
Dinah-Lee sing haar hart uit in Harbour on Deck
Die jong sangeres, Dinah-Lee Jane Visser, of beter bekend as net Dinah-Lee, het haar eerste opgeneemde liedjie tydens 'n geselligheid by Harbour on Deck van Junior (Pieter) en Bronwyn van der Westhuizen bekendgestel. 'Ek is dogter, vriend, suster en Lover off all beautiful and poetic', som Dinah-Lee haarself op haar Facebook-blad op, met haar debuutliedjies waarna op Spotify en Youtube geluister kan word.
Enkele gaste het sommer vroeg-vroeg al opgedaag om seker te maak hulle kry sitplek, met 'n paar tafels wat reeds 'bespreek'-bordjies opgehad het. Die dekgedeelte is netjies versier, waar Dinah-Lee ontspanne en gesellig saam met die gaste gesit en kuier het voordat sy met haar optrede begin het.
Dinah-Lee het haar plek agter die mikrofoon met haar kitaar ingeneem, met 'n pragtige, helderkleurige materiaal-behangels teen die venster - met die son wat besig was om oor Gansbaai Hawe te sak. Daar is tot laataand toe gekuier en na Dinah-Lee geluister.
(Foto's: Marlie du Toit)
Hardus Botha