Van tyd tot tyd bevlieg ek my werkkamer met die drif van ‘n swerm skrikgemaakte perdebye. Nou! Nou! gaan ek ‘n slag ontslae raak van al die toegeplakte plastieksakkies met oorskietlappies. So kan geen mens opgaar nie. Vir wat? Om appliekprentjies te maak soos wat destyds in my kinders se kamers gehang het? Ek weet mos goed ek sal nie weer daarby uitkom nie en al dwing ek myself daartoe met die beste wil van die wêreld, is my prentjies uit die oude doos en glad nie kompeterend teen die goed wat Mammas deesdae van die rakke af koop om die kinders se kamers mee te versier nie. Waar gaan ek in elk geval die tyd kry vir prentjies maak? Die beplanningsfase is meer tydrowend as die maak en my verstand is deesdae eenvoudig te stadig. Waar ek veertig jaar gelede binne ‘n kwartier ‘n prentjie kon uitdink en op skaal kon teken, gooi die klak van die kokende ketel my konsentrasie nou totaal van my spoor af. As ek die beker koffie klaar gemaak het en dit op die tafel langs my ontwerp neersit, is my eerste gedagte: nou hoekom het ek dit nou só gedoen?
As kunstenaar weet ek mos dat mens ‘n boom aan die regterkant van jou prent sit, omdat die oog natuurlik van links na regs beweeg en dat die hoogste onderwerp regs geplaas word om die prent af te sluit. Soos ek uitvee, vorm die nuwe prent in my kop en ek begin van voor af griffel. Maar dan vertel die kreatiewe dwergie vir my ek kán mos maar ‘n landskap-toneeltjie skep waar hierdie afsluit-reël nie van toepassing is nie. Dis net daar waar ek my oorgee aan die beker koffie en myself tot orde roep. Begeesterd en opgewonde sit ek die leë beker op die klein kombuisie se toonbank neer en begin opnuut op die agterkant van my groot stuk karton teken. Ek sien die eindproduk in my geestesoog en twyfel of ek iewers stukkies geel lappies het, want geel is nie vir my lyf lyflik nie. Dan bliep die wasmasjien drie keer en my hele kreatiewe denkproses gaan hang buitekant op die wasgoeddraad. Dis die rede waarom ek keer op keer met die aggressie van ‘n neusberingde bul die lappiesgoed aanpak: daar is ‘n tyd vir alles en die tyd van lappiesprente is om verskeie redes verby. Of is dit?
Want my lappieshart raak week as ek die kleurvolle sakkies op die lang tafel uitpak. Elkeen het sy storie: ‘n spesiale geleentheid, ‘n lekkerdra-gevoel of is pasmaats van mekaar. Dit is net nie kultureel korrek om van hulle ontslae te raak nie.
Voordat my besluiteloosheid heeltemal die oorhand kry en ek alles weer terugsit, neem die sigeuner in my oor. ‘n Kledingstuk van laslappies sit vir my altyd lekker, maar meer nog, máák dit so lekker. As ek ‘n Alternatiewe Afrikaans skrywer was, sou ek myself ‘n lelike woord gegun het, maar ek is nie en in stede daarvan sal ek die skep van my laslappie kledingstukke beskryf as ‘n fukju-proses. Ek maak soos ek wil met katoen, breistof , kant en gordyngoed langs mekaar. Die enigste reël wat geld is dat die stukkies stewig aan mekaar geheg moet word. Omdat ek darem nie heeltemal so vry van gees is nie, sorteer ek dus die kleure bymekaar: ‘n blou-pers-turkoois palet; ‘n pienk-bruin-wynrooi palet; ‘n rooi-swart-grys palet volgens die huidige mode-tendens. Nadat ek honderde lappies in vorms geknip het, gee ek my oor aan die terapie van aanmekaarwerk. Buite in die winterson; saans voor die televisie of in my duffelbed terwyl die reën op die dak klater. Ek onthou tussendeur hoe ek as kind na my ouma se laslappie kussingoortreksels op die riempiesbank en eetkamerstoele gekyk het en gewens het ek kon dit in die hande kry om vir my ‘n romp te maak. En ek onthou hoe my ma haar oë gerol het toe ek dit vir haar genoem het.
‘n Mens se hele lewe bestaan uit laslappies in verskillende kleure en teksture van gebeure en emosies. Dis hoekom ek my laslappies met vreugde maak en dra: omdat dit sonder twyfel, verwyt of skaamte is wie ek is.
Carine Badenhorst