Die dun-nek rosie teekoppies en fyngebak het gegroei tot gesellige kerslig-etes met nagereg van gebakte vlierboom blomme op tuisgemaakte roomys. Op sulke aande is die groot bos jasmyn in die voortuin gestroop om in die toilet te gaan kamma-rank.

Die keerpunt het egter gekom toe ek met my tien dae oue babatjie by die huis  aankom en ‘n splinternuwe paar Wellingtons  my voor die deur inwag. Ek moes dit aantrek voordat ek my eie huis kon betree. Dit was die jaar van die Laingsburg vloed en agt duim reën in die Strandveld, waarvan vier nog in die huis gelê het. En ook die tyd om die teekoppies in te pak.

Carine Badenhorst