Die eerste koekie ruikseep

My pa was ‘n hartlyer van geboorte. So is ek vertel, maar ek dink dit is sy deelname in die Tweede Wêreldoorlog wat van hom ‘n liggaamlik swak man gemaak het. Hoe kan ‘n mens met ‘n swak hart gestuur word om bo in Afrika tussen slote en sandsakke met ‘n geweer rond te hardloop terwyl bomme van bo af reën? Dis tog om enige gesonde man se hart ‘n knou te gee.

Sy swak gestel ten spyt, was my pa ‘n man na wie ‘n kind van kleins af kon opkyk, kon vertrou en in kon glo. Wat ek by hom geleer het in die kort tydjie wat hy ons gegun was, kan menige kind deesdae nie eens aan dink nie.

Omdat hy fisies nie sterk genoeg was om hard te werk nie en my ma gesorg het vir die vaste maandelikse inkomste, het hom nie in ‘n jammerhoekie ingedwing nie. Hy het steeds gedoen wat sy hand gevind het om te doen. Ek reken dis by hom dat ek hierdie eienskap oorgeërf het van nie kan niksdoen nie.  Ek verstaan nie hoe ‘n mens NIKS kan doen nie en ek weet ook nie hoe om dit te doen nie. 

As iemand my wil straf, kan hy my enige plek gaan neersit sonder iets waarmee ek my kan besighou en dit gaan ook maar nog neuk, want my kreatiewe brein sal iets uitkrap.

Weens omstandighede was my pa dan ook ‘n ekonoom. Wat self geprakseer kon word, was nie werd om ‘n pennie voor uit te haal nie. Daarby was hy puntenerig en trots. Dit wat hy gedoen het, was van hoër standard as die gekoopte gelyke.

Dalk was dit net hierdie een keer, maar ek onthou ‘n dag toe hy bo in ons erf, voor die waenhuis, seep gemaak het van vet. Skaap of bees, dit kan ek nie onthou nie. Wat ek wel onthou is dat ons nie naby mog kom nie, want dit was ‘n gevaarlike proses.  Getrou aan my nuuskierigheid het ek dit probeer dophou van so na ‘n afstand as wat hy my sou toelaat. En hy was nie ongeneë om tussen heelwat “Staan opsy!” die proses te verduidelik nie.

Ons het hierdie seep vir alles gebruik: ons lywe, hare, skottelgoed, wasgoed en selfs om die deure se koperknoppe en aluminiumkastrolle mee blink te maak. Maar dit het niks lekker geruik nie. Die dierlikheid het maar nog steeds deurgekom.

Met drie vroumense in die huis, was dit maar ‘n ding, hierdie stinkseep. Dat dit skoon en blink gemaak het, was vir hom genoeg; vir my fyn, vroulike verpleegster-ma wat aan die geur van karbolsuur gewoond was, nie.

Op ‘n stadium het sy by die huis aangekom met ‘n koekie Lifebouy seep. Pure karbolsuur, soos die spreekkamer waar sy gewerk het, geruik het. Stelselmatig het Pa bes gegee en lustig saam gebruik aan die nuwe seep. Intussen het daar egter ‘n nuwe aardigheid op die mark gekom: lekkerruikseep.

Soos ‘n verenigde front het ons drie vroumense bek gelek en stert geswaai by Pappa vir hierdie nuwigheid, maar hy wou daar niks van weet nie. Van sy seeppot af tot by nou het ons nog pal skoongekom met suiwer seep. Die geurgoed wat in die nuwe seep is, laat hy hom nie vertel kan gesond wees nie. En basta!

My ouers was nie bakleierige mense nie. Wanneer hulle ernstig verskil het, is dit saans agter ‘n toe kamerdeur aangespreek sonder aanhore van ons kinders. Die aand nadat sy die middag van die winkel af gekom het met ‘n koekie Palmolive badseep, was egter ‘n ander storie. Ons kon hoor hierdie ruiksepie was glad nie welkom in die huis nie. “Neem dit terug” en “Geldmors” het duidelik deurgekom tot daar waar ons vreesbevange in die ander kamer op die driekwartbed gelê het.

Dit het nie lank geneem voor die nagstilte neergedaal het nie. Geen man, hoe sterk van beginsel ook al, kan tog bestand wees teen ‘n vrou wat met ‘n nuwe lekkerruikdingetjie aan haar lyf in die bed klim nie. Die Palmolive het gewen.

Carine Badenhorst