Rooi Lipstiek Dag

In die grou van winter sien ek rooi. Warmte, uitdaging, passie, oorwinning, energie, avontuur, impulsiwiteit. Dis ‘n waaghalsige kleur wat ‘n mens sommer lus maak om mal dinge te doen. Vir Chinese beteken rooi “goeie geluk” en voor die verwestering het Chinese bruide in rooi getrou. In Indië is dit steeds die voorkeurkleur vir bruide omdat hulle die kleur aan reinheid koppel.

Maar rooi het ook ‘n negatiewe invloed. Indien mens visueel te veel daarvan inkry, kan dit aggressie aanwakker, dit kan jou irriteer, ongeduldig en obstenaat maak en ‘n ongesonde begeerte in jou wakker maak. Rooi, anders as wat die handel en media dit vertolk, is nie die Kleur van Liefde nie. Dit is wel die kleur van ‘n wellustige en passievolle tango met ‘n wildvreemde man in die dofverligte agterstrate van Buenos Aires. Pure waaghalsige plesier in ‘n rooi rok en rooi lipstiek!

Die eerste lipstiek is deur Mesopotamiese vroue ontdek toe hulle halfedelgesteentes verpoeier het en dit aan hulle lippe gesmeer het. Dit is opgevolg met die Egiptiese weergawe van ‘n sekere swam wat hulle met chemikalieë gemeng het, maar dit, het hulle gou uitgevind, lei tot siektes onder vroue. Die moeder van betroubare en verleidelike lipstiffies was Cleopatra, met haar vindingryke eksperiment om ‘n karmosyn-kleurige kewer te verpulp en dit met ‘n basis van verpulpte miere te meng. Later is visskubbe verwerk tot ‘n perlemoeragtige poeier wat met die rooi pulp vermeng is om ‘n glansende lipsmeer te verkry.

‘n Arabiese kosmetoloog het hierdie smeer vervolmaak deur dit ‘n geparfumeerde rolletjies te vervaardig en dit in vorms te pers. Die Middeleeuse Europa was hierdie nuwe oordadigheid geensins goedgesind nie. Dit is deur die kerk verban en hulle het dit etiketteer as kosmetiek vir prostitute. In die sestiende eeu het Koningin Elizabeth I egter tot die redding gekom deur die ekstrak van rooi plantmateriaal met byewas te meng. Dit was egter beperk tot gebruik deur  adellike vroue en manlike akteurs. In 1770 is ‘n wet in Brittanje gemaak dat ‘n huwelik tot niet verklaar moes word indien daar bewyse ingedien kon word dat die bruid voor haar huwelik skuldig was aan die dra van lipkleur.

Dit was die Franse kosmetoloog, Guerlain, wat teen die einde van die negentiende eeu die grimering-vensters oopgegooi het vir vroue regoor die wêreld. In 1884 vervaardig hy ‘n uitdagende rooi lipsmeer van bokvet, kasterolie, byewas en skaalinsekte (Cochineal) wat op kaktusse leef. Tydens die Tweede Wêreldoorlog was rooi lipsmeer en –stiffies algemene gebruik. Ek kan my net voorstel hoe die manne se gedagtes geloop het wanneer hulle van die front af gekom het en begroet is deur warmrooi, smeulende lippe van vroue, meisies en minnaresse!

My ma was glad nie ‘n vrou vir grimering nie, maar in een van die boonste klein laaitjies van die laaikas in haar kamer was ‘n bloedrooi lipstiffie; een wat sy aangekoop het toe sy in die oorlogtyd in die Volkshospitaal in die Kaap verpleeg het. Ek kan net een geleentheid onthou waarheen sy dit gedra het: na tannie Elize, haar jongste suster en toe reeds ‘n oujongnooi, se troue. 

Natuurlik het dit vir my en Sus gepla totdat ons ‘n stoel nadergesleep het om dit in die hande te  kry. Dit het, van pure ouderdom, geruik en gesmaak soos Guerlain se galsterige bokvet en kasterolie, maar die kleur! O, die kleur was soos geen rooi nog ooit was nie; nie eens die blinkrooi, gekoopte Kersboom-stringe wat die laaste Kersfees ons ou, handgemaakte Rise Krispies-boks-stringe vervang het nie. Ongelukkig vir ons was dit ‘n stiffie wat hom nie van water en seep laat onderkry het. Mamma was met haar tuiskoms van die werk af geensins geïmponeer deur twee dogtertjies met lipstif van onder hul neuse tot op hul kenne nie.

Die samelewing verklaar herdenkingsdae en bewustheidsdae vir enigiets denkbaar op die planeet. Waarom het niemand nog besluit op ‘n Rooi Lipstiek-dag nie?  ‘n Vlamrooi lipstiffie doen iets vir die gemoed; dit verkwik die siel. My rooilipstiekdag is  4 Oktober. Nie omdat dit my eie verjaardag is nie, maar omdat ‘n wonderlike vrou saam met my verjaar het. Ant Sophie, self nie in die gemakstoel van die lewe nie, se raad wanneer ek knieserig van gees was, was altyd: “Sit vir jou rooi lipstiek aan.” 

Carine Badenhorst