Agt bene is te veel

Hoekom moet ‘n spinnekop juis agt pote hê? En sprinkane, koringkrieke en krieke ses, met nog ‘n klomp orige stekels ook? Hulle lyk tog nie mooi daarmee nie; allermins. En dan het hulle twee klein, listige, blink ogies wat heel uit proporsie is met hulle lywe. Ook nie mooi nie.

My renons – sagkens gestel – kom sekerlik van die dag toe ek as vierjarige die paar stukke hout uit my arm op die stapel gepak en die geitjie wat in die pad was, se binnesouse in my oog gespat het. Anders het ek geen logiese verklaring nie. ‘n Mens is nie sommer vir die lekkerte grillerig vir insekte nie; hulle is kleiner as jy en behoort geen bedreiging in te hou nie.

As kinders is ons gewaarsku teen die knopiespinnekoppe wat in strooibale wegkruip, sprinkane, vlermuise en krieke  wat ‘n mens se hare koek. Toe ‘n sprinkaan dus eendag in my hare beland, was ek histeries. ‘n Kriek het een aand landingsplek op my gesig gesoek toe die Colemanlamp wat aan die balke in my ouerhuis se kombuis gehang het, vir hom te warm was. Nie alleenlik het dit my vrees vir vlieënde insekte subiet geanker nie, dit het ook veroorsaak dat ek tot vandag toe briesend raak as iemand – al is dit selfs ‘n kleinkind, heel onskuldig – in my gesig of op my kop tik.

My (nou) man het deeglik met hierdie fobie van my kennis gemaak toe hy een aand ewe speels ‘n kriek na my gegooi en ek heeltemal koekoes geraak het. Só, dat ek suikerwater moes kry en my ma hom verbied het om dit ooit weer te doen.

Tydens my eerste swangerskap, met hormone wat soos kortsluitings deur my lyf aan’t hardloop was, poog hy een aand, terwyl ek voor die wasbak staan, om my uit die swartgallige bui te probeer kry.  Ongelukkig kies hy ‘n tikkie op my wang vir hierdie opheffende projek. Heel instinktief en sonder enige voorbedagte rade, gryp ek die pragtige vleismes met die marmeragtige handvatsel, wat ons as trougeskenk gekry het en kap na hom daarmee. Wie die grootste geskrik het vir die “doef” op sy borskas, het ons nooit agterna bespreek nie. My onkeerbare huilbui het egter sommige van die hormone hulle lê laat kry en ek glo hy het heimlik ‘n besluit ter oorlewing geneem oor sy taktiek.

Met tyd groei ‘n mens genadiglik vinniger as jou vrese, maar ‘n spinnekop met dikker en hariger bene as ‘n “daddy-long-legs” vul my steeds met ‘n gril wat vir ure bly sit. En die gevoel van harige pote oral op my lyf wat my laat bokspring en krap, lank na die konfrontasie.

Met ons permanente skuif na Kleinbaai was dit reënspinnekoppe, met of sonder reën. Al wat my man en kinders nodig gehad het om te sê, was: “Ma, kom kyk gou hier.” Dit was genoeg om my te laat rittelriel waar ek ookal was of waarmee ek besig was. Tot hul groot vermaak, die sonde!

Die goed het selfs nie respek vir die Woord gehad nie. My oog het sy beweging gevang terwyl ek op die bed gesit het met die oop Bybel. Hy was groot, aan my kant van die bed en toe ek gil, hys hy hom hoog op sy agt pote, reg vir spring.  Met my histerie-dans bo-op die bed en sy wiegende lyf, sou ‘n leek dink ons dans in sinchronisasie. Toe my man hom ewe liefies probeer kry om op die hare van die besem te klim – hulle is glo ‘n aanwins, vang vlieë – duik ek onder die komberse in. Ek het hom glad nie geglo toe hy sê hy het hom buite gaan sit nie, maar ter wille van my eie gemoedsheling moes ek my maar daartoe dwing.

Heelwat later die nag, toe ek in die skemer en-suite toilet sit met die nood wat ek al heelnag inhou, sien ek hom sit. Dis hy! daar op die oop Keur wat op die grond lê. Sy pote is steeds wyd gesprei, reg vir spring. Ek skuif knypend en in angssweet verby kamer toe en skakel die lig aan.  Lewensgroot sit Ta daar; in pikswart drukkersink as deel van die illustrasie by die titel van ‘n kortverhaal! 

Carine Badenhorst