Blog

'Treindorp' emosievol besoek

'Treindorp' emosievol besoek

Gans-Berg Nuus / News

'Treindorp' emosievol besoek

“Sjoe, maar dis só mooi, ek voel skoon lam!”, was emerituspredikant, ds Franna Herselman, se impak-woorde tydens 'n besoek deur homself en sy eggenote, Charlotte, aan Johan en Anfra Penz se huis - waar Johan 'n volledige 'Treindorp / Rangeerwerf', wat sy dubbelmotorhuis volstaan, gebou het. 

Franna het vir 'n paar sekondes verstom gestaan en alles net eers bekyk, voordat 'n stortvloed van vrae aan Johan sy ore byna laat tuit het, met Charlotte wat net so intensief en verstom rondgekyk het. Wat hulle aanskou het, was absolute professionele werk wat Johan met presisie beplan en gebou het - alles volgens skaal. 'n Volledige rangeerwerf, met geboutjies, mense, voertuie, parkeerareas en wat-nie-nog-alles-nie was te sien. Die 'treindorp' is in 'n U-vorm gebou, met die rangeerwerf regs. Links en reg rondom, is spoorlyne, 'berge' met bome, gras en plaasdiere wat wei, asook tonnels waardeur die treine beweeg. Dan is daar 'n volstruisplaas, 'n wynplaas met wingerde, ander plase en baie meer - sonder twyfel 'n 'stokperdjie' duisend.

Die gedagte om Franna na Johan se treindorp te nooi, het ontstaan na aanleiding van 'n berig wat in die Gans-Berg Nuus (Vrydag, 13 Junie 2025: 'Predikant-poppekas met humor én boodskappe') geplaas is. Tydens daardie onderhoud het Franna 'n krat vol lokomotiewe en treinwaens gaan haal, wat emosievol aan die joernalis vertoon is. By hom het lokomotiewe en treinwaens van kindsbeen af 'n groot rol gespeel, maar hy het net nooit die spasie en tyd gehad om 'n groot projek daarvan te maak nie. Daar-en-dan is stilweg besluit om 'n verrassingsbesoek aan Johan vir hom te reël.

Kindsbeen-droom verwesentlik

Johan, 'n afgetrede Hoof Uitvoerende Finansiële Bestuurder van 'n Vervoermaatskappy, en Anfra het ná Johan se aftrede sowat 13 jaar gelede na 'n huis gesoek met 'n adissionele dubbelmotorhuis om sy kindsbeen-droom te verwesentlik. In 2014 is dié regte huis gekoop en die egpaar het ingetrek. 

Johan versamel al lokomotiewe en treinwaens van kindsbeen af. “Ek glo ek het hierdie liefde by my pa geërf, wat dit ook gedoen het,” vertel Johan. “Drie van my kosbaarste besittings is my pa se diesel- en stoomlokomotiewe, asook 'n kerk-geboutjie en pastorie wat 65 jaar oud is.” Hy fokus hoofsaaklik op Suid-Afrikaanse treine, asook Union Pacific lokomotiewe en treinwaens wat hy uit Amerika aangekoop het. 

Die houtstellasie waarop die uitleg staan, het hy self gebou. Die projek is in verskillende fases gebou, wat hom 8 jaar lank besig gehou het en nou voltooi is, behalwe vir kleinighede wat steeds kan bykom. In die middel is 'n volledige kontrole-bord vanwaar Johan die treindorp elektronies beheer. Hy het selfs 'n 'koolstof-uitveër' waarmee die treinspore so twee-weekliks gevryf word om te verhoed dat die treine vassteek. Pragtige, geraaamde legkaarte (puzzels) wat soos skilderye lyk, pryk teen die mure - vanselfsprekend hoofsaaklik lokomotiewe en treinwaens!

Terug by Franna: “Ons het voorheen al iets soos hierdie gesien, maar hierdie was die wonderlikste besoek wat ek in jare beleef het en dit sal my altyd bybly!”

Hardus Botha

'Treindorp' emosievol besoek

Gans-Berg Nuus / News

Gans-Berg Nuus / News is a weekly bilingual community newspaper serving Gansbaai and the surrounding Overstrand areas. Alternating between Afrikaans and English on the front page, it provides current local news, municipal updates, business advertising, and general items of interest. Businesses and p...

View Profile

What is Xplorio?

Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.

Watch the Gansbaai Video
Read More

Other Articles

Stop Searching Outside Yourself for What’s Inside You

Stop Searching Outside Yourself for What’s Inside You

Many people arrive at coaching because they are exhausted.

WHEN OTHER PEOPLE'S PAIN FEELS LIKE YOUR RESPONSIBILITY

WHEN OTHER PEOPLE'S PAIN FEELS LIKE YOUR RESPONSIBILITY

As we continue this week's journey into self-love and self-kindness...

Fynbos After Fire: Wildflowers and Invasive Control

Fynbos After Fire: Wildflowers and Invasive Control

You will be delighted to know that this gorgeous yellow bloom is called Moraea pyrophila...

Grootbos Foundation
Under the Microscope: Eyes in Focus

Under the Microscope: Eyes in Focus

What's under the microscope this week? 

Grootbos Foundation
Curro Winter Open 2026

Curro Winter Open 2026

Vyf van ons Gansie-skaakleerders het die afgelope naweek aan die Curro Winter Open 2026 deelgeneem.

Laerskool Gansbaai
WE SHOULD HAVE STAYED LONGER

WE SHOULD HAVE STAYED LONGER

Just two hours from Cape Town lies a coastline of rugged beauty, ancient landscapes, marine wildlife and small-town hospitality.

Saxon Lodge
See All Articles