My meelkis ons hoed

Lank gelede, in die tyd toe meel nog die vernaamste kruideniers-item in huise was, was daar ‘n omie wat in die eerste persoon  gepraat – en sekerlik ook geleef -het. Dit was sý huis, sý kar, sý kos, sý bed, sý geld. Die tannie se potjie het op ‘n dag oorgekook van hierdie mý-houding. Sy druk toe vir Oompie vas, sleep hom tot by die meelkis, druk sy kop diep in die meel en gee hom ‘n deeglike loesing.

“Alles..is..mos..joune..eet..jy..nou..jou..eie..meelkis..leeg..dan..hoef..ek..mos..nie..heeldag..daarin..te..staan..en...grou..om..vir..jóú..en..jóú..vrou..en..jóú..kinders..kos..te..maak..nie!”  Elke woord ‘n hou. Gepynig, stikkend en proesend, in ‘n gewelf van meelstof, kyk die oom meewarig na haar op en vra: “Ouvrou, gee gou daar ons hoed aan, asseblief.”

As ek die kleintjies gadeslaan, het hulle ook maar op ‘n sekere stadium van hul lewetjies die mýne-virus in hulle gestelletjies, veral wanneer dit kom by nuwe speelgoed. Dit is maar een van die skaafgoed waarmee mens hulle karaktertjies moet bou om onder andere mededeelsame volwassenes uit te draai.  By ‘n alleenkindjie verg dit uiteraard ‘n bietjie langer en dieper skaaf as waar daar ‘n boetie of sussie is wat dieselfde speelgoedkis deel. Dan is daar die ander pienkvoete wat, sodra ‘n maatjie ‘n speelding in die hand het, summier besluit hy of sy wou eintlik maar daarmee gespeel het en dit uit die hand van die ander wegvat. En hulle is so oulik: soms gaan dit gepaard met ‘n subtiele storie van oorreding, ander tye sonder waarskuwing of gemanipuleerde vraag.  

Om so ‘n situasie te ontlont, is nogal ‘n tameletjie. “Gee terug of..!” is soos ‘n simptoom-onderdrukkende medisyne. Dit help miskien vir die oomblik, maar die oorsaak klou steeds vas daar waar dit nie sigbaar is nie. Dit kan óf ‘n natuurlike ontwikkelingsfase wees, óf dit kan ‘n dieperliggende oorsaak hê. Een van verskeie redes kan die verlies van ‘n ouer in die kind se lewe wees, wat hom noop om vas te klou aan al die ander goed wat syne is. Dit is die enigste en veiligste opsie wat so ‘n kind ken. ‘n Ander rede mag ook wees dat ‘n kind nooit toegelaat was om net kind te wees nie, of dat daar nooit speelgoed in sy kinderjare was nie. As dit nie reg bestuur word deur volwasse rolspelers in sy of haar lewe nie, gaan hulle dit saamdra oudag toe.

Wanneer buig ‘n mens nou die boompie weg van “mý” af na “óns” toe om daardie loesing in die  meelkis vry te spring? Wanneer begin die verpligting om te deel in alle erns? Sommiges beweer dit kom saam met die verloofring; ander vra uitstel tot met die ondertekening van die huweliksregister. Dan is daar weliswaar die persentasie persone wat vir My aanbid asof dit die goue kalf van Mammon is. Die oompies in die meelkis.

Die handtekening op die huweliksregister het aangegroei tot vier, vyf of ses met wie hulle moet deel, maar nogtans is daar mense wat nooit by “ons” uitkom nie. Tensy dit deur die ander vennoot voorsien word. Die tragedie van die meelkis-oompies (en tannies) is dat hulle hulle ‘n koue skouer gooi teen een en almal se behoeftes behalwe hul eie. Hulle leef ‘n diepgewortelde selfsug wat hulle intens ontken. Dis ‘n geestessiekte wat gewoonlik in die kinderdae ontstaan het, moontlik as gevolg daarvan dat hulle van tafelhoogte af moes werk, sonder aanprysing en aanmoediging. Dalk moes hulle toekyk hoe boeties en sussies speel terwyl hulle moes werk?  Die dag toe hulle besef dat hulle wel in die posisie is om te kan sê: “Dit is mýne” het hulle onbewustelik die besluit geneem dat niks en niemand hulle daarvan sal ontneem nie.

‘n Ou, geknoetste boomstam kan ‘n mens nie meer buig nie, maar solank as wat daar lewe in ‘n boom is, kan hy afkyk en sien sy blare is verlep en verbleik omdat hulle na onder, na die myne-stam toe dwing. En hy kan ‘n keuse maak om sy nuwe takke son toe te laat groei sodat sy nuwe, blinkgroen  blare vir almal rondom hom vreugde kan gee. Ook vir die meelkis-oompie om vir die tannie te sê: “Kom ons hang ons hoed aan ‘n tak op en sit ‘n bietjie in die koelte.”   

Carine Badenhorst