
Spekboom in blom
In die Gans-Berg Nuus van 22 November 2024 is 'n interessante berig ('Wonderwêreld' van Spekboompies) geplaas - die berig het oor Arnold Schoeman se spekboom-kwekery gehandel.
'n Getroue leser van die Gans-Berg Nuus, Elcine Hulme van Franskraal, het laat weet dat haar en haar eggenoot, Johan, se dogter, Alet Erasmus van Eversdal, Bellville foto's gestuur het van haar pragtige spekboom wat vol in blom is. “Ek het al spekbome in blom gesien, maar nog nie in my kwekery nie,” het Arnold gesê. “Die spekboompie op die foto is werklik besonders.”
In genoemde berig is gemeld dat Arnold sowat 2 000 spekboompies (Portulacaria afra) in sy privaat-kwekery het. Die spekboompies kan vir 'n groot verskeidenheid van gebruike aangewend word en die blaartjies kan selfs geëet word. Spekbome kan ook groot hoeveelhede koolstofdioksied uit die lug opneem en in suurstof en koolstof omskakel.
Dankie aan Alet en Elcine vir die pragtige foto.
Hardus Botha










