My redakteur het by ‘n paar geleenthede sy wenkbroue gelig tydens die deurlees van my kopieë vir plasing. As litirêre digter was my woordgebruik sporadies vir hom ‘n sooibrand-oomblik. Dit het ek agtergekom sommer met die eerste keer toe hy my oor die telefoon gevra het: “Watse woord is dit hierdie?” Aanvanklik het ek verduidelik en uiteindelik maar bes gegee met die twyfel wat maar nie uit sy stem wou verdwyn nie. “Verander dit maar na jou goeddunke.”
Elke keer wanneer ek dus ‘n my-woord gebruik het, het ek verwag dat die foon sou lui. Al het dit dan tog nie gebeur nie, het ek steeds geweet wat in sy kop aangegaan het. En dit was bevestig wanneer ek die plasing in die koerant gelees het en my woorde verander was. Ewe skielik was dit vir my ‘n vreemde geskrif; dit was nie wat ek geskryf het nie.
Die keerpunt het gekom by die woord “mooituin” wat sonder my medewete verander was in “mooi tuin.” Daar bestaan nie so ‘n woord in die woordeboek nie, verduidelik hy. Dis twee verskillende begrippe, verduidelik ek; mooituin in hierdie konteks, is iets soos ‘n sielstuin – wat sekerlik ook nie ‘n woord was wat mens in ‘n Afrikaans woordeboek sou kry nie, maar ‘n begrip wat heel verstaanbaar verduidelikend was. ”Mooituin” was genadiglik die wit vlag.
Die vorming van nuwe woorde is ‘n toelaatbare vryheid vir skrywers. Audrey Blignaut gebruik “ons laat ons bepommel,” “dit druk my tot dunpap” en “soos ‘n ander mens lekkergoed of biltong of ‘n smolletjie teen sononder soek” om maar net ‘n paar te noem uit haar bundel Die Plesierboom. Dit is dus maar ‘n geslaglyn-ding, hierdie nuwe woorde wat ons maak. Dit is deel van die Strandveldse woordkultuur wat in ons vassteek.
Ook Andre P. Brink maak hom in Anderkant die Stilte “skuldig” aan onnaspoorbare woorde. “...hare, onegalig met ‘n kombuismes afgeherm.” Eintlik is ek glad nie ‘n Brink-leser nie. Sy soms blatante kruheid vermeng met die litirêr-genialiteit van sy styl, verwar my. Wanneer ek dan regtig ‘n poging aanwend om my hogere Afrikaans op te knap en ek lees woorde soos afgeherm raak, kry ek so ‘n warmte van lekkerkry in my. Dit laat my sommer verbeel ek kan die hele boek deurwurg op soek na nog sulke vrye woorde. En hoe meer ek daarvan vind, hoe groter my respek.
Toe ek onlangs heel toevallig op die elektroniese weergawe van ‘n Graad tien tot Graad twaalf Afrikaans handboek afkom, het ek my verstom aan dit wat die leerders aangebied word. My eie Afrikaans handboek in Matriek het gelyk soos Afrikaanse Woordelys en Spelreëls en die enigste genres waarin ons skryfvernuf getoets was, was met opstelle en briewe. Vandag word kinders geleer en getoets in bykans elke skryf-genre waaraan ‘n mens kan dink. Dit vergoed vir die gebrek aan ellelange lyste van idiome, versamelings, sinsbou, spelling en korrekte gebruik van leestekens wat ons destyds ingedril is.
Kyk ek na die kriteria van Afrikaans Ekspo vir Leerders kom ek eers werklik tot die besef watter vaardighede deesdae in skole aangebied word. Hoe absoluut wonderlik sou dit gewees het om hierdie kennis in my hoërskooldae te kon opdoen. Indien ons destyds enigiets meer met Afrikaans wou doen as om dit te kon praat, luister en in die algemene omgang te kon skryf, moes ons verder gaan leer. ‘n Klein persentasie van matrikulante is gelukkig genoeg om die formele werkarena te betree, maar vir die minder gelukkiges is daar soveel moontlikhede om tog nog ‘n eie inkomste te genereer.
Alhoewel leerders aangemoedig moet word om kreatief te skryf, met die oog op moontlike toekomstige selfversorgendheid, moet hulle egter ten sterkste vermaan word teen die gebruik van bargoens, koeterwaals en jargon. Verengelsing, bende- en groeptaal is nie verkoop-Afrikaans nie. Die gesonde gebruik van nuwe woorde is egter aanvaarbaar en verleen ‘n unieke element aan die skryfstyl van ‘n outeur. ‘n Mens kan net raai dat Audrey se pommel ‘n verbuiging is van “pommade” en Andre se afgeherm afgelei is van “hermiet” gedagtig aan die haarstyl van iemand wie se hare met ‘n kombuismes afgesny is.
Nuwe woorde is ook nie omdraaiwoorde nie. Niemand gaan uitwerk dat kepser eintlik “respek” en kilkam eintlik “maklik” is nie.
Carine Badenhorst