LSG Kultuuraande
Op Donderdag, 30 Oktober en Vrydag, 31 Oktober was dit weer tyd vir Laerskool Gansbaai se jaarlikse Kultuuraande, waar toppresteerders van vanjaar se Eisteddfods hul talente kon deel. Met die tema en storielyn, "Gansbaai gaan groot" as 'n deelnemer aan Kwêla se Dorp van die Jaar (storielyn geskryf deur juf Carina Brown), is die gehoor op reis geneem deur Gansbaai met verskeie tonele wat afgespeel het by o.a. Wimpy, Afrikanos, OK Foods, Vodacom, die strand, biblioteek, regdeur tot by 'n saaldiens van die skool.
Met Marius Collins (Rian) as Kwêla-aanbieder , Esmé Collins (Lize) as fotograaf en Stefan Badenhorst as aankondiger op die planke, is LSG se kultuursluise oopgedraai en het die talente uitgestroom! Gedigte, dialoë, solosang, blokfluit, kitaar, klaviersolo's en duette, Gr 7-ensemble sanggroep, kooritems (met solis Jan-Dawid du Plessis, deskant Hanro Coetzer, dromspeler Mia de Klerk, kitaarspelers Stiaan Fourie & Krige Kotze as deel van begeleidingspan saam met Annatjie Smit), ConGrazia se Jnr- & Snr-balletgroepe, sowel as die Poco Musica-orkes, was dit 'n aand van uiteenlopendheid en genoeg humor!!
Die aand is afgesluit met 'n pragvertoning deur die trompoppies o.l.v. (Sheene Kemp) wat vir die eerste keer in jare weer flinke LSG-voete deur die saal laat weerklink het !!
Baie geluk aan een en elkeen - ons is opgewonde om die groeiende talent te volg!














