Dankie Pappa

Etlike  jare gelede vra iemand my om ‘n penskets van my pa te skryf en dit in te skryf vir ‘n kompetisie.  My onmiddellike gedagte was dat ek hom net onthou as ‘n vreeslike kwaai man en dit is nie kompetisie-materiaal nie. Agterna het ek skuldig gevoel en by die tafel gaan sit met ou fotos en ‘n notaboek.

Vir die oorgrote deel van my lewe het ek gedink my pa was miskien net té streng en dat dit dalk die rede was waarom die Here hom so vroeg van ons af weggeneem het. Hy was nie ‘n man van baie woorde nie; dus, wanneer ons sy wense en opdragte verontagsaam het, sou hy ons net een keer daaraan herinner.  Daarna is die Bybelse tugtiging toegepas. Selfs die keer toe ek in die laaikassie se laai gaan sit het en die lampie met Cresolene omval en ek my gaar verbrand het daarmee, was ‘n deeglike loesing my nie gespaar nie.

My pa was ‘n stil, streng en pynlik netjiese man. Tydens hulle wittebrood by De Kelders Hotel in ‘n driestuk pak klere en  das. By die huis sou hy nooit sy khaki klere aantrek mits die voue op die broek en moue nie op presies diesefde plek ingestryk was nie.  Die bruin leergordel, skoene en die band om sy khaki hoed is elke aand gewaks en -poleer; iets waarmee ons vanaf skoolskoentyd by hom aangesluit het.

Pappa het ons na oomTheart se skoenwinkel in Napier se hoofstraat geneem, waar ons skoene volgens maat gemaak is. O, die reuk van vars leer, teer en gom! Hy het ons ook aan die einde van elke skoolvakanssie na oom Jan “Barber” se barbier-winkel geneem en ons vir die pyniging van ‘n stomp nekhaar-knipper beloon met tuisgemaakte  heuningkoek-lekker uit die glaspot op die van oom Koos “Dwerg’ se winkel.

Die naasbeste kennis wat ek van my pa ontvang het, was ‘n waardering vir die natuur.  Hy het ons opgelei in die waai van die winde en watter reën dit bring, die kommetjie van ‘n sekelmaan en die ekstra flonkering van die sterre as aanduiding van verwagte weersomstandighede. Die aanwesigheid van miere, skoenlappers, motte en muggies het hul eie natuurstories. Ons het geleer hoe om tuin te maak en hoe om plantsiektes en peste te voorkom en uit te roei met natuurlike, huishoudelike produkte.  Hy het ons geleer hoe om viskoppe te eet, van die haakgraatjie van ‘n harder en aangedring daarop dat Mamma vir ons die snoekpens inskep.

As dogtertjies moes ons hard werk, maar  Pappa was baie beskermend. Laphoede en langmoue was ons “uniform” om in hoogsomer die lorrievrag hout stal toe te dra sodat hy dit kon stapel, of wanneer ons hom moes help om die huis en waenhuis te kalk. Wanneer hy ons solder toe gestuur het, was hy altyd op die derde laagste sport, net vir ingeval. Hy het ons in die waenhuis toegelaat om te sit en kyk hoe hy allerhande soorte herstelwerk doen.  Asof hy besef het ons sou in die nie te verre toekoms,  net ‘n huis vol vroumense wees.

Pappa was ‘n wit-of-swart mens – iets wat ek baie beslis by hom geërf het, want ek kom ook nie maklik by die grys deel uit nie. Hy was ‘n stil, sterk man wat nie suinig was met sy kennis nie. Ook nie met sy liefde nie. Dit wat hy ons uit ‘n manlike oogpunt kon leer, het hy onbaatsugtig en geduldig gedoen.  Bo alles was hy ‘n man van God en ook ten opsigte van sy geloof en die Bybel was daar geen grys areas nie. Vir daardie voorbeeld eer ek sy nagedagtenis nog elke dag.

Dit is ironies dat ek vandag woon waar my pa op die dag van sy dood sy geliefde vislyn in die water gehad het -  op Gansbaai se hawemuur.  Toe hy ons die aand kom nagsê, was daar hy ‘n lelike wond aan die vliesie tussen sy een duim en wysvinger waar ‘n vishoek hom gehaak het. My allerlaaste woorde aan hom was: “Pappa moet dat Mamma daai plek toedraai; ‘n mens kan doodgaan daarvan.” 

En tot vandag toe dring ek daarop aan: my pa het gesê die snoekpens is myne!    

Carine Badenhorst