Die Munisipaliteit Overstrand het Woensdag (28 Mei 2014) ‘n begroting vir die 2014/15 finansiële jaar van net onder R1 miljard goedgekeur.
In die volgende finansiële jaar word ‘n inkomste van R821 miljoen verwag, terwyl daar R870 miljoen aan die bedryf van die munisipaliteit en R98 miljoen aan kapitaalprojekte bestee sal word.
Die tekort op die begroting word deur tegniese voorsienings vir waardevermindering op infrastruktuur veroorsaak en daar word ‘n klein kontantsurplus aan die einde van die jaar verwag.
Buiten vir enkele nuwe tariewe wat op die tarieflys bygevoeg is, bly die voorgestelde verhogings wat huishoudings raak, steeds soos in die konsepbegroting aangedui, 15 persent op eiendomsbelasting, 7,8 persent op elektrisiteitsverbruik en 6 persent op water, riolering en vullisverwyderingsdienste.
Die eiendomsbelasting op besigheidspersele en plase is ook 15 persent, terwyl daar geen verhoging op die belasting van onontwikkelde persele is nie.
Die impak hiervan gaan wees dat huishoudings met ‘n medium verbruik (huis ter waarde van R2,5 miljoen, voorafbetaalde elektrisiteitsverbruik van 800 kWh en waterverbruik van 25 kl sowat 8,77 persent oftewel sowat R228 meer per maand sal moet opdok.
Huishoudings met ‘n lae verbruik (huis van R1 miljoen, voorafbetaalde elektrisiteit van 350 kWh en waterverbruik van 15 kl) gaan 7,81 persent of sowat R109 meer per maand betaal.
Deernisgevalle wat op die lewenslynverbruikstelsel is, kan verwag om sowat R22,50 meer per maand te betaal, wat ‘n styging van 6,22 persent op hul rekeninge is.
Onder die tariewe wat gewysig of ingebring is, is permit- en lanseringsgelde vir bote wat seebamboes kollekteer en daar word onderskeid getref tussen Overstranders en besoekers met die bootpermitte en lanseringsgelde vir sowel rekreasionele as kommersiële vissers.
Daar is ook wysigings wat die vereistes en tariewe vir begraafplase betref, en by biblioteke word die internettariewe geskrap, die tarief vir afskrifte verhoog en ‘n onderskeid getref tussen fondsinsameling en ander gebruike wanneer biblioteeksale gehuur word.
By eiendomsadministrasie sal daar voortaan ‘n aansoektarief van toepassing wees wanneer mense eiendom van die munisipaliteit wil koop of huur, maar dit sal nie van toepassing wees op sportliggame en staatsinstellings nie.
‘n Tarief is ook ingestel vir wanneer opleidingsorganisasies en sportliggame ‘n saal wil huur vir enige ander doeleindes buiten fondsinsameling. ‘n Tarief vir die huur van kantore by die munisipaliteit buite Hermanus is bepaal, asook ‘n tarief vir die huur van onontwikkelde standplase wat van dienste voorsien is.
Ondanks hewige kritiek wat die Munisipaliteit Overstrand se konsepbegroting vir 2014/15 op verskeie plekke tydens openbare vergaderings uitgelok het, is slegs veertien formele kommentare en besware van die publiek ontvang, onder meer van mnr Daan Oosthuizen en die Kleinbaaise Belastingbetalersvereniging.
Dit wil voorkom of daar met die kommer oor die omvang van die salariskomponent van die begroting saamgestem word. Die munisipaliteit sê dat hy ernstige aandag aan salarisse en lone moet gee en dat dié proses as ‘n saak van dringendheid gehanteer sal word.
Geringe verandering is wel aan die salariskomponent aangebring nadat die topbestuur tot ‘n kleiner verhoging ingestem het as waarvoor daar begroot is en daar ‘n besparing voorsien word by die res van die amptenare weens vakante poste.
Kleinbaaise Belastingbetalersvereniging se siening dat die 15 persent verhoging in eiendomsbelasting onredelik is, word beantwoord met die stelling dat eiendomsbelasting met toegewings tydens vorige verhogings agtergeraak het en daarom aansienlik aangepas moes word. Die middelklas word wel in ag geneem deurdat die verhogings op die tariewe van dienste tot die inflasiekoers beperk is.
‘n Algemene stelling dat Overstrand se tariefverhogings van die hoogste in die land is, is verwerp. ‘n Vergelyking is gedoen tussen vyf Wes-Kaapse munisipaliteite wat dienste op ‘n soortgelyk vlak lewer en daar is bevind dat Overstrand se tariewe in lyn is met die ander. Boonop word uitgawes tot die been gesny, volgens die Begrotingsverslag.
Die ander kommentare het na spesifieke tariewe verwys of na kwessies soos die instandhouding van strate, wetstoepassing, doeltreffendheid en produktiwiteit, asook plaaslike ekonomiese ontwikkeling.
SSMA/Fanie Krige