Die lekker daarvan

Vir die gesoute hengelaars is hierdie geskryf onnodig. Wel, onnodig omdat hulle sal weet waaroor dit gaan  -  maar ek dink ook hulle sal saamstem, en hopelik saamvoel soos die storie ontvou. Daar word heel dikwels geskryf oor die genot van hengel, maar kom ons vat dit punt vir punt en kyk of ons die leek ook die “gevoel” kan gee.

Kom ons gaan hengel vanaf ‘n boot. Dis baie opwindend wanneer klein vis geteiken word en ‘n grote onverwags met jou lyn op loop gaan, maar hierdie keer soek jy geelstert! Jou “tackle” sal volgens omstandighede verskil en sal daarvolgens voorberei moet word. En dis waar die verwagting en die opwinding begin. Is jy nie bedrewe met die geelstertvangery nie is die uitdaging soveel groter en die afwagting soveel temeer. Die tyd gaan te stadig verby.

 Jy is uiteindelik op die water en terwyl jy tussen die ander bote beweeg sien jy net blinklywe soos die manne die vis aan boord bring. Die vis loop grondlangs en jou lyn is korrek voorberei. Jy begin sommer bewe, wat gaan jou stop om vandag die grotes aan boord te kry?

Dan kom jy agter jou storie werk nie, jy kry nie eers’n byt nie! So bietjie steel met die oog vertel jou jou sinker is te lig en jy maak reg. Dan volg die verwagte byt maar jy skrik jou steeds yskoud.  Jou lyn breek en daarna volg die strop ook. Hierdie visse is gróót.

Om jou lê al ‘n paar massiewe geelbekke. Weer moet verander word  --   jou swaarste lyn, ‘n ordentlike hoek en ‘n baie groot sinker is binne oomblikke gereed (oorgretige en bewende hande, ten spyt) en laat sak die water in. Om soveel geelbekke agter te wees maak jou so bietjie paniekerig.

Dan gebeur dit. ‘n Geelbek gryp jou lyn en as hy met jou aas wegspring is dit ‘n goeie ding dat jy nie hartmoeilikheid het nie. Nou het jy darem vertroue in jou gereedskap en met mening begin jy die lyn intrek. Dit moet ‘n monster wees want dit gaan swaar en die vis wil niks weet nie! Maar jy weet ook dat daar nie gespeel moet word met hierdie visse nie. Trek vir trek kom die geelstert nader. Jou hart bons en jou asem jaag. Die monstervis  het geen genade nie en jy is bang hy gaan wegkom. Dis dalk jou enigste vir die dag  --  dit moet asb. nie gebeur nie! Jy sukkel maar tog kom die vis nader. Die ander manne se gedoentes maak nie nou saak nie, jy konsentreer met elke haal en jou oë bly genael op die water wanneer jy die vis die eerste keer sal sien. So gaan dit met elke bietjie lyn gewen en eindelik, eindelik breek hierdie pragtige geelbek die oppervlak en nou moet hy oorboord getel word. Wanneer die geelbek naby genoeg is word die lyn stewig vas gevat en dan volg die volgende hartstilstandslag  --  gaan jy hom nie nóú verloor nie? Die harde slag volg en die vis spartel in die boot. Jy het hom! Met ‘n gesukkel en gebewe word die vis losgehaak van die hoek en weggebêre. Dan skielik besef jy, daar is mos nog! Aas aan en lyn oorboord, daar is nog baie opwinding voor. Ai, is dit nie lekker nie?!

Groete, Seemeeu