100ste vir Gielie Genade
Nee, Gielie Genade (72) het nie 100ste in Saterdag, 15 Februarie 2025 se parkrun geëindig nie - dit was sy 100ste parkrun waaraan hy deelgeneem het! Om by 50 of 100 parkruns uit te kom, is groot gebeurtenisse by Groeneweide parkrun op Saterdae - gelukwense word oorgedra en balonne en 'n vlag word oorhandig - des te meer in die geval van parkrunners wat al effens gevorder in ouderdom is.
Gielie het al 2 keer in Australië deelgeneem en 3 keer in die Paarl en 'skrik' dus nie vir sy 72-jarige ouderdom nie. Gielie is die eggenoot van Annaleen Genade wat bekend is vir die jaarlikse Borskankerstap wat sy in Franskraal reël. Gansbaai Lions het ook 'n gazebo opgeslaan met sagte kinderspeelgoed wat as geskenkies uitgedeel is - ter ondersteuning van kinderkanker.
Saterdae se parkruns het oor die jare baie gewild geword, maar kan nog beter ondersteun word. Daar is sowat 100+ deelnemers elke Saterdag en 'n aangename, onderlinge sportgees heers tydens elke week se parkrun. Groeneweide parkrun (altyd in klein letters) is op 19 Oktober 2019, 'n raps meer as 6 jaar gelede, amptelik deur die President van parkrun Suid-Afrika, Bruce Fordyce, geopen - met bykans 350 opgewonde parkrunners wat die opening bygewoon het. Die twee 'ysters' aan die roer van sake is Henry en Brigitte Marais.
Hardus Botha










