Spore

Terwyl ek met die eb van die gety langs Uilkraalsmond se strand stap, bemerk ek ‘n ry spore aan die landkant van my eie koerslyn. Vaste, kaal voete in nie-nat-nie-droog sand.  Dis nie ‘n draf- of hardloopspoor nie, maar daar is ‘n drif in die hak se neersit en in die effense terugkrul van die tone met die optel van die voete. ‘n Entjie verder aan sluit hondespore by die mensspore aan en raak dan saam in die deurdrenkte sand aan die waterkant van die rivier weg. Die prentjie wat ek in my kop vorm is van ‘n baas wat iets na sy hond gooi aan die watersoom gooi, dan vir hom fluit sodat hulle deur die rivier kan stap na die oorkantste wit sand.

Spore het stories, of dit rieel is, of ‘n verbeeldingsvlug van ‘n onbetrokke toeskouer, maak nie saak nie.  Dit laat my onthou van die aand toe die Ovambo op my oom se Suidwesplaas uitasem aan die agterdeur gehamer het om te sê dat daar iets onder die beeste in die veld is. Hoe dit gebeur het dat ek ook in die bak van die DKW jeep beland het, weet nugter alleen. Die Ovambo was met die sterk soeklig voor op die jeep, my oom agter die stuur en soos Nefie langsaan, gewapen met hul gewere. Eers was dit baie opwindend, maar toe die manne die spoor van ‘n groot kat vind en dit volg, het ek begin klappertand.  Almal soek en kyk vorentoe, maar sê nou die dierasie spring van die sykant of agterkant af agter op die bak, daar waar ek oop en bloot sit?  Die ekspidisie het niks opgelewer nie en ek het heelhuids anderkant uitgekom. 

Op die einste Suidwesplaas was ‘n waterpan nagenoeg vyfhonderd meter van die opstal af. Daar is die spore van die verskillende wildsoorte wat op die plaas was aan ons uitgewys en moes ons dit getrou gaan nateken. Teen skemeraand kon ons na die uitkyktoring  gaan om die diere te  besigtig en dit aanteken op ons spoorblaaie.  Dit is soos ons as kinders vakansie gehou het: leer-leer.

Elke aardling het sy eie spoor en as mens dit fyn ontleed, verskil elkeen s’n binne sy eie groepering. As kind vind ‘n mens ‘n spoor om na te volg in die voorbeeld van jou ouers, alhoewel jy natuurlik totaal onbewus is daarvan. Die emosionele, materiële en intellektuele spore van die ouers is op ‘n baie jong ouderdom die kind se enigste, onwillekeurige verwysingsraamwerk.  Daardie spoor is in die vormingsjare die boustene wat gaan bepaal of die kind se huis op sand of rots gaan staan wanneer hy volwassenheid bereik. Dit is die sement van dissipline en respek wat die stene aanmekaar moet hou en dit is die waterpas wat gaan bepaal of die kind ‘n regop, stabiele muur gaan wees, of ‘n skewe, wankelrige een.

Ouers is een of ander tyd die helde in hul kinders se oë. Sonder dat hulle werklik ‘n besef het van implikasie, vertrou hulle dat hul ouers se voetspore die enigste en regte pad is om te volg. Wanneer hulle in die skool kom, neig hulle agter die spoor van onderwysers aan. ‘n Paar jaar later verkies hul tree vir tree die spoor van hul portuur. In die totale verwarring van tienerwees dwing hulle dwars en agtertoe om in hul eie spore te kan stap, want dit is hul eie identiteit waarmee hulle worstel.  En jy as ouer moet die geduld van Job aan die dag lê, jou woorde versigtig maar ferm kies, baie liefde gee, self teruggaan in tyd om te probeer verstaan, maak asof jy wel verstaan en baie bid dat die kind tog net die spoor weer vind. Die spoor wat jy gelaat het in die vaste vertroue dat dit vir hom of haar op die regte lewenspad sal hou.

Elke spoor wat ‘n mens trap het een of ander invloed, maar terselfdertyd moet ‘n mens nugter genoeg wees om te besef ‘n spoor is iets wat jy agterlaat. Dis nooit voor jou nie; dis ook nie iets wat jy kan optel, restoureer en weer plant nie. Sal ons dan nie maar mooi besin voor  elke tree wat ons gee, gedagtig aan die spoor wat dit agterlaat nie?

Carine Badenhorst