Kultuurghoeroe's Deurvleg Met Kroonstad Se Kaalvoetkinders
Soos outydse koeksisters en stroop het skrywersbloed en drukkersink van Vrystaat na Kaap ineengevloei.
Anton Goosen Liedjieboer
(gebore 5 Maart 1946)
Dit is welbekend dat Anton Goosen, die liedjieboer en vader van Suid-Afrikaanse rock, hier in Gansbaai woon. Hy deel sy huis met sy beminde, Estie, ‘n laerskoolonderwyseres en hul vier geliefde honde. Hulle huisie by die see het ‘n uitsig oor Gansbaai hawe en hulle het pas hul sewende huweliksherdenking gevier. Anton is opgewonde oor sy nuwe musiekalbum, Sirkels, wat einde Junie bekendgestel is. Dit bevat onder andere toonsettings van Antjie Krog en DJ Opperman se gedigte – en vorm deel van die sirkelpad van omstandighede.
Anton het sy kaalvoetkinderdae in Kroonstad deurgebring en na matriek aan die Afrikaanse Hoërskool Kroonstad (Rooiskool) ‘n diploma in psigopatologie vir spesiale onderrig vir verstandelik gestremde kinders verwerf. Hy verlaat die onderwysberoep in1974 en werk as deeltydse musiekresensent onder redakteurskap van Schalk Pienaar (snr) (Annatjie Louw se pa) by die Beeld, onder die skuilnaam Jantjie Blom. Anton het in die 70’s ‘n ommeswaai in Afrikaanse musiek gebring, deur dit te moderniseer om by ‘n jonger gehoor aanklank te vind.
Min mense weet dat die kreatiewe rocker pottebakkersklasse aangebied het.
Dot Serfontein
(30 April 1925 - 4 November 2016)
Terug in Kroonstad, was Anton se ma, Marie Goosen en die bekende Afrikaanse skrywer, Dot Serfontein, beste vriendinne. Dot en haar man, Willem Krog, het in die Kroonstad-distrik geboer. Dot se uit-die-hart skryfwerk en veral haar kortverhale wat in die tydskrif, Sarie, verskyn het, het van haar volksbesit gemaak. Behalwe dat sy kinders grootgemaak het, was sy ‘n goeie boer en as vlymskerp, vreeslose skrywer ook redakteur van die Volksblad, Sy het dit haar lewensroeping gemaak om kwaliteitskryfwerk te lewer en talle toekennings daarvoor ontvang. Haar boek Keurskrif vir Kroonstad was een van die talle taalmonumente wat sy nagelaat het.
Antjie Krog
(gebore 23 Oktober 1952)
Dit was dus nie vreemd dat haar oudste dogter, Antjie Krog, haar ma se skerpsinnigheid geërf het nie. In haar matriekjaar raak sy oornag bekend, na ‘n artikel in Rapport oor haar gedigte wat in Hoërskool Kroonstad se skooljaarblad verskyn het. Die seksuele eksplisietheid en politieke verligtheid daarvan het die konserwatiewe Afrikaanse gemeenskap geruk.
Kort voor haar eerste huwelik met die pianis Albie van Schalkwyk, werk sy ‘n tyd lank in die kunsredaksie van Die Burger. In dié tyd woon sy DJ Opperman (Professor in Afrikaanse letterkunde, Universiteit van Stellenbosch) se digkunslesings by. Na die verbrokkeling van haar huwelik keer sy in 1976 terug na Kroonstad waar sy onderwys gee en met haar jeugliefde, die argitek, John Samuel, trou.
As anti-apartheidsaktivis was Antjie Krog gereeld in die kollig. In 1993 word sy as redakteur van die liberale intellektuele joernaal, die Suid-Afrikaan in Kaapstad aangestel, maar verruil dit om as politieke verslaggewer by SABC Radio aan te sluit waar sy. hoofsaaklik verslag oor die verrigtinge van die Waarheid- en Versoeningskommissie (WVK) gelewer het. Dit het beide die Pringle-toekenning en die Buitelandse Korrespondent-toekenning vir uitmuntende joernalistiek tot haar lang lys toekennings as skrywer en digter gevoeg.
Haar veelbesproke boek, Country of my Skull volg en was haar eerste boek wat in Engels verskyn het (1998). Dit is verfilm met die aktrise, Juliette Binoche in die hoofrol, as Antjie. ‘n Ere-doktorsgraad vir die uitstaande bydrae tot letterkunde en sosiale transformasie in Suid-Afrika word in 2007 deur die Nelson Mandela Universiteit aan haar toegeken.
Twee van haar gedigte, Bly by my en Êrens is jy is getoonset en in Anton Goosen se Sirkels-album opgeneem.
Mimmie en Schalk(jnr) Pienaar
Antjie Krog se niggie, Mimmie Pienaar (neé Serfontein) woon in Franskraal. Miemie Serfontein het haar kinderskoene in Kroonstad agtergelaat. Na afloop van haar taalstudies, voltooi sy haar kunsstudie aan die Universiteit van Kaapstad. Haar Franse studies aan die Sorbonne Universiteit is in 1968 onderbreek deur ‘n studenterevolusie. Sy benut haar tyd in die buiteland deur tegnieke by verskeie kunsateljees aan te leer. Een van haar leermeesters was Jean Jaques Petit, waar sy die koperemalje-tegniek aangeleer het. Terug in Suid-Afrika bemeester sy die tempura-tegniek.
Dit is hier in Franskraal, op die tweespoorsandpaaie tussen die houthuise van die 1950’s waar sy haar hart op die aantreklike Schalk Pienaar (jnr), einste Schalk, die redakteur se seun, verloor het.
Mimmie en Schalk, toe nog ‘n argitekstudent, het hul eerste kunsgesprekke hier gevoer.
Vandag woon hulle permanent in die Serfonteins se houthuis en deel ‘n vol lewe met ‘n passie vir die kunste, musiek en wyn. Wanneer Mimmie nie skilder of klasse in keramiekbeeldhou aanbied nie, tower sy disse uit haar tuin en die see op. Die byna permanente glimlag op Schalk, ‘n afgetrede argitek, se gesig is te wyte aan sy avontuurlustige vrou wat min inspirasie nodig het om die lewe om hulle interessant en kleurryk te hou.
Dirk (DJ) Opperman
(29 September 1914 – 22 September 1985)
Dit was in die sandpad (vandag Seaviewrylaan) voor die Serfontein-huis dat die bekende digter, DJ Opperman se vrou, Marié die Vrystaatse gesin gehelp het om hul motor uit die sand te stoot. Marié het gesorg dat Franskraal se jongklomp mekaar ontmoet, wat tot ‘n lewenslange vriendskap tussen Trienke, die Oppermans se oudste dogter en Mimmie gelei het.
Dirk Opperman het later nog ‘n erf gekoop en die nuwe huis (1965) tussen die melkhoutbome na die gedig, Bieblebom, vernoem. Hy was ‘n kranige visserman en sy drie dogters, Trienke, Heili en Dedré het in die see gespeel en alikruk uitgehaal terwyl pa hengel.
‘n Ryk geskiedenis met besoeke deur volksraadslede en letterkundiges; meningsverskille oor onder meer sensuurwetgewing, speel hom tussen die mure van Bieblebom af. Weens sy afname in skeppingskrag en produktiwiteit word Dirk tydens ‘n vakansie op Franskraal (1975) so siek, dat sy jarelange joernalisvriend, Schalk Pienaar (snr) gevra is om ‘n doodsberig te skryf. Dit sou as hoofartikel in Die Burger verskyn. Lyksredes vir die SAUK televisie en radio is ook voorberei. Dirk het egter merkwaardig herstel en het sy werk in 1977 as hoogleraar voortgesit tot met sy aftrede in 1979. In 1980 het hy as buitengewone professor die Letterkundige Laboratorium aan die Universiteit van Stellenbosch behartig. Hy is na ‘n beroerte in 1982 na die Geluksoord-tehuis vir verswakte bejaardes in Stellenbosch oorgeplaas, waar hy tot met sy dood versorg is. Marié is in 1999 aan hartversaking oorlede.
Opperman se gedig ‘Ruimtestasie Houston’ is in Anton Goosen se ‘Sirkels’ opgeneem.
Trienke Laurie
(10 Mei 1946 - 2 Oktober 2023)
Trienke, ‘n produk van haar pa se gewilde ‘Letterkundige Laboratorium’ het onder haar getroude van bekendheid verwerf toe sy in 1999 die Ingrid Jonkerprys vir digkuns ontvang het. Trienke en haar man, prof Dirk Laurie, ‘n merkwaardige wiskundige, het in Bieblebom afgetree en was baie geliefd in die gemeenskap. Kort voor haar dood in 2023, was sy deel van die stigting van die Gansbaaise poësie- en prosagroep, Gansveer. Dirk is in 2019 oorlede.
Annatjie Louw
Dit was ‘n hartseer Mimmie wat Gansbaai Courant Vrydagoggend, 28 Junie 2024 meegedeel het dat Schalk se sussie, Annatjie, in Windhoek oorlede is. Annatjie, was getroud met Tielman Louw, prokureur-generaal in Suidwes-Afrika voor onafhanklikheid. Tielman is jonk dood, toe die egpaar se kinders nog op skool was.
Schalk(jnr) het in Mei vanjaar vir oulaas sy sussie se verjaarsdag en viering van haar lewe rondom 24 Mei in Windhoek bygewoon. Mimmie vertel: “Sy was ‘n mens groter as lewensgrootte in verfyndheid en gees. Sy het op haar oudag ‘n doktorsgraad in Afrikaans behaal en was vroeër jare ‘n joernalis by die
Burger. “Sy was ‘n regte Franskraler en het ons familie uit die Vrystaat van die see en seekosse geleer.”
Franskraal was almal se skoene-uitskopplek, waar geen telefone of skeermesse was nie. Hier was wyn en seekos, kreatiewes en uitgesprokenes. Hier kon almal net hul eie menswees geniet en onbevange vakansie hou.
Om die kringloop tot voltooiing te bring is Anton Goosen en Annatjie se seun, Schalk Louw, vandag bure – en so kom die punte van die sirkel wat Kroonstad met Gansbaai verbind, bymekaar.
*Kroonstad dra deesdae die naam Maokeng. In Sotho beteken dit: plek van die doringbome.
Kopiéreg:
Marinda van der Walt, Gansbaai Courant